Kort-kort word ons onderbreek deur iemand wat nader staan om hom te groet. Vir elkeen het hy ’n breë glimlag, vriendelike woorde en ’n ferm handdruk.

Vir ’n oomblik is dit dan asof hy op ’n ander plek is – ’n plek waar toeskouers weer met ingehoue asems die vlug van die bal volg terwyl dit ál kleiner word teen die blou hemel . . . Maar dan is daar nie die triomfantelike brul van die skare wanneer die bal deur die pale seil nie – die aanhanger stap weg van ons tafel.

Die oomblik is verby. Die glimlag vervaag van sy gesig soos die eggo’s van die skares se juigkrete wanneer die Liefling van Loftus terugkeer na die harde werklikheid: sy ontboeseming aan Huisgenoot hier in ’n restaurant in Pretoria ná vyf maande, eintlik vyf jaar, van terugslae.

Want vandag maak dié voormalige held van Suid-Afrikaanse rugby sy hart oop oor die skandale, seer en swaarkry sedert sy roemryke loopbaan veels te gou deur ’n besering kortgeknip is.

Derick en die sangeres Nádine, met wie hy al sowat 20 maande lank in ’n verhouding is. Hy sê hy droom steeds oor ’n huwelik met haar.

Oor hoe sy eens perfekte lewe uitmekaargeval het; hoe hy die afgelope tyd byna die mense verloor het vir wie hy lief is.

Met roerende eerlikheid sê Derick Hougaard: “Die ergste van alles is dat ek vir die meeste dinge wat die afgelope vyf maande verkeerd geloop het niemand anders as myself die skuld kan gee nie.”

Hy skud sy kop. “Ek was die afgelope vyf maande ’n absolute idioot. Ek het myself versuip. Drank was nog nooit vir my ’n probleem nie, maar in die laaste vyf maande het ek gedrink tot ek omval en nie meer reguit kon loop nie.”

So byna het dit veroorsaak dat hy die een mens verloor wat hom deur al sy donkerste dae bygestaan het; die een mens wat altyd daar was vir hom: sy sangeresmeisie, Nádine.

Hy vat ’n sluk uit die glas voor hom. Dis Kola Tonic en sodawater. G’n druppel hardehout nie. Want dié belydenis van vandag is maar een tree op die 36-jarige Derick se herstelpad.

Die voormalige wonderkind van die Blou Bulle en Bokke wil sy lewe regruk soos soveel vriende en aanhangers al gesmeek het. Die afgelope vyf jaar was daar talle laagtepunte op sy pad.

Terwyl Derick sy verhaal vertel, kan jy die erns op sy gesig sien, maar dit is wanneer hy oor rugby praat dat hy behoorlik straal. Foto: Fani Mahuntsi

In 2011 is hy tydens ’n wedstryd vir sy Britse klubspan op ’n draagbaar van die veld gedra met ’n geskeurde achillestendon. Dit was die traumatiese einde van die loopbaan waarvoor hy so hard gewerk het.

In die leemte wat dit gelaat het, is depressie by hom gediagnoseer en het hy aan slaappille verslaaf geraak. Hy sukkel steeds om baie dinge te verwerk: die dood van sy dogtertjie weens ’n miskraam, sy traumatiese egskeiding van die sangeres Karlien van Jaarsveld in 2015 en die feit dat hy soggens wakker word sonder dat hul tweelingseuntjies (nou 5) oor hom klouter.

Dit alles was vir hom pynlik.

Maar dis veral in die afgelope vyf maande – nadat sy kinders ná ’n vernederende openbare voorval einde verlede jaar van hom weggeneem is – dat hy beheer oor homself verloor het. Voor dit het hy selde gekuier, vertel hy.

Daar was ook die motorongeluk toe hy glo dronk bestuur het.

Derick ontken hy was dronk, en bloedtoetse het later gewys hy het nie alkohol in sy bloed gehad nie. Volgens Derick is hy nooit aangekla nie en het daar tot dusver niks van die saak gekom nie.

Derick se kar ná sy ongeluk verlede November. Hy ontken bewerings dat hy dronk bestuur het.

Omdat hy twee jaar gelede laas ’n voltydse werk of noemenswaardige inkomste gehad het, het die balju aan sy deur begin klop. Van sy noodsaaklike rekeninge kan hy lankal nie meer betaal nie.

Ná die vierde operasie aan sy achilles-tendon in Desember het sy dokter die slegte nuus oorgedra: Die skade aan sy enkel is onherstelbaar.

Boonop is permanente postharsingskuddingsindroom weens die talle harde duikslae op die rugbyveld toe by hom gediagnoseer. Dié sindroom behels verskeie simptome wat ná ’n harsingskudding maande of selfs jare kan draal. Dit sluit hoofpyn en depressie in.

