Eers was sy 10 minute laat.

Op ’n koel winteroggend in die oprit van sy huis op Parys in die Vrystaat het Adam Barnard, byna heeltemal verlam en aan ’n rolstoel gekluister, vlugtig na sy horlosie geloer.

Sy ma was nooit laat nie.

Maar op daardie dag in Junie 2017, toe sy haar sangerseun sou kom oplaai om hom vir nierdialise te neem, was Christie (61) ’n kwartier laat.

Toe kom die oproep van sy pa, Louis (nou 62), sy stem skril: “Mamma was in ’n ongeluk.”

Met bewende hande en byna geen greep op sy selfoon nie, het hy die nommer gebel wat hy by sy pa gekry het van ’n vreemdeling op die ongelukstoneel, maar dié oproep het geen antwoord gebied nie.

Toe sy vrou, Almitra (31), minute later in die oprit stilhou waar hy toe al ’n halfuur sit en wag, het hy geweet sy bring slegte nuus.

“Sy het voor my kom staan en gesê: ‘Mamma is dood,’ ” vertel Adam (33) in sy eerste eksklusiewe onderhoud ná die storms van die afgelope twee jaar.

By sy ma, Christie, wat verlede jaar in ’n motor­ongeluk oorlede is.

Nie net moes hy sy ma, sy “rots”, se skielike dood verwerk in ’n tyd dat hy op ’n nieroorplanting gehoop het nie; hy moes boonop teen ’n siekte stry wat hom verlam het.

Waar ons in die restaurant van ’n brouery op sy tuisdorp, Parys, gesels, stroom die trane oor die wange van die donkerkopsanger wat as lid van die musiekgroep Romanz bekendheid verwerf het.

Nes daardie dag van sy ma se dood verloor hy beheer oor sy emosies.

“Ek was kwaad. Ek het vir die Here gesê: ‘Een mens kan net soveel hanteer.’ En in daardie stadium het ek gevoel ek het daardie ‘soveel’ bereik. Dit was die laaste van ’n lang lys dinge wat my stukkend gemaak het.”

Soos die dag ’n paar maande tevore toe hy in ’n bleekwit Johannesburgse hospitaalkamer hoor hy het nog net ’n maand oor om te leef.

Maar sy ma se dood het hom die swaarste getref; hom byna geknak.

“Dit was die meeste seer wat ek in my lewe ervaar het,” sê hy en stoei teen die trane. “Maar wanneer jy teen die grond is, het jy net ’n enkele opsie: Staan weer op.”  

Adam en Almitra, wat hom deur alles bygestaan het.

Sterk winde ruk aan die glasdeure van die brouery waar ons Adam ’n hanetree van sy vrou en hul dogter, Carmie (2), se tuiste ontmoet.

Hy is skraal en sy welige bruin haredos is windverwaai. Hy groet met ’n warm glimlag en stap met afgemete treë terug na die tweesitplekbank waar hy netnou nog in die son sit en bak het.

Buiten die pofferigheid om sy oë en geswelde enkels is dit dieselfde Adam wat in 2011 Monaco toe gevlieg het om saam met Romanz op prins Albert en prinses Charlene se troue te sing.

“In ’n stadium het ek gedink ek sal nie weer hier sit nie,” sê Adam, sy oë vol lewe.

“Nie op dié plek of enige ander plek op aarde nie. Ek is die afgelope twee jaar deur soveel doodsvonnisse dat ek seker nie veronderstel is om nou hier te sit nie.

“Maar hier sit ek – die gesondste wat ek in twee jaar was.”

Adam het nog altyd met die seldsame aangebore toestand Bartter-sindroom saamgeleef.

Dit word deur lae kaliumvlakke en bloeddruk gekenmerk en kan die niere aantas.

“Meestal kon ek normaal leef, selfs al was ek soms siekerig,” vertel hy.

“My lewe lank moes ek versigtig wees oor alles wat ek eet en drink. Eintlik was dit ’n wonderwerk dat ek 31 gesonde jare gehad het. Ek sou nooit kon dink dié ding wat jare lank binne my liggaam gebroei het, sou my eendag by die dood laat omdraai nie.”

Hy het die eerste keer besef iets ernstigs skort met sy gesondheid toe hy in 2016 op pad na ’n optrede in Bloemfontein van Warrenton in die Noord-Kaap af skielik steekpyne kry en duiselig word.

