In die eens lowergroen tuin ritsel die bruin winterblare vandag in die oggendbries. Die rankplant teen die hoë mure van die huis is deesdae ’n kleurnuanse van oranje en geel; in die voortuin het die oggendryp ’n vyeboom van al sy blare gestroop.

Dis hoogwinter in die Hoëveld, maar vir die akteur en motiveringspreker Hykie Berg (41), veral bekend vir sy rol as dr. Conrad Bester in die kykNET-sepie Binnelanders, is vandag – nes elke dag die afgelope jaar – ’n lentedag.

In Hykie se lewe is daar nie meer ’n koue seisoen nie. Hy blom, en dís danksy die aantreklike blondekop wat hom in sy eie wintermaande opgetel en weer op warmte laat hoop het.

“Sy het my lewe heeltemal kom verander. Ek is vir haar ontsettend lief,” koer Hykie oor Gerridene de Vries (29). Hy is ná sy egskeiding vroeg verlede jaar deur ’n hartseer tyd.

Maar toe kom die blonde “lentebries” – en sy waai al die seer en bekommernis uit sy lewe. “En nou gaan die winter vir altyd wegbly,” sê Hykie. Want net verlede maand, op Saterdag 22 Junie, het hy die jong prokureur ná minder as ’n jaar saam tydens ’n wegbreeknaweek in Hoedspruit die jawoord gevra – en Gerridene se dawerende “ja” het teen die bergrante weergalm.

“Ek het in trane uitgebars,” sê Gerridene, “dalk omdat ek dit glad nie verwag het nie. Elke oomblik daarvan was perfek.”

En Hykie merk so ewe laf op: “Ek moes haar sewe keer vra, maar ek het elke keer nog nie ’n ring gehad nie. Ek het sommer gou geweet ek wil met hierdie enetjie trou,” sê hy, en die twee staar liefderik na mekaar.

“Dis sý wat vir my liefgeraak het in ’n eensame tyd toe ek nie geweet het of ek ooit weer so lief kan hê nie. En nou weet ek ek kan, want sy is alles en meer as waaroor ek ooit kon droom.”

Hy wou die mooi vrou aan sy sy vroeg vanjaar nog teen die kollig beskerm, onthou Hykie vandag hier waar ons in Westdene in Johannesburg kuier. Daarom het hy in Januarie aan Huisgenoot verklap: “Sy is ’n lentebries in my lewe.”

Hulle laat mekaar lag – en dis een van die mooiste aspekte van hul verhouding, spog Hykie. Foto: Luba Lesolle

Maar nou wil hy Gerridene, wat hy verlede jaar in ’n gim ontmoet het, met die wêreld deel – en sommer vir almal vertel hoe lief hy haar het.

“Ek wou haar nie dadelik aan die aandag van die publiek blootstel nie; veral nie terwyl ons verhouding nog jonk was nie. Dit was lekker om haar vir myself te hou, maar nou is ons gereed om die wêreld hand aan hand aan te pak.”

Vergete is die jare toe Hykie met ’n drank- en dwelmprobleem gewroeg het – die sewe keer dat hy in ’n rehabilitasiesentrum beland het omdat hy telkens in sy ou gewoontes verval het.

Saam het hulle ’n nuwe lewe – een vol betekenis – geskep, en dis waarom Hykie haar om haar hand gevra het. “Ek het lankal besef sy is die een,” sê hy.

“Daarom het ek haar oor en oor gevra om met my te trou; jy weet, sommer grappenderwys. Ek het gehoop sy sê dalk ja.” Haar ouers se goedkeuring was vir haar belangrik, vertel Gerridene.

“Ek het elke keer vir hom gesê: ‘Oukei, maar het jy my ouers gevra?’ ” En dan stap Hykie telkens sonder ’n antwoord weg . . . Maar op 17 Junie vertel Hykie toe vir Gerridene hy gaan ’n pel op die lughawe groet, iemand wat glo daardie dag op pad na die buiteland is.

“Man, ek was ’n bietjie skelm. Ek moes iets sê sodat sy nie onraad vermoed nie. Toe ry ek na haar ouers, Adolf (51) en Vanessa de Vries (51), net buite Johannesburg om hulle te vra of ek met Gerridene mag trou.”

Die akteur sê Gerridene het sy lewe “heeltemal verander”. Foto: Luba Lesolle

En hy het hulle lankal reeds met sy sjarme oorrompel, sê hy en knipoog. “Ons het ’n wonderlike verhouding. Hulle wou weet hoe ons meer tyd vir mekaar gaan maak – maar ek het gesê ek werk die laaste maande juis so hard om vir haar die lewe te bou wat ek graag wil. En toe sê hulle natuurlik ja.”

