Sy is in ’n swart langbroek, swart baadjie en wit rolhalstop uitgevat en groet met ’n glimlag en ’n glinster in die oog.

Hier in die Franse hoofstad se luukse Mandarin Oriental Hotel is sy ver van haar geliefde New York. 

Die fyngeboude aktrise (22) is vandag hier vir mediaonderhoude oor die derde seisoen van Stranger Things, wat onlangs begin het.

Meer as 40 miljoen Netflix-rekeninghouers het binne net vier dae na episodes van die jongste seisoen gekyk. 

Natalia erken sy het allermins verwag die reeks sal so suksesvol wees toe sy die rol van Nancy aanvaar het. 

“ ’n Mens weet nooit; jy weet net nooit wat mense gaan dink van die goed wat jy maak nie. So, ja, dit was ’n bietjie van ’n verrassing,” sê sy opgewonde. 

Huisgenoot het met die ster gesels om meer oor haar karakter, Nancy Wheeler, en Stranger Things 3 uit te vind. 

WAT KAN AANHANGERS VAN DIE DERDE SEISOEN VERWAG? 

Dit het al die elemente van ’n lokettreffer vir die somer. 

Ek dink dis een van die dinge oor dié seisoen wat verskil van die vorige twee. 

Die kleure is helderneon; dit het hierdie anderste lokettreffer-, tienergevoel teenoor die afgelope twee seisoene, wat in ’n mate donker en herfs en onheilspellend was, meer as seisoen drie. 

Ja, dit voel taamlik anders.

HOE HET JOU KARAKTER VAN DIE EERSTE TOT DIE DERDE SEISOEN ONTWIKKEL?

Ek is heel tevrede met die tonele wat Nancy en haar ma dié seisoen het. 

Met terugskoue op seisoen een en seisoen twee was hul dinamika baie meer dié van die ma wat met haar tienerdogter ’n band probeer vorm. 

Maar, jy weet, hoe ouer Nancy word, hoe meer word sy ’n vrou, en ek dink dis so ’n lekker tyd. 

DIE REEKS SPEEL IN DIE 1980'S AF. JY'S IN DIE 1990'S GEBORE-HOE WAS DIT OM ’N TYD TE KON ERVAAR WAARIN JY NIE GELEEF HET NIE?

Die skryfwerk deur die Dufferbroers (Matt en Ross Duffer) en net om saam met almal te werk, die kostuumafdeling, die kuns­afdeling, hare, grimering, jy weet, die meeste van die mense het die 1980’s ervaar en het ’n passie daarvoor. 

As ’n aktrise wat in die 1990’s gebore is, stap jy op die stel en voel dit. 

Ek moes teruggaan en van die skrikflieks van die tyd, soos A Nightmare on Elm Street, The Goonies en E.T. the Extra-Terrestrial weer kyk. 

Daar’s altyd ’n bietjie huiswerk. Jy praat met jou ouers, blaai deur hul jaarboeke. 

Ek onthou ek het ’n parfuum gekoop wat in dié tyd gewild was toe ek op die punt was om Nancy te speel. Dit word Charlie genoem. 

Die geur was net so sterk en ek het gedink ek kan dit nie doen nie. 

Maar ek dink noudat ons in seisoen drie is, is ons almal reeds bekend met die tyd, en die karakters hoef nie meer soveel voorbereidingswerk te doen nie. 

OOREENKOMSTE EN VERSKILLE TUSSEN JOU EN NANCY?

Vreemd genoeg het ek in ’n stadium aan joernalistiek gedink; so daar’s dit. 

Ek dink ook ons albei kan ’n bietjie perfeksionisties wees (al wil ek dit nie eintlik erken nie). 

Ek voel beslis ek was die kind op skool wat groepprojekte sou oorneem, want ek sou dit op ’n sekere manier gedoen wou hê. 

Nancy is ’n bietjie meer uitgesproke en gee vir geregtigheid om. 

Ek is nie so konfronterend nie; ek is eintlik niekonfronterend. Ek is ook nie so ’n goeie skut nie. 

Omdat jy so lank met die karakters saamleef, ken jy hulle goed en daar’s altyd ’n stukkie van jou wat inherent soos hulle is. 

STRANGER THINGS HET ’N GROOT AANHANG IN SUID-AFRIKA. WAS JY AL IN SUID-AFRIKA? 

O, my genade. Nee, ek was nog nie daar nie. 

Ja, ek sou graag wou gaan. Ek hoor dis absoluut pragtig. 

Ek bedoel, dis die belangrikste, en almal sê net jy moet gaan; jy moet gaan. So ek dink ek moet beslis gaan.

AS JY JOU KARAKTER ENIGE RAAD KON GEE, WAT SOU DIT WEES? 

Moet nooit weer jou hare laat perm nie. 

Dit was ’n hele ruk vir my die werklikheid. Dit was moeilik. 

Ek bedoel ek het van iets soos April af ’n perm gehad en ek dink daar groei waarskynlik steeds daarvan uit. 

Ek was in seisoen twee opgewonde daaroor. Ek het gedink: “Lekker, ek kry volgende seisoen ’n perm”, en toe lyk ek soos ’n nat hond.  

AS JY NA ‘THE UPSIDE DOWN’ GESTUUR WORD, WAT IS DIE EEN DING WAT JY SOU WOU SAAMNEEM?

Goeiste, ek skat die een of ander wapen, of hoe? 

Wel, ek bedoel, ’n iPhone natuurlik, as jy ontvangs het. 

Die storie sou nie in die hedendaagse tyd kon afspeel nie; dit sou vinnig verby gewees het. Ja, dis moeilik, man. Ek weet nie.

WAT HOOP JY VIR DIE TOEKOMS VIR NANCY?

Ek kan Nancy bloot nie sien universiteit toe gaan nie, nie dat daar enigiets met universiteit verkeerd is nie. 

Ek dink net sy het soveel lewenservaring. 

Die joernalistiek, die ondersoekende ingesteldheid, is vir haar natuurlik. 

Ek dink sy is ’n soeker na geregtigheid, ’n soeker na waarheid. 

Ek sou ook daarvan hou om haar saam met van die ander karakters te sien of dat sy ’n band vorm. 

Sy was al by Jonathan en een van haar storielyne is met hom verweef en dis wonderlik, maar ek wil hê jy moet sien wat gebeur wanneer jy haar vir ’n ruk saam met Mike of Max of selfs saam met haar ma plaas. 

Meer vroulike verhoudings sou ook lekker wees.