“Ek onthou die oomblik asof dit gister was. Ek het geweet iets groots is fout.”

In die Rosestad is hy onmiddellik hospitaal toe.

“Nie lank ná die toetse nie het die dokters my hospitaalkamer binnegestap en prontuit gesê: ‘Jy het nierversaking.’ Dit was ’n slag, maar niks kon my voorberei op die storms wat nog voorgelê het nie.”

Hy lag.

Soms het ek goed gevoel; dan het ek vrede gemaak met die lewe voor ’n nieroorplanting

“Ek onthou hoe ek vir die dokter gesê het dié diagnose kan my nie keer om daardie aand ons vertoning in Bloemfontein te lewer nie. Die dokters wou niks weet nie en het my daardie dag twee vrywaringsvorms laat onderteken. Ek het dieselfde aand die vertoning gelewer. Dalk is dit te eerlik om te erken, maar dit het gevoel asof ek enige oomblik kon doodgaan.”

Kort daarna het hy gehoor hy sou lewenslank nierdialise moes ondergaan, tensy hy ’n nieroorplanting kon kry. Adam grynslag en speel met sy vingers teen sy ken.

“Ons was verpletter. Almitra was in daardie tyd swanger met ons dogtertjie toe ons skielik in hierdie onsekerheid gedompel is.

“Dit was asof ek vir die eerste keer ’n verganklikheidsbesef gehad het. Dis traumaties: Jy lê verslae in daardie hospitaalbed en besef niks kan ooit weer dieselfde wees nie,” sê Adam.

Dit was die ergste tydperk in my lewe – ’n tyd waarvan ek vandag probeer vergeet

Hy is ’n dag ná die Bloemfonteinkonsert, steeds ernstig siek, in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem. Nog ’n ramp het hom getref toe neuropatie, ’n toestand wat sy bene en arms verlam, ’n paar weke later by hom gediagnoseer is.

Dit is veroorsaak deur die gifstowwe wat weens sy verswakte nierfunksie opgebou het. Dit het die senuweepunte in sy liggaam aangetas sodat boodskappe van sy brein nie meer sy spiere kon bereik nie.

“Ek het geen ander keuse gehad as om met totale verlamming vrede te maak nie,” vertel hy. Ook by die gereelde nierdialisebehandelings moes hy aanpas.

“Soms het ek goed gevoel; dan het ek vrede gemaak met die lewe voor ’n nieroorplanting. Maar kort voor lank het die nierdialise die laaste bietjie funksie van my niere oorgeneem toe my liggaam nie meer sy eie urine kon uitskei nie. Dit was ’n gedurige wipwarit.”

Ná Carmie se geboorte op 28 November 2016 kon Adam net ’n maand saam met sy gesin deurbring voor sy gesondheid heeltemal in duie gestort het.

Trane wel in sy oë op toe hy vertel van die aand toe hy so verswak het dat hy met die maand oue baba in sy arms geval het.

’n Paar dae later is hy weer in die hospitaal opgeneem.

“Dit was die ergste tydperk in my lewe – ’n tyd waarvan ek vandag probeer vergeet. “Die neuropatiediagnose was vir my soos ’n doodsvonnis. Met tye moes ek weens infeksietellings van meer as 300 die sterkste moontlike antibiotikum drink.”

Hy het in dié tyd kort-kort sy bewussyn verloor.

“Dit was hel. Aande aaneen was ek in die hospitaal sonder om my vrou of kind te sien omdat die risiko bloot te groot was dat hulle ook kon siek raak.”

Dit het hom seergemaak dat hy nie sy dogter kon vashou nie. “In dié tyd het ek reguit vir ’n dokter gevra of ek gaan leef of sterf. Hy het gesê: ‘Adam, jy het ’n maand om te leef.’ “Ek was kwaad, seer, verpletter. My dogtertjie was net drie maande oud. Ek het met die Here gewroeg. Ek wou weet of dit die einde is; of ek werklik nou sou doodgaan.”

Eers het ’n maand verbygegaan. Toe nog een. Teen alle verwagting in het hy geleef, al was hy verlam. Toe kom die volgende vonnis: Hy sou nooit weer loop nie.

