Hy vryf oor die grys stoppelbaard aan sy ken terwyl hy hom verkyk aan die twee babalyfies, elk in hul eie broeikas.

“Kyk net hoe klein; hulle is so pienk soos varkies,” sê Ian Roberts ingenome.

Die akteur het weer pa geword – en dít van ’n tweeling op die ouderdom van 67.

“Sommer met die eerste probeerslag,” sê hy en probeer ’n glimlag wegsteek hier in die hospitaalkamer van die Mediclinic Nelspruit.

Die ma van sy laatlammetjies, Francoisnette le Roux, is op 36 ’n volle 31 jaar jonger as hy, maar dit is asof hulle nog al die jare vir mekaar bestem was.

En hier is hul kroos nou: ’n seuntjie en dogtertjie, piepklein en perfek.

Klein Ian-Keith dra sy bekende pa se volle name en het 2,2 kg geweeg met sy geboorte ’n paar dae tevore. Fyn blonde haartjies bedek sy lyfie en hy maak klein kreungeluidjies toe sy ma hom hier in die hospitaalkamer optel om te drink.

Francois­nette hou hul seuntjie vas. Die babas is
Francois­nette hou hul seuntjie vas. Die babas is op 38 weke gebore. Foto: Lubabalo Lesolle

Baba Lynn-Sophie is na Ian se ouma Lynn en Francoisnette se ouma Sophie genoem. In die broeikas waar sy met pype en monitors aan haar gekoppel lê, gaap sy. Dan strek sy haar tandestokkie-­armpies tot bo haar kop uit.

Sy het maar 1,5 kg by geboorte geweeg en is nog nie gereed om huis toe te gaan nie, want sy sukkel nog om te drink.

Byname

Hulle dra groot doopname, maar pa Ian het reeds vir hulle byname gegee: Hy noem Ian-Keith “Kamma” en Lynn-Sophie “Tsitsi”, want hulle is langs die see tydens ’n vakansie in die Tsitsikamma-woud in die Oos-Kaap verwek, verklap Ian.

Maar moenie dink dit was ’n glips nie.

“Ons hét hulle beplan,” sê Francoisnette, ’n haarkapper van Lydenburg in Mpumalanga en die afgelope vier jaar die vrou in Ian se lewe.

“Dit was nou wel nie beplan dat hulle twee is nie, maar there you go,” voeg sy by, en sy en Ian bars albei uit van die lag.

Dis hoe hulle die struikelblokke in hul verhouding hanteer, sê Ian – ­lag-lag.

In die teater oomblikke nadat die tweeling hul eer
In die teater oomblikke nadat die tweeling hul eerste asemteue geneem het. Francoisnette sê haar hart voel vol. Foto verskaf

Hulle kwel hulle nie oor die toekoms of oor dinge soos die geelsug waarvoor die tweeling nou met blou ligte in die broeikaste behandel word nie. Of oor die feit dat hulle nou vir die eerste keer in hul verhouding gaan saamwoon nie – en dít as ’n ouerpaar met ’n kitsgesin.

“Nee wat,” sê Ian gelate, “ons vat dit dag vir dag.”

Op ’n ouderdom dat sy tyd­genote vir hul kleinkinders stories lees, is Ian oorgehaal vir doeke ruil en die pajamadril, al het hy dit meer as ’n kwarteeu laas gedoen.

Sy twee kinders uit sy huwelik met die aktrise Michelle Botes, Cara en Daniël, is onderskeidelik 29 en 26 jaar oud. Hy en Michelle, wat in die laat 1980’s en vroeë ’90’s saamgespeel het in die TV-reeks Arende, is in 1999 geskei.

Francoisnette is ook die ma van ’n dogter, Ava (7), uit ’n vorige verhouding.