Met elke nuwe terugslag het hy ál meer troos in die bottel gesoek. As dit nie ’n glas hardehout was nie, was dit ’n skopdop wat ’n aanhanger saam met hom wou drink.

En toe, net weke gelede, bars die jongste bom: Nádine (37), sy meisie van die afgelope sowat twee jaar, betrap ’n beskonke Derick laatnag saam met ’n vreemde blondekopvrou in ’n Pretoriase kroeg.

Sy het ’n slapende Derick daarna saam met die blondekopvrou in ’n hotelkamer aangetref.

Die vrou is ’n bemarkingsassistent in haar 20’s wie se naam aan Huisgenoot bekend is. Foto: Verskaf
Nádine het Derick en die blondine saam met wie hy die vorige aand in die Protea-­hotel gekuier het die oggend van 16 Maart gaan soek en hulle albei in ’n hotelkamer gekonfronteer. Foto: Verskaf

“Daar het geen verneukery daardie aand gebeur nie,” beklemtoon Derick. Nou lig hy sy ken op.

“Ek het rock-bottom getref . . . Maar wanneer ek nou daarna kyk, was dié laagtepunt die beste ding wat met my kon gebeur het. Dit het my geruk en my oë oopgemaak. Ek het besef dit is nou die tyd om om te draai. Dit is nou die tyd om reg te maak.”

Toe die gesprek vlugtig na sy gloriedae op die rugbyveld draai, straal Derick. Hy glimlag breed terwyl hy mymer oor die Loftus Versfeld-skares wat uit volle bors Liefling sing wanneer sy goue skopvoet die telbord laat rol.

Oor die vreugde om die Curriebeker saam met sy Blou Bul-spanmaats omhoog te lig. Oor hoe spesiaal dit is om die Springboktrui oor jou kop te trek.

Maar selfs toe, op die gereelde en lang vlugte oor internasionale tydsones, het hy ’n slaappil geneem om seker te maak hy slaap en kom nie moeg aan die ander kant aan nie.

Die slaappille het destyds geen langdurige impak op hom gehad nie, want hy het dit op die speel- en oefenveld uitgewerk, sê hy. Ná sy skielike uittrede weens sy besering was daar niks meer wat sy adrenalien laat pomp en “goedvoelhormone” afgeskei het nie, vertel hy.

“My gemoed het dag ná dag agteruitgegaan. Mense het vir my gesê dis depressie, maar ek wou dit nie glo nie.”

Foto: Fani Mahuntsi

Slaap het hom ál meer ontwyk. Weens die slapelose nagte het sy angstigheid toegeneem. In 2013 het hy hulp gaan soek en is depressie by hom gediagnoseer.

Slaappille, onder meer, is vir hom voorgeskryf. Hy het ál afhankliker van slaappille geword en erken hy het naderhand tot 10 op ’n dag gedrink.

“Dis ’n mental ding. Jy raak saans angstig, want jy weet jy gaan weer nie slaap nie. Dan sluk jy maar ’n paar pille en kry hierdie rustigheid oor jou.

“As jy dit nie kry nie, gaan jy in ’n skok in. Jy kan nie soggens opstaan nie; jy kan nie funksioneer nie. Jy raak desperaat en doen als in jou vermoë om die goed in die hande te kry.”

Daar is pyn in sy bruin oë.

“Al wat ek eintlik gedoen het, was om my eie lewe te verwoes.”

Ná Karlien se miskraam, hul egskeiding en met die tweeling wat nie meer onder sy dak was nie, was dit vir Derick moeilik om sy lewe te herbou.

Al wat hy oorgehad het, sê hy, was die herinnerings aan die goeie tye saam met sy seuns. Hy het gevoel hy is nie meer goed genoeg nie.

“Lank het ek gedink ek wil so graag weer die man wees wat ek was voor ek getroud is . . . Maar om die een of ander rede was daar altyd nog ’n drama of bakleiery in my lewe. Maak nie saak wat ek gedoen het nie, my gemoed het net nooit beter geraak nie.”

Foto: Fani Mahuntsi

Einde 2016 is hy na ’n rehabilitasiesentrum vir sy depressie en pilverslawing. Lank het dit goed gegaan, vertel hy. Nie eens toe hy sy werk as kommentator by SuperSport verloor ná ’n omstrede twiet oor rugby- transformasie het hy weer begin pille gebruik nie.

Hy het by ’n geleentheidsmaatskappy begin werk, maar ná sowat ’n jaar is hy daar weg omdat hy weens sy enkelbesering nie swaar dinge kon ronddra nie. En toe, geleidelik, het Derick weer slaappille begin gebruik. Gou was hy weer net so verslaaf aan die slaappille as voorheen.

Maar die een goeie ding wat met hom gebeur het, was Nádine.

