Om getroud te wees, vertel Tim ­Tebow, bring hom s
Om getroud te wees, vertel Tim ­Tebow, bring hom selfs meer vreugde as toe hy en Demi-­Leigh eers ’n paar­tjie was en daarna verloof geraak het. Die twee het hul eerste huweliksherdenking in Januarie gevier. Foto: Hannah Janoe

Om in jou eerste huweliksjaar dag en nag saam vasgekeer te wees terwyl ’n lewensgevaarlike virus in die buitewêreld verwoesting saai, kan vir baie paartjies na iets uit ’n riller klink. Of “vreesaanjaend”, soos Tim Tebow dit stel.

Maar nie vir hom nie. “Hoe ironies is dit nie om te sê nie, maar dit was die mooiste jaar in my lewe – een wat ek saam met die mooiste mens in die heelal kon deurbring,” sê die aantreklike Amerikaanse bofbalspeler en motivering­spreker oor sy en Demi-Leigh Tebow se eerste jaar saam as getroudes.

“En sy is letterlik die mooiste in die heelal!” voeg hy skertsend by oor die Suid-Afrikaanse skoonheid wat in November 2017 as Mej. Heelal gekroon is.

Nou lag die donkerkop half skaam oor haar man se gloeiende beskrywing van haar. Kort ná hul eerste huweliksherdenking op 20 Januarie is die glanspaar duidelik nog net so verlief soos toe hulle in 2018 tydens haar jaar as die heelal se heel mooiste begin uitgaan het.

View this post on Instagram

A post shared by Tim Tebow (@timtebow)

Toe hulle in die vroeë oggendure by ons uit hul tuisstad, Jacksonville, in ­Florida, Amerika – meer as 12 000 km ver van Suid-Afrika – vir ’n eksklusiewe aanlyn onderhoud met Huisgenoot in­skakel, hoor jy heel eerste ’n vrolike gelag opklink.

Die twee probeer die skielike lagbui met groot moeite onderdruk, maar vergeefs. Gou verkneukel Demi-Leigh (25) haar weer oor iets wat Tim (33) flussies gesê het. Dan verduidelik hulle: Die ­Amerikaanse sportster het pas ’n paar Afrikaanse frases hardop geoefen.

“Goeiedag,” sê Tim weer met sy swaar Amerikaanse aksent tot groot vermaak van sy vrou. Maar dis darem nie ál Afrikaans wat hy kan praat nie, spog hy. “Lekker!” laat hy opgewonde hoor, en dan: “Ek is lief vir jou.”

Om te kan lag – vir én saam met mekaar – het hulle in hul eerste huweliks­jaar selfs nader aan mekaar gebring, vertel Demi-Leigh.

“Is dit maar al?” vra Tim kamma afgehaal, nou in Engels.

“Jy is darem ook nie te sleg om na te kyk nie,” skerts sy. En Tim koer: “Ag, my vroutjie, ek is mal oor elke deeltjie van jou ook!”

Op hul huweliksherdenking het hy haar met 365 rooi rose verras, een vir elke dag van hul jaar van samesyn, en ’n enkele pinksterroos omdat sy “so spe­siaal” is.

Om te kan lag – vir én saam met mekaar – het hulle
Om te kan lag – vir én saam met mekaar – het hulle in hul eerste huweliks­jaar selfs nader aan mekaar gebring, vertel Demi-Leigh. Foto: Hannah Janoe

Nie eens die wurggreep van ’n wêreldwye pandemie kon ’n skadu oor hul eerste huweliksjaar gooi nie. Inteendeel, tydens die streng inperking kon hulle elke oomblik van elke dag saam deurbring.

“Dit was wonderlik toe ons uitgegaan het,” sê Tim. “En toe ons verloof geraak het, was dit ewe ongelooflik. Maar om ­getroud te wees . . . dis net soveel beter. Dis alles wat ek al ooit wou hê; sy is my grootste geskenk.”

En Demi-Leigh beaam: “Ons is gek oor die getroude lewe. Dis ongelooflik om hierdie pad saam te stap en te weet hy is hier, elke dag. Hy is mýne.”

Tog was hul eerste huweliksjaar in vele opsigte uitdagend.

“Daar was tye dat die verlange na my familie maar pynlik was,” erken sy. “Ek is soveel duisende kilometer van hulle af weg, en met geen manier om by hulle uit te kom nie, was daar tye dat jy jou oor hulle bekommer. Maar Tim het my gedra,” voeg sy by.