Sy en Ian het mekaar vyf jaar gelede by ’n kunstefees op Lydenburg ontmoet toe sy musiekgroep, Radio Kalahari Orkes, daar opgetree het, maar hul liefdesverhaal het vir haar eintlik al baie vroeër begin – toe Ian as die boer en banneling Sloet Steenkamp te sien was in Arende, wat gehandel het oor Sloet se ervarings tydens die Anglo-Boereoorlog, sy tronkstraf op die eiland Sint Helena en die Dorslandtrek.

Ek was agt toe ek Ian in Arende sien en my ma roep. Ek het gesê: ‘Mamma, ek gaan met daai oom trou.’

Francoisnette was nog ’n skool­meisie toe dit uitgesaai is.

“Ek was agt toe ek Ian in Arende sien en my ma roep. Ek het gesê: ‘Mamma, ek gaan met daai oom trou.’ ”

Haar ma het gelag, min wetend dat haar dogter jare later inderdaad die akteur se aandag sou trek en dat sy hart eindelik aan haar sou behoort.

Op 16 het Francoisnette weer vir haar ma gesê sy en die man van Arende gaan nog eendag trou – en toe eers haar ma gevra wat sy naam is.

Ian as Sloet Steenkamp in die TV-­drama Arende. Fo
Ian as Sloet Steenkamp in die TV-­drama Arende. Foto: SAUK

Eers 15 jaar later, in 2014, het hul paaie by die kunstefees op Lydenburg gekruis. Die fees is gehou by De Ark, die gastehuis van Francoisnette se ma, Francis le Roux, en Ian was toe alombekend as die akteur in die TV-advertensies vir Castrol en ’n hele swetterjoel TV-reekse en flieks waarin hy gespeel het.

Francoisnette het haarself aan hom gaan voorstel.

“Ek onthou hy het my hand baie lank vasgehou, en toe ons begin stap, toe los hy dit nie. Ons het die aand baie gesels, en toe hy ry, stap ek saam met hom uit en sê: ‘Dis ’n nice kar. Wanneer vat jy my op ’n roadtrip?’

“Hy het geglimlag en gesê: ‘Time will tell.’ En toe klim hy in sy kar en ry.”

Ek het vir myself gesê ek sal sien of die electricity nog dieselfde is.

Die twee het daarna nie kontak gehad nie – tot ’n jaar later toe Ian weer op Lydenburg was vir die kunstefees. Hy het aan “daai oulike girl” teruggedink, vertel Ian nou.

“Ek het vir myself gesê ek sal sien of die electricity nog dieselfde is.”

Weer het hulle die aand lank gesels. Francoisnette het sommer reguit vir Ian gesê sy gaan eendag met hom trou, want “hy voel soos huis”.

“Dit was vars. Niemand het nog so iets vir my gesê nie en ek het dit ge-like. Die eerlikheid, en dit was sonder pretensie,” sê Ian.

Ian en Francoisnette is al vier jaar saam. Foto ve
Ian en Francoisnette is al vier jaar saam. Foto verskaf

“Ek het ná die show my nommer op sy windshield gelos met die woorde: ‘Vir as ons op daai roadtrip gaan’. En toe stuur hy vir my ’n SMS,” vertel Francoisnette verder.

’n SMS of ’n WhatsApp?

“Nee, ’n rêrige SMS. Hy’t tot onlangs geen idee gehad wat WhatsApp is nie. Hy het Facebook ‘Facetube’ genoem. Ek spot dit klink soos die love child van Facebook en YouTube,” sê sy laggend.

Ian klap met sy regterhand in die lug asof hy dié grap wil wegslaan.

“Ag, ek kan nie verstaan hoekom mense soveel tyd op die goed mors nie. Ek doen nie die internet nie,” laat hy hoor.

En so – sonder die internet of die so­­siale media – het hulle ’n verhouding aangeknoop.

“Ons is Sabie toe en het in ’n woud gaan stap,” vertel hy van hul eerste afspraak in Mpumalanga.