Hulle het mekaar sowat twee en ’n half jaar gelede in ’n Pretoriase skoonheidsalon ontmoet. In daardie stadium het Derick gevoel hy wil sy paadjie alleen loop, maar die mooi, innemende sangeres het sy voete onder hom uitgeslaan.

Hulle het daardie eerste dag gaan koffie drink en tot in die vroeë oggendure gesels. Nege maande lank was hulle net goeie vriende – en toe begin die liefde blom. Derick het al begin droom van ’n verlowing, troue en kinders.

Nádine het sy staatmaker en rots geword.

“Sy is ’n ongelooflike vrou. Haar waardes is rotsvas. Sulke vroue is skaars,” sê hy.

“Dit is hoekom die afgelope vyf maande my so vang . . . Sy verdien nie wat als gebeur het nie.”

View this post on Instagram

'Moments' that's what life is made of... ??

A post shared by Nádine (@nadinenet) on

Dinge het uitmekaar begin val ná daardie veelbesproke aand by die Carols by Candlelight-konsert op Loftus die afgelope Desember.

Aanvanklik was almal vrolik. Derick se seuns sou die daaropvolgende 10 dae by hom en “tannie Nellies” – soos hulle Nádine noem – in Pretoria gekuier het.

Tuis was daar reeds Kers- en verjaardaggeskenke vir die tweeling onder die boom. Maar eers sou hulle daar op Loftus vir tannie Nellies op die verhoog sien.

Op Loftus het Derick gevoel dinge loop weer reg vir hom. Hy het immers die vooruitsig gehad dat hy binnekort weer in sy voormalige rugbytuiste sou intrek – dié keer as skopafrigter van die Bulle.

“Ja, ek het daardie aand te veel gedrink,” erken hy. “Maar my kinders was veilig. Daar was heeltyd vir hulle toesig.”

Een van die seuntjies het moeg geword en Derick het hulle na ’n hotel langs die veld geneem waar hulle onder ’n kombers op ’n bank geslaap het met Derick langs hulle.

Nádine het Karlien en haar ma, Ronel Brink, laat weet die kinders is veilig en ’n foto aan hulle gestuur, sê hy. Toe hy weer sien – so vertel Derick – kom Ronel, in die hotel ingestap en vat die seuns nadat Karlien vroeër in die sosiale media om hulp gevra het omdat Derick glo met die kinders “verdwyn” het.

“Ek word nou nog wakker met die nagmerrie van daardie aand. Ek kan nie die beeld uit my kop kry van hoe my kinders van my weggeneem word nie. Dit was die aakligste ding om te ervaar,” sê hy.

Ná die herrie is sy pilverslawing en ander foute in die sosiale media uitgebasuin. Daarmee kon hy nog saamleef, sê hy. Hy het stilgebly en sy houe gevat soos sy ouers hom geleer het.

Maar dit is vir hom pynlik dat hy sy kinders sedert daardie aand nog net een keer weer gesien het. Hul verjaardag- en Kersgeskenke wag steeds onoopgemaak in Derick se huis.

View this post on Instagram

Daai smile van jou..... ?? #11mnde #mauritius

A post shared by Nádine (@nadinenet) on

“My kinders is my nommer een. Wanneer ek hulle bel, vra hulle my wanneer ek hulle kom haal . . . Ek kan hulle nie in dié stadium face nie, nie voor ek myself eers uitgesorteer en beter geraak het nie. Dit breek my hart om hulle nie elke dag te kan sien nie,” sê Derick.

“Ek droom oor hulle. Ek kyk na video’s van hulle en dink oor hoe hulle by die skool moet wees.

“Ek mis hulle elke dag.”

Sedert Desember was hy op die afdraande pad. Hy het ná die voorval by Loftus Versfeld nie die pos as die Bulle se skopafrigter gekry nie en het ál meer begin uitgaan om te drink.

Sy ouers, Riana en Bontes, van Piketberg, was bekommerd. Elke keer dat sy ma iets oor hom lees, het sy hom gebel, hom aangevat as hy verkeerd is, maar hom ook verseker hulle staan agter hom.

“In die afgelope vyf maande het ek dit oordoen met die een ding waarmee ek nog nooit ’n probleem gehad nie. Dit is heeltemal buite my karakter. Ek het die slaappille probeer los, maar met iets anders vervang. Ek sou drink tot ek van my voete af is. Ek is nie trots daarop nie.”

Sy laagtepunt was toe Nádine hom en die blondekop vroeg daardie Saterdagoggend ’n paar weke gelede betrap.

Die eerste groot fout wat hy gemaak het, vertel hy, was om die vorige middag omstreeks tweeuur al in ’n restaurant by die Loftus Park-sentrum te begin drink. Hoe later dit geword het, hoe meer het die drank gevloei.