Sy het haar pa, Bennie, en stiefma, ­Elzabé Peters, van Potchefstroom in Noordwes die eerste keer in ’n jaar gesien toe hulle in Desember vir ’n paar weke by die Tebows in hul tweever­diepinghuis in die suide van Jacksonville kom kuier het. Haar ma, Anne-Mari, en stiefpa, Johan Steenkamp, van Sedgefield in die Wes-Kaap kon ongelukkig nie in die feestyd kom kuier nie.

“Ek het my oë uitgehuil toe hulle vertrek het,” vertel Demi-Leigh oor die afskeid van haar pa-hulle en sy klink opnuut hartseer. Maar saam met die hartseer het ’n nuwe besef gekom: Al is die verlange na haar mense en haar geboorteland soms pynlik, is haar lewe nou hier.

“Daar word mos gesê jou huis is waar jou hart is,” sê sy. “En dís waar. My hart is net hier, langs my man.”

Toe sy net meer as drie jaar ­gelede in ’n sneeubedekte New York aankom, het sy haar vergaap aan die stad met sy ­magdom wolkekrabbers en woelige strate.

Die stad wat nooit slaap nie was vir die “doodgewone meisie van Sedgefield”, ’n skilderagtige dorpie langs die Tuinroete, oorweldigend. Sy is die vorige aand as die mooiste in die heelal gekroon en het ure later – in die vroeë oggendure – met ’n straler vanaf Las Vegas op die John F. Kennedy-lughawe geland.

“Dit was ’n behoorlike skok vir my ­sisteem,” vertel Demi-Leigh. “Ek onthou hoe ek ’n oomblik lank stilgestaan en ­gedink het: Alles is skielik so oorweldigend. Ja, ek het ongelooflik bevoorreg ­gevoel en was ontsettend dankbaar vir die geleentheid. Maar ek was maar skrikkerig vir die alleenheid in die vreemde.”

Nooit sou sy daar in haar woonstel in die hartjie van Manhattan kon dink dat dié vreemde land vir veel langer as haar kroningsjaar haar tuiste sou word nie.

Ons eet gereeld kosse wat my huis toe laat dink: kapokaartappels, gebraaide hoender, bredies en boerekosse soos soetpampoen.

“Nou is dit darem nie meer so oorweldigend nie, nè?” vra Tim.

“Glad nie,” sê Demi-Leigh. “Maar daar is ook iets anders aan die suide en aan die stad waarin ons nou woon. Baie van ons tradisies stem ooreen, en ek sien ­dikwels ooms en tannies hier wat my her­inner aan die mense in Suid-­Afrika.

“O, en ons eet gereeld kosse wat my huis toe laat dink: kapokaartappels, gebraaide hoender, bredies en boerekosse soos soetpampoen.”

Gelukkig het hulle ná hul troue verlede jaar tyd gehad om hul voete te vind voor dit duidelik begin word het die co­vid-­19-pandemie sou wêreldwyd amok saai.

“Ek dink baie paartjies sal dink dis vreesaanjaend om in jou eerste huweliks­jaar skielik saam vasgekeer te wees – en sonder ’n opsie om êrens heen te vlug,” sê Tim en lag.

En vir hulle?

“Dit was hemel!” roep hy uit. “In gewone tye, wanneer die wêreld nie so op sy kop gekeer is nie, is daar gedurig dinge wat ons besig hou: my lewe as sportman, Demi se model- en motiveringswerk en die stigting waarby ek en sy betrokke is.”

The Tim Tebow Foundation fokus onder meer op minderbevoorregtes en kinders met spesiale behoeftes. Dit ­beveg ook mensehandel en seksuele uitbuiting aanlyn.

Al het hulle deur die stigting na ander bly uitreik, was Tim en Demi-Leigh nes baie ander mense wêreldwyd verplig om ’n tyd lank binnenshuis te bly en net noodsaaklike reise aan te pak.

“Ons kon ’n hele jaar net saam wees en aan ons huwelik bou. Eintlik was dit ’n groot geskenk, ” sê hy.

'My hart is net hier, langs my man,' sê Demi-Leigh
'My hart is net hier, langs my man,' sê Demi-Leigh. Foto: Hannah Janoe

Pleks van fokus op die vrees oor die ­impak van so ’n pandemie, het hulle daarop gefokus om ander te help.

“Ons het die geleentheid gehad om deel te wees van groepe wat duisende mense bygestaan het in die moeilikste tyd van hul lewe: party met ’n pakkie kos, ander met die woord van die Here en ­ander met boodskappe van hoop en motivering,” vertel Demi-Leigh.