’n Paar dae later, op 21 Junie, het die duifies vroegoggend in die pad geval. Sy het gedink hulle gaan Drakensberge toe, vertel Gerridene. Maar toe ry hulle in ’n heel ander rigting . . .

“Hy het op pad eers verklap ons gaan eintlik Hoedspruit toe. Ek het ’n rowwe week gehad; enige wegbreek was vir my genoeg.” Daar by die Moditlo River Lodge, wat aan ’n vriend van Hykie behoort, gaan hulle toe die volgende middag op ’n wildrit.

Hykie wou Gerridene teen sononder vra om met hom te trou. “Ek het gestres, want kort-kort stop ons vir ’n bokkie of ’n olifant. En intussen gaan die son onder,” vertel Hykie en lag.

By ’n dam, toe Gerridene ’n oomblik wegstap om die natuur te waardeer, het Hykie en ’n gids ’n tafel gedek en selfs vonkelwyn opgetower. “Man, en ek stres, en ek vroetel met my hande,” onthou Hykie.

Toe Gerridene omdraai, was Hykie op sy knieë. Maar sy sê nie dadelik ja nie; sy wil weer weet of hy al by haar ouers was.

“Ja, man,” sê Hykie toe. En die harde klippe sny deur sy knieë, want Gerridene is so geskok sy kan aanvanklik nie ’n piep maak nie. “Maar toe sê ek ja – en weer ja! Dit was een van die mooiste oomblikke van my lewe,” vertel Gerridene.

Ná die verlowing was dit vir haar ’n selfs groter aanpassing om aan die aandag van die media gewoond te word, bieg Gerridene.

“Ek vergeet soms met wie ek in ’n verhouding is. Vir my is hy net Hykie, die man wat ek liefhet. Nie Hykie die celeb nie. Ek moes leer om daarmee saam te leef dat iemand jou sommer in ’n winkelsentrum nader.”

Die verliefde paartjie het by die Moditlo River Lodge in Hoedspruit verloof geraak. Foto: Soif de Vivre Photography
Foto: Soif de Vivre Photography
Foto: Soif de Vivre Photography

Sy dink ’n oomblik na. “Ek moes die skerwe van my gebroke hart twee maal optel en vier jaar aan myself werk voor ek reg was om weer ’n man toe te laat.

Nou weet ek ’n verhouding beteken om alles te gee – en ek aanvaar die mense vir wie hy so baie beteken daarmee saam.”

Raak sy ooit jaloers? Hy beklee immers die 12de posisie op ’n lys van Suid-Afrika se mooiste mans . . . 

“Nooit nie. Ek weet hoe lief hy my het. Hy sê dit elke dag vir my oor en oor.” Nou is albei reg vir die volgende hoofstuk in hul lewe: die huwelik. “ ’n Skoon bladsy; ’n kans om nuut te begin. En ek sien so ongelooflik uit daarna,” sê Hykie.

Byna een jaar nadat hulle mekaar die eerste keer ontmoet het, is sy vir hom nog net so mooi soos aan die begin, koer Hykie weer.

“Joeg, man. Kyk net daai lyfie; kyk daai gesiggie. Is sy nie asemrowend nie?” Dan antwoord hy self: “Ja, sy is – baie beslis.”

Hulle is darem nie nét verlief nie, keer Gerridene vinnig. “Ons het in die laaste jaar ongelooflik baie gegroei. Ons moes leer dat ons elkeen vir ons eie geluk moet sorg. En ons sien mekaar se swakhede of leemtes en help mekaar dan groei.”

Soos dat Hykie te veel praat en te min luister, terg Gerridene, en Hykie lig speels ’n wenkbrou. Hulle het al begin praat oor ’n “gesinnetjie”, sê Gerridene.

“Hykie hoop reeds op ’n dogtertjie. Ek is ewe opgewonde, maar ons volg God se wil; ons bid baie daaroor.”

Hulle beplan ’n laatsomertroue vroeg volgende jaar. “Ons besluit nog of dit ’n groot makietie of ’n intieme geleentheid moet wees. Hoe ook al, ons wil net die beste van ons groot dag maak.”

Dan kyk Hykie na sy lentebries en sê ná ’n oomblik van stilte: “Ons is almal gewond; en ons het almal issues. Maar hierdie girl is vir my lief – net so stukkend soos ek is. Dis sý wat God vir my kom gee het, en ek kan nie wag om haar my vrou te maak nie.”