“Dit voel soos gister . . . Francoisnette het so ’n rooi rok aangehad, gladiator sandals en ’n handsak met Harley-Davidson-tassels, en ons het ’n bietjie gestap. Toe gooi sy haar sandale weg en loop kaalvoet. Dit was vir my fantasties.”

Ons gaan maar een moerse bed moet maak, soos ’n kraal vir al die kinders.

Die afgelope vier jaar het hulle ’n langafstandverhouding gehad en mekaar een keer per maand gesien, soms elke twee weke. Maar vandeesmaand trek Ian sak en pak van Johannesburg na Lydenburg.

“Ons gaan maar een moerse bed moet maak, soos ’n kraal vir al die kinders,” sê hy en lag. Want skielik gaan hy in ’n huis wees saam met drie kinders.

Aan die begin van hul verhouding wou Francoisnette nie haar dogter aan Ian voorstel nie.

“Ek wou eers die kat uit die boom kyk,” sê sy. “Maar die eerste keer dat hy kom kuier het, het haar pa haar vroeër kom aflaai en toe sien sy vir Ian.”

Ava wou weet wie die man is.

“Ek kon aan niks anders dink nie, toe sê ek dis Kersvader, en ons het ’n vergadering gehad om haar geskenke te bespreek.

“Nie te lank gelede nie is ek by haar skool ingeroep, want sy het almal vertel haar ma date Kers­vader,” vertel Francoisnette, en haar lag weerklink in die klein hospitaalkamertjie.

En nou nog is Ian, wat Ava betref, Kersvader.

Terwyl Francoisnette vir Ian-Keith borsvoed, maak Ian ’n geskenkpakkie van ’n vriendin oop. Dis ’n gehekelde babakombersie, en hy drapeer dit om sy lyf.

“Ons moet ’n foto neem om dankie te sê,” sê hy vir Francoisnette, en sy knik haar kop.

Ian sê hy is gereed om op 67 weer pa te speel. Doe
Ian sê hy is gereed om op 67 weer pa te speel. Doeke omruil en die pajamadril skrik hom g’n af nie. Foto: Lubabalo Lesolle

Hy onthou die dag goed toe Francoisnette hom bel met die nuus dat daar twee hartkloppies in haar liggaam is.

“Sy vra my: ‘Sit jy?’ Toe gaan sit ek maar. Toe sy my sê, was ek net bly en ons het begin lag.”

Met dié dat hy weer pa geword het op ’n ouderdom dat baie van sy tydgenote al oupa is, is die vraag onvermydelik: Hoe dan nou oor sy oudag wat nader kruip –met dié dat hy 70 sal wees wanneer die tweetjies kleuterskool en 80 wanneer hulle hoërskool toe gaan?

Ian klap eers net sy tong en mompel iets in Xhosa – ’n taal wat hy as kind op die familieplaas op Fort Beaufort in die Oos-Kaap geleer het.

“Mense vra my: ‘Have you done the maths?’ ” vertel hy dan. “En ek sê net: ‘Well, I’ve never been good at maths, so voertsek.”

“Nee, ons dink nie so ver vooruit nie,” voeg Francoisnette by. “Moes ons nou nie kinders gehad het nie, al was dit ons destiny, net omdat hy ouer is? Die belangrikste is ons moet nou voluit leef.”

Niemand in haar familie of vriendekring het al gesê die verhouding bekommer hulle nie.

“Hulle ken my, en ek was nog nooit so gelukkig nie,” sê sy.

Met die ouderdomsverskil word Ian soms vir haar pa aangesien, sê hulle.

My vriende – wel, dié wat oor is – spot net en het gelag toe hulle hoor ek word weer pa.

“Toe ons na die kraamsaal op pad was met die twee se geboorte, vra die personeel: ‘Is your father coming with? ’ Ons lag net en sê vir hulle nee-nee, hy’s my man.”

Hy was nog altyd anders, sê Ian.