“En natuurlik lê kinders met spesiale behoeftes my ontsettend na aan die hart. Almal weet van my sussie, Franje, en haar dood in 2019. Sy’s vandag nog my held. Dis vir haar en in haar eer dat ek baie van hierdie dinge doen,” sê sy oor haar halfsussie uit haar pa se tweede ­huwelik wat sonder ’n serebellum gebore is. Franje was 13 toe sy dood is, sonder dat sy ooit kon loop, praat of self eet.

Wanneer die lang dae sonder kontak met die buitewêreld vir Demi-Leigh of Tim te veel begin raak het, het hulle mekaar opgebeur.

“In hierdie huis het ons ’n slagspreuk: Elke dag is ’n nuwe geleentheid om te leef, regtig te lééf,” sê sy. “En dis elkeen van ons se verantwoordelikheid om dit aan te gryp sodat die lewe nie by jou ­verbygaan nie.”

Al is haar lewe saam met Tim soos iets uit ’n sprokie, verdwyn die verlange na haar land en haar mense nooit nie. Dit bly vir Demi-Leigh belangrik om Afrikaans te praat wanneer sy kan, soos met haar ­ouers se onlangse kuier.

“Ek moet sê om skielik nie meer elke dag Afrikaans te praat nie lei daartoe dat dit soms sukkel-sukkel gaan. Dis nie dat ’n mens vergeet nie, maar dit is asof dit moeiliker kom.

“My grootste vrees is om my aksent te verloor. Tim weet ek stoei hard daarteen om nie soos ’n Amerikaner te klink nie – ek bly ’n Suid-Afrikaner in murg en been, basta!”

Sy en Tim was ’n jaar gelede laas in Suid-Afrika toe hulle op die La Paris-­wynlandgoed naby Franschhoek getroud is. Toe die jaar weg van die huis net te lank begin voel, het sy die “grootste geskenk” gekry: ’n besoek van haar pa en stiefma.

“Ons was eintlik deur die hele proses bang dat hulle nie sou kon kom kuier nie,” vertel Demi-Leigh. “Ons het oorspronklik kaartjies vir later in Desember vir hulle bespreek, maar dis toe gekanselleer en vervroeg. Ek het natuurlik nie gekla nie; ek het twee weke langer saam met my ongelooflike ouers gekry.”

Wat sê Tim van sy skoonmense se lang kuier? Hy lag. “Ek is versot op hulle. Hoe kan ek nie wees nie? Hulle is dan my mooiste se ouers; hulle het haar gemaak.”

Ook Demi-Leigh praat met groot waardering van haar skoonouers, Robert en Pamela, wat net ’n hanetree van hulle op ’n plaas woon.

“Ek het die grootste respek vir hulle. Daar is geen manier wat jy nié vir hulle kan lief wees nie. Hulle is wonderlike mense wat my dadelik omhels en my met liefde toegegooi het in die maande wat ek nie ’n drukkie van my eie ma of pa kon kry nie.”

Al is Demi-Leigh se ouers aan die ander kant van die aardbol, kry haar ma, Anne-Mari, “altyd ’n manier om vir haar te wys sy is daar in die gees”, vertel Tim.

“En ons weet nie hoe sy dit regkry nie!” val Demi-Leigh hom in die rede. “Hier kom kort-kort ’n brief of ’n pakkie of ’n bos blomme aan.”

Al het die coronavirus haar verlede jaar van haar ouers weggehou en haar en Tim grootliks ingeperk, het 2020 ook vele vreugdes bevat. Hulle het saam ’n herehuis van meer as R40 miljoen op die ­gesogte Glen Kernan-landgoed gekoop, én hulle het drie honde aangeneem.

“Ag, dis eintlik ’n storie met ’n hartseer begin,” vertel Tim. “Net maande voor ons die honde aangeneem het, is my geliefde hond Bronco dood weens ouderdoms­verwante siektes. Hy was nege jaar lank my beste maat.”

Toe hulle verlede Maart hoor van Paris, ’n Dalmatiese hond, wat ’n nuwe tuiste soek, het hulle besluit om haar by ’n diereskuiling te gaan haal.

“Toe ons uitvind sy is doof, wou ons haar éérs hê,” sê Tim. Dan por hy sy vrou aan: “Maar vertel eers wat was die plan!”

“Eintlik sou ons net vir Paris oplaai,” begin sy. “Maar ons kon dit eenvoudig nie oor ons harte kry toe ons ook vir Chuck en Kobe sien nie,” vertel sy oor onderskeidelik ’n jong Bernse sennenhond en ’n golden re­triever. “Toe laai ons hulle maar in die motor en vat hulle saam huis toe!”