“Kyk,” sê hy en staan op. “Ek loop. Want ek het gesê: ‘Basta met almal; ek dien ’n God wat kan genees.’ Ek het aanhou glo, aanhou bid, aanhou smeek. Dit was nie maklik nie,” erken hy.

Nadat hy drie maande lank in die hospitaal was, is hy in ’n rehabilitasiesentrum behandel, maar sy gesondheid het bly verswak.

“Ek moes hoor ek sou nooit weer die gebruik van my bene of arms terugkry nie. Ek het aande omgelê en 300 keer een vinger probeer beweeg . . . en dan 1 000 keer, elke keer sonder sukses.

“Ek was moeg vir almal se verdoemende nuus en het myself ná drie maande ontslaan. Ek het geweet dit was ’n saak tussen my en God,” sê hy.

Ek was kwaad. Ek het vir die Here gesê: “Een mens kan net soveel hanteer.” En in daardie stadium het ek gevoel ek het daardie “soveel” bereik. Dit was die laaste van ’n lang lys dinge wat my stukkend gemaak het

In dié tyd was sy vrou en sy ma sy twee hande, sê Adam.

Maar toe beleef hy nog ’n tragedie. Die trane stroom oor sy wange toe hy van die oggend van 6 Junie 2017 vertel toe hy vergeefs vir sy ma gewag het.

“Jammer,” maak hy verskoning, “die seer is nog baie rou.”

Eers het hy geen onraad vermoed nie, maar later het sy pa, Louis, uit Irak gebel, waar hy ’n olieraffinadery bestuur, om te sê Christie was in ’n botsing.

Iemand het Louis se nommer op haar selfoon op die ongelukstoneel tussen Sasolburg en Parys gekry.

“Ons het nie geweet hoe ernstig dit is nie. My pa het my nog gevra om die vrou op die toneel te bel om te hoor of my ma oukei is. Ek het, maar sy het vinnig gesels en afgelui. Sy kon dit nie oor haar hart kry om vir my te sê my ma is dood nie.”

’n Paar minute later het Almitra vir hom die tyding gebring. “Sy was my rots, my steunpilaar,” sê Adam oor sy ma.

“Ons het ’n ongelooflik hegte band gehad, en ek kon die skielike verlies nie verwerk nie.

“Ek was kwaad. Kwaad dat ek ná soveel seer en terugslae ook my ma verloor het. Kwaad dat ek nie eens die fisieke krag gehad het om my vrou vas te hou en haar te druk nie. Ek was seer omdat ek soveel pyn moes verduur en het die Here gevra: Hoeveel nog?”

Van links is Adam, sy vrou, Almitra, sy ouers, Christie en Louis, sy suster, Jenske Schulze-Mes­sing, en haar man, Jacobus.

In die weke ná haar dood het hy troos gevind in die wete dat sy nie gely het nie. “Mamma was nog besig om na (die Christen-skrywer en -spreker) Retah McPherson in die motor te luister toe sy in die botsing reg van voor met my pel se pa betrokke was. Sy was met die dinge van die Here besig.

“Nooddienspersoneellede op die toneel het gesê mamma is op slag dood. Sy het nie ’n enkele merkie aan haar lyf gehad het. Sy het nog net so stylvol soos altyd in die motor gesit toe sy vir ’n stonde haar oë knip en hulle weer by die voete van die Here oopgemaak het.”

Hy dink ’n oomblik na.

Ek was vreesbevange om siek te word, maar het geweet dis wat my ma sou wou gehad het

Dan sê hy: “Dit bring vrede in ons hart dat sy op slag dood is. Sy is aardse lyding gespaar en ook haar vrees dat ek voor haar sou sterf.”

Gerugte het destyds die ronde gedoen dat sy ma vir hom ’n nier sou geskenk het, maar Adam ontken dit. In die weke voor haar dood het hy wel vir die eerste keer hoop op ’n nieroorplanting gehad. ’n Familielid het aangebied om ’n skenker te wees.

“Al die toetse was afgehandel. Ons was hoopvol, en ek was reg vir ’n nuwe lewe sonder die siekte. Maar dit was nie die Here se tyd nie.

“Toe ek die oggend in Februarie verlede jaar in die motor klim om hospitaal toe te ry vir die oorplanting later daardie dag, lui my selfoon. Iets in die toetse was foutief, het hulle gesê. Ons kon nie met die operasie voortgaan nie.

