Jo se vrou, Debbie, vertel Woensdag aan Huisgenoot sy herstelproses vorder goed ondanks die voortdurende pyn waarin hy steeds gedompel is.

Sy sê die dokters het Jo gemaan om minstens ses weke met bedrus te wees wanneer hy na verwagting later vandeesweek ontslaan sal word.

Tog wil die Tempo-benoemde Jo só graag weer op die verhoog wees, dat sy onseker is of dít gaan gebeur, skerts Debbie.

“Ses weke bedrus is nou wat die dokters beveel – of dit is wat hy gaan doen, sal ons eers moet sien. Ek sal maar kwaai moet wees om seker te maak dat hy nie te vroeg teruggaan werk toe nie; hy verlang so daarna.”

Die sanger het voorheen gedeeltelik die gebruik van sy arm verloor weens senuwees wat in sy nekwerwels vasgeknyp was – maar dokters sal eers later kan bepaal of die volle gebruik van sy arm vanself sal terugkeer.

Intussen ondergaan Jo fisioterapie omdat sy nekspiere baie gevoelig is ná die operasie.

“Hoewel hy maar nog baie seer het, is hy baie dankbaar dat die aanvanklike pyn nou heeltemal weg is. Ek dink hy is opgewonde om weer sy kitaar vas te gryp en hom nie oor die arm te bekommer nie,” vertel sy.

“Sy stem is ook perfek; en dis so ’n groot verligting as ons dink aan die risiko’s wat die operasie vir hom ingehou het.”

Debbie sê Jo verlang baie na die verhoog en kan nie meer wag om weer voor die mikrofoon te wees nie.

“Ek lees elke dag vir hom aanhangers se boodskappe in die sosiale media – en dit ontroer hom regtig. Hy is ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning; en dat almal hom werklik net die beste toewens.

“In hierdie stadium dink ek hy hoop dat die herstelproses kan versnel sodat hy op daardie verhoog kan klim en kan getuig van wat die Here in sy lewe gedoen het. Natuurlik is musiek ook sy grootste passie, so hy is verskriklik opgewonde om weer te begin sing.Debbie sê Jo wil aanhangers verseker dat hy binnekort weer op die been sal wees.

“Hy wil hê elkeen moet weet hoe dankbaar hy vir hulle geduld is, veral omdat ’n paar konserte nou met die operasie uitgestel is. Hy wil hê hulle moet weet hy het ’n groot storie van genade om te vertel en dat hy uit sy vel is om weer musiek te maak. Die belangrikste is dat aanhangers weet hoe hul boodskappe van medelye hom aanraak.”

  • Jo Black is vanjaar vir twee Tempo-toekennings benoem. Stem nou vir jou gunsteling-sterre en jy staan 'n kans om 'n vet kontantprys, twee vakansies en 'n R3 500-koopbewys te wen.