Later is hy en ’n groepie eers van dié kuierplek ná ’n ander kroeg in Hatfield voor hulle terug is hotel toe. Die blondekop was deel van die fuiwende groepie.

“Om die een of ander rede het alles van die afgelope vyf maande daardie dag net te veel vir my geword,” sê Derick.

Hy het besluit hy was te dronk om huis toe te bestuur en wou ’n hotelkamer kry. Die blondekop het sy bankkaart gevat en ’n hotelkamer bespreek.

In die kamer het Derick in die bed geklim en geslaap. “Ek het geen intensie gehad om enigiets verkeerds te doen nie. Daar het geen verneukery daardie aand plaasgevind nie,” hou hy vol.

“Maar ek is steeds skuldig, want ek het die belangrikste persoon in my lewe die seerste gemaak wat ek kon. As ek moes sien wat sy daardie aand gesien het, sou ek dit nie kon hanteer nie . . .

“Maak nie saak hoe jy kuier nie, jy gaan in die aand terug huis toe na jou vrou toe,” sê hy.

“As Nádine vandag besluit sy kan nie meer met die verhouding voortgaan nie, is dit alles my eie skuld, want ek is die oorsaak van haar seer. Ek sukkel nou nog om myself vir daardie aand te vergewe.”

Ná wat gebeur het, werk hulle aan hul verhouding, vertel Derick, en hy hou moed. Hy droom steeds oor ’n huwelik met haar, en hy het reeds vir haar ’n diamant.

Berigte dat hy vir haar ’n R300 000-verloofring gekoop het, is ’n oordrywing, sê hy. Hy vertel daar is nog nie ’n verloofring aan haar vinger nie, want die afgelope vyf maande het skade veroorsaak.

“Nádine het al haar liggaamsgewig in trane oor my gestort.

“Dit laat my net meer soos ’n idioot voel.

“Ek het in die verlede ’n paar verkeerde besluite geneem. Maar ek sal tot die dood vir Nádine baklei. Sy verdien die heel beste. In dié stadium is ek nie die heel beste nie. Maar ek gaan terugkom en weer die man wees wat ek was. Dan gaan ek vir haar die heel beste wees.”

Derick vertel hy vermy alkohol sedert die hotelfiasko en het ook nog nie weer ’n slaappil geneem nie. Soms is die versoeking groot, soos toe ’n balju die dag ná ons gesprek ’n dagvaarding vir duisende rande aan hom bestel vir agterstallige onderhoudsgeld.

Weens sy werkloosheid die afgelope twee en ’n half jaar kon hy nie vir sy geliefdes sorg soos hy wil nie. Hy probeer hard om werk kry – selfs oorsee.

“Ek sal vloere vee as ek moet, want ambisie het ek,” vertel hy. Hy is darem pas gehuur vir ’n advertensie vir ’n haarinplantproduk wat vir hom die volgende paar maande ’n inkomste sal gee.

Hy glo die diagnose van postharsingskuddingsindroom verduidelik waarom hy so lank gespartel het met simptome soos slaaploosheid en depressie. In sy rugbyloopbaan van 12 jaar het hy 13 keer harsingskudding opgedoen, en hy besef nou dit het blywende skade berokken.

“Mense is nie gemaak om teen mekaar vas te hardloop nie.”

Tog bly sy herinnerings aan sy gloriedae mooi – die dae voor dinge so moeilik geraak het. Hy glimlag breed toe nog ’n aanhanger kom bladskud. Eens was hy die Liefling van Loftus, en iets daarvan bly. 

’n Brief aan my seuns

My liefste seuns

Ek wens ek moes hierdie brief nooit vir julle skryf nie. My lewe is van my weggeruk.

Ek mis elke klein tydjie saam met julle. Julle maak die lewe kosbaar. Julle is nou vyf en sal nie verstaan hoe lief pappa julle het nie.

Maar dit wag nog vir julle.

Die lewe is nie maklik nie, maar dit is kosbaar. Gryp elke geleentheid aan met alles wat julle het. En moet nooit wegdraai van die regte pad omdat dit moeilik is nie.

Bo alles, wees lief met alles in julle. Delf diep in jul siel. As julle die regte vrou kry, dood duisend dode om haar te kry.

Waag alles wat julle het. Moet nooit terugkyk nie. Wees trots op jul eerste heroic keuse. Dit sal jou warm en content laat voel.

Eendag gaan julle ook seuns hê. Onthou, dis jou grootste geskenk. Vertel hulle hierdie dinge.

En maak ’n man van hulle.

Moenie lewe vir geld nie.

Hê ’n paar goed, maar maak dit goeie dinge. Pas dit op.

En elke dag as julle skool toe gaan of speel of werk of net stap, weet dat pappa enigiets sou gee om elke dag in jul lewe te wees en dat julle al jul lewenslesse net by my leer.

Lief julle altyd.