Elvis sê die liedjie is as ’n boodskap vir sy kinders geskryf. 

“Ek wou graag ’n klank gee aan hoe ek oor my kinders voel. Ek het ook aan my eie ouers gedink en my ervaring van hul ouerskap in die liedjie probeer vasvang. Almal se ouers is nie dieselfde nie; party van ons het goeie ouers gehad, ander nie. Maar hoe klink die hart van 'n goeie pa? Om dit te verwoord is waarvoor ek gemik het.” 

Elvis Blue. Foto: Eon Coetzee

Elvis het sy aanhangers gevra om video's in die sosiale media te deel wat die liefde van pa's teenoor hul kinders uitbeeld en daarna honderde video's ontvang waarvan ’n paar in dié musiekvideo gebruik is.

“Wat die video so spesiaal maak is die pappas wat daarin voorkom. Hulle is nie akteurs nie; hulle is gewone mense, bloot besig om pa’s te wees. In vandag se tyd is dit vir my iets moois om te sien. ’n Pa hoef nie te lyk asof hy lief is vir sy kind nie. Hy is sommer maar net,” vertel Elvis.

En wat is vir hom die grootste uitdaging van pa-wees? 

“As jy jonk is dink jy jy gaan eendag baie goed wees met sekere goed. Tot die dag dat jy dit self moet doen. Dan besef jy hoe meer jy dit doen, hoeveel jy nog moet leer. Seker maar soos daai ou gesegde hoe meer jy leer, hoe meer besef jy hoe min jy weet. Ek dink dis vir my pa-wees!” 

My pa het integriteit. Dis ’n baie stil ding, integriteit, maar jy voel sommer dadelik aan wanneer iemand dit het.
Elvis Blue. Foto: Eon Coetzee

Ook die lesse wat hy by sy eie pa geleer het, sal hom altyd bybly. 

“My pa het integriteit. Dis ’n baie stil ding, integriteit, maar jy voel sommer dadelik aan wanneer iemand dit het. Die teenoorgestelde is ook waar.” 

En sy planne vir Vadersdag?

“Ek gaan net ’n pa wees, miskien 'n bietjie sport kyk op TV,” sê hy.