“Ons was verpletter. Maar ek het myself nie toegelaat om weer in ’n donker gat te beland nie. Ek het gebid en vir die Here gesê sy tyd is ook my tyd.”

’n Keerpunt in sy lewe was toe sy Romanz-broers, soos hy na die sangers Louis Loock, André Venter en Burgerd Botha verwys, hom in Mei verlede jaar vra om saam met hulle op te tree in ’n konsert om geld vir sy mediese koste in te samel.

“Ek was vreesbevange om siek te word, maar het geweet dis wat my ma sou wou gehad het,” sê Adam, dié keer met ’n uitbundige klank in sy stem.

“Die aand van die konsert het 4 500 mense opgedaag. En toe hulle my met my rolstoel op die verhoog uitstoot, staan almal op en klap hande.”

Die trane vloei weer.

“Asof ek iets gedoen het, staan die skare op en klap vir my hande . . . En ek sit in my rolstoel en voel so oorweldig, so nederig en ontsettend dankbaar.

“In my loopbaan voor die siekte het ek nog nooit 23 liedjies op ’n ry gesing nie, maar daardie aand het ek.”

Sy gesig straal toe hy vertel van die wonderwerke in die kleine wat in die weke daarna gebeur het.

Saam met sy Romanz-sangmaats. Van links is André Venter, Adam, Burgerd Botha en Louis Loock.

“Enkele dae ná die konsert het my vingers vir die eerste keer opgekrul. En ’n week daarna kon ek my vingers begin beweeg. Nog ’n week later kon ek weer my arms begin gebruik. ’n Maand daarna kon ek myself uit die rolstoel oplig deur op die tafel te druk.

“Ek het onlangs ’n spesialis ontmoet wat reguit vir my gesê het: ‘Adam, jy is ’n lewende wonderwerk.’ Want eers sou ek net nog ’n maand leef. Maar toe laat die Here my leef. Toe sou ek nooit weer loop nie, en nou loop ek weer.

“Nou het my liggaam al herstel tot op die punt dat ek weer kan oefen. Ek speel gholf, jag en het selfs begin draf.”

Hy het ook al ’n paar keer in kerke en op troues opgetree.

Hier waar ek vandag sit – en ook daar waar ek môre gaan wees – is ’n bewys van die lewende God wat ons dien

“Ek sal nooit ophou sing nie,” roep hy uit. Dan kraak sy tenoorstem en sy gemoed skiet weer vol.

“Mense wat nie in wonderwerke glo nie, moet net om hulle kyk. Dis hier tussen ons; ons moet dit net raaksien.”  

Deur die storms van die afgelope twee jaar was Almitra sy anker, sê Adam.

“Sy was my arms toe ek nie my arms kon gebruik nie en my bene toe ek nie kon loop nie.

“Sy het deur alles by my gestaan, en deur dié moeilike tye moes sy ook nog vir ons baba ’n ma wees.

“Ek is vir haar elke dag nog liewer as die dag tevore.”

Dit is ’n wonderwerk dat hy nog leef, sê hy.

Afgesien van die nier-dialise waarvoor hy elke week gaan, is sy lewe nou feitlik normaal. En vir die tweede keer het hy hoop op ’n nieroorplanting.

“ ’n Fantastiese vriend van my het onlangs na my toe gekom en gesê hy wil graag vir my ’n skenker wees,” vertel hy.

“Al die toetse is reeds afgehandel en ons is reeds deur die eerste paar groen ligte. Ek sal ’n nuwe lewe kry; ’n beter een as voorheen.”

Tog erken hy hy is soms bang dit kan op nog ’n teleurstelling uitloop.

“Maar dan onthou ek deur watter stormwaters ek al is.”

Ten spyte van al die beproewings wat hy deurgemaak het, beskou hy hom as “een van die gelukkigstes”, sê Adam.

“Hier waar ek vandag sit – en ook daar waar ek môre gaan wees – is ’n bewys van die lewende God wat ons dien. Dis ’n wonderwerk; een wat ek nog elke dag leef. En dís wat ek op die hart het: God is groot.

“ ’n Nuwe lewe kan binne so gou as drie of vier maande op my wag. En dít nadat ek een maand gegee is om te leef.”