“Seker maar die swartskaap; so dis wat almal van my verwag. My vriende – wel, dié wat oor is – spot net en het gelag toe hulle hoor ek word weer pa. My susters en my boetie was ook happy.

“Cara se woorde was: ‘Goed so; nou hoef ek nie kinders te hê nie,’ ” vertel hy oor sy dogter, ’n aktrise in Kaapstad.

“En Daniël het vir my ’n palmboompie met twee neute aan gestuur toe ek sê dis ’n tweeling.” Sy seun werk op passasiersbote en reis die wêreld vol.

Toe ons foto’s van die nuwe gesin neem, is Ian versigtig met die klein lyfies in sy arms.

“Hoe doen ek dit nou?” Hy kyk vraend na Francoisnette.

Sy glimlag net vir hom, al is sy groot hande lomp.

“Jy sal weer onthou. Ek leer ook weer,” stel sy hom liefdevol gerus.

Het hy al ’n doek geruil?

“Tot nou toe doen die susters hier by die hospitaal dit nog, en dan kyk ek mooi. Ek sal dit weer kan doen, ja . . .

“Ek voel so ’n bietjie soos ’n actor op ’n movie set sonder ’n rol in die movie. ’n Bietjie useless,” spot hy.

‘Ek voel soos ’n actor op ’n movie set sonder ’n r
‘Ek voel soos ’n actor op ’n movie set sonder ’n rol in die movie. ’n Bietjie useless.’ Foto: Lubabalo Lesolle

Maar Francoisnette skerm: “Hy is ’n wonderlike pa. Ek het hom mos al saam met Cara en Daniël gesien. En ek sien hoe kyk hy vir die tweetjies. Hy kry so ’n skaapagtige uitdrukking op sy gesig.”

Met daardie einste uitdrukking kyk hy na klein Lynn-Sophie. “Ek weet nie; daar is net iets aan daai gesiggie,” sê hy.

Die saamwoon sal ’n aanpassing wees, erken hulle, want elkeen is baie onafhanklik. Ian het gisteraand “sommer in die parkeerterrein” in sy kar geslaap.

Hulle noem mekaar op die naam; geen troetelname vir hulle nie. En hulle loop ook nie en hande vashou of vat-vat en voel-voel aan mekaar soos jong verliefdes nie. Maar hulle lag baie.

Ek sê nog altyd daar is fout as die ander een nie sonder jou kan leef nie.

“Sy glimlag is vir my die mooiste ding van hom, en sy frons wanneer hy ernstig raak. Ek noem hom die ‘Francoisnette- whisperer’, want hy maak my rustig. Ek sê jou mos: He feels like home.”

“Maar sy het my nie nodig nie,” las Ian by. “Ek sê nog altyd daar is fout as die ander een nie sonder jou kan leef nie.”

Tog droom hulle albei van ’n plaas iewers in die Oos-Kaap waar hy vir hul kinders Xhosa kan leer en “iets in die grond kan druk”, soos hy sê.

“Dis ín my, die plantding, die boerding. Dis soos movies maak. Ek sal op ’n movie set wees tot ek die dag omkap.”

Hy is juis nou besig om finansiering te kry vir ’n fliek waarvan hy die draaiboek geskryf het.

En trouplanne?

“Ja, dis ons plan,” sê Francoisnette. “Hy het my nie gevra nie. Hy sal ook nie, maar hy praat matter-of- factly daaroor.” En nee, hulle is nie bekommerd oor die slapelose nagte of dat Ian dalk sal sukkel om saam met hul kinders rond te hol nie, sê hulle weer.

Die tweeling lê salig in die broeikaste. Die monitors kondig hul hartkloppe aan wat ál rustiger word hoe langer hul pa se diep stem voortdreun.

Ian loer na sy laatlammetjies en gee ’n skewe glimlag.

“Ons vat dit dag vir dag. Al laggende.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.