Al was Demi-Leigh ’n jaar gelede met haar troue in
Al was Demi-Leigh ’n jaar gelede met haar troue in Suid-Afrika en al verdwyn die verlange na haar ouers en haar taal nooit nie, is Amerika nou haar huis – want dis “waar haar hart is”. Sy en Tim het verlede jaar ’n huis van meer as R40 miljoen in Jacksonville, Florida, gekoop. Foto: Hannah Janoe

Dís een van die redes waarom hy haar so liefhet, sê Tim. “Jou hart, my lief, is groter as dié van enigiemand anders wat ek al ontmoet het.”

En in daardie hart is daar sekerlik oorgenoeg plek vir ’n hele kroos . . .

Vra jy: “Wat van kinders?”, antwoord hulle “Ja!” asof uit een mond.

Weer lag die twee. “Ek sien in ons toekoms baie klein Timmys en Demi’s hier rondhol,” voorspel Tim.

Die Here het ons al op wilde, onvoorspelbare avonture geneem, en as Hy dink die tyd is reg . . . jong, dan is die tyd reg.


“Demi-Leigh sal die perfekte ma wees. Sy beskik net oor daardie moederlike ­instink; sy hoef nie eens te probeer nie. Jy moet haar sien wanneer ons met die honde op my ouers se plaas gaan kuier. Kom die beeste na aan hulle, kry sy amper ’n oorval. Haar moederinstink skop onmiddellik in.”

Tog is hulle nie haastig om met ’n gesin te begin nie. “Dis beslis in ons toekoms; ons albei weet dit sonder twyfel,” sê Demi-Leigh. “Maar nes ons daarvan seker is, voel ons albei ook sterk daaroor dat die tyd nie nou reg is nie. Maar dan moet ons ­seker ook bieg: Die Here het ons al op wilde, onvoorspelbare avonture geneem, en as Hy dink die tyd is reg . . . jong, dan is die tyd reg.”

Vir eers wil hulle op hul “ander babas” fokus, soos hulle van die vele projekte praat waarmee hulle besig is. Tim is gretig om na die bofbalbaan terug te keer nadat sportbeserings hom in die laaste weke van die 2018-seisoen en weer aan die einde van die 2019-seisoen daar weggehou het. Verlede jaar is sportbyeenkomste weens die pandemie afgestel.

Hy is ook die skrywer van ’n nuwe kinderboek, Bronco and Friends: A Party to Remember, waarmee hy ’n bemarkings­toer wil onderneem. Met dié storie oor sy geliefde hond wil hy kinders aanmoedig om hul unieke eienskappe te omhels.

“Die wêreld kan maar sukkel, maar ons is ál meer passievol daaroor om geloof, liefde en hoop te bring na dié wat dit nodig het. Dis die doel van my boek en van my werk by die stigting,” verduidelik hy.

Ook Demi-Leigh, wat voor haar kroning as Mej. Suid-Afrika ’n B.Com.-graad in sakebestuur en entrepreneurskap aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom behaal het, het groot planne vir 2021. Sy wil haar eie onderneming vestig, maar nie nou meer daaroor verklap nie.

Verder wil die egpaar selfs nog meer aandag aan Tim se stigting wy. Veral Demi wil sterk fokus op die stryd teen mensehandel ná haar eie noue ontkoming tydens ’n kaping in Junie 2017 in Randburg, Johannesburg.

“Ek onthou nog hoe ek onmiddellik uitgeklim en vir hulle gesê het om net my kar te vat en hoe hulle my toe by die kar probeer inboender het. Ek kon gelukkig weghardloop, maar ek het maande daarna nog soos ’n maklike, swak teiken gevoel, asof ek die probleem was.”

“Ek was eers skaam om daaroor te praat,” erken sy, “maar nou weet ek dis bemagtigend om my storie te deel.”

Bang wees en skaam wees is nie meer deel van haar lewe nie, veral nie met haar “Amerikaanse hunk” aan haar sy nie, soos sy self na Tim verwys.

“Ek het vir haar gesê: Ek is ’n goeie Christenman, maar laat iemand aan haar raak . . . hulle sal met my te doen kry,” sê Tim beslis.

“Sien jy?” lag Demi-Leigh. “Hy’s nie sommer net ’n mooi gesiggie wat vir my grappies lag nie. Daarom is ek so ongelooflik lief vir hom.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe