Die gewilde Afrikaanse sanger Juan Boucher het onl
Die gewilde Afrikaanse sanger Juan Boucher het onlangs afgehaak toe hy met Shamodene Niemann in die Bosveld in die eg verbind is. Foto: Luba Lesolle.

Dit het alles begin met die versoek van ’n donkerkopmeisie, toe nog ’n vreemdeling, wat hy nie so lank gelede nie toevallig op ’n passasierskip in Tafelbaai ontmoet het. 

Sal hy sy liedjie “Ons word een” vir haar sing as sy die dag trou? het Shamodene Niemann gevra. Die sanger Juan Boucher was nie op sy mond geval nie en haak toe af met: “Ja, ek sal dit vir jou sing die dag wanneer jy met mý trou!” 

Min het die twee toe geweet daardie dag sou net 14 maande later op Woensdag 24 Maart 2021 aanbreek. Op Shamodene (25) se troudag het Juan (36) sy belofte gestand gedoen. Nie net het sy trefferliedjie opgeklink nie; “Ons word een” was ook die tema van hul bruilof. Die woorde het in groot, wit, verligte letters aan die voorkant van die lapa gepryk waar hul huweliksonthaal in die hartjie van die Bosveld buite Modimolle gehou is. 

Die lirieke daarvan was ook op ’n groot wit seil gedruk wat in die paadjie tussen die bruilofsgaste se stoele deur gelei het tot by die houtkansel by die Kuthaba Bush Lodge waar die seremonie plaasgevind het: Ons word een, in siel en gees / En dis daar waar ons wil wees / Ek’s gemaak om vir jou lief te wees . . .

Die woorde van Juan se liedjie “Ons word een” is o
Die woorde van Juan se liedjie “Ons word een” is op ’n wit seil gedruk wat in die paadjie tot voor by die preekstoel lê. Foto: Luba Lesolle.

Dis die einste seil waar Juan se bruid hom tegemoetgestap het. 

Teen halfvier die middag het die sowat 100 gaste hul sitplekke ingeneem. Juan en sy vier strooijonkers het heel voor gewag. Die bruidegom was netjies in ’n swart pak, wit hemp en swart das uitgevat. Die glimlag op sy gesig het afwagting en verliefdheid uitgestraal.

Die gedreun van ’n kragtige motorenjin het die aankoms van die bruid en haar vier strooimeisies in ’n oopdak-Toyota Land Cruiser-veldvoertuig aangekondig. 

Dit was die teken vir Juan en sy strooijonkers om hul rug na die gaste te draai terwyl die bruid en haar gevolg van die anderste troukar afgeklim het. 

Veertien maande nadat Juan vir Shamodene op ’n pas
Veertien maande nadat Juan vir Shamodene op ’n passasiersboot in Tafelbaai ontmoet het, het hy ’n trouring aan haar vinger gesteek. Foto: Luba Lesolle.

Intussen het die manne oor die afgrond staan en tuur na die vallei wat onder hulle uitgestrek lê.

Keith Urban se “I Wanna Love Somebody Like You” het gespeel terwyl die strooimeisies, geklee in nousluitende ligpienk rokke, in die paadjie tussen die gaste na die kansel gestap het. 

Hulle het pas hul plekke voor ingeneem toe Shamodene se stem oor die luidsprekers gehoor kon word. In haar klokhelder stem het sy haar huweliksbeloftes aan Juan voorgelees en afgesluit met: “Ek is op pad, my amper-man.” 

En toe breek die oomblik aan dat die sanger mag omdraai in afwagting op sy bruid. Hy het breed geglimlag terwyl hy toegekyk het hoe Shamodene op die maat van Chris Stapleton se lied “Starting Over” aan die arm van haar pa, Stef Niemann, na hom aangestap kom. 

Sy het stralend gelyk in haar romantiese wit New Romantics-trourok met dun skouerbandjies, laag gesnyde rug en lang spleet aan die regterkant. ’n Sleep van 2 m het haar gevolg.

Die trouringe.
Die trouringe. Foto: Luba Lesolle.
 

Toe sy haar aanstaande man soengroet, het haar hand agter oor sy rug gegly. Hy het ’n paar oomblikke diep in haar oë gekyk terwyl sy glimlag breër geword het voor hulle na die huweliksbevestiger gedraai het.

Ds. Frikkie Labuschagne van die Hervormde kerk Olifantsfontein in Pretoria het in sy boodskap die bruidspaar ’n paar rigtingwysers gegee vir hul pad vorentoe: Wees sag met mekaar; vergewe mekaar; hou aan om mekaar lief te hê; onderrig mekaar met dankbaarheid in jul hart; en vier die Here se teenwoordigheid in jul lewe. 

Kort-kort het die bruid haar kop liefdevol op haar bruidegom se skouer laat sak. Toe die predikant Juan en Shamodene tot man en vrou verklaar, het hulle hul arms om mekaar geslaan en mekaar styf vasgehou. 

Die gaste het buite gewag terwyl hulle die huweliksregister onderteken het.

Toe die bruidspaar uitgestap kom, was dit op die maat van Juan se vrolike kuierliedjie “A.G.V. Brandewyn” terwyl hande vol springmielies op hulle neergereën het. 

Op die dag van hul ontmoeting in Januarie 2020 het ’n stormsterk suidooster gekeer dat die passasierskip MSC Orchestra op sy beplande vaart uit die Kaapse hawe vertrek, maar op dié dag kon niks Juan en Shamodene keer om met hul lewensreis op hul eie liefdeskip te begin nie. 

Maar sy belofte, dit sou hy nog moes nakom . . .

‘Sussa,’ het hy gesê, ‘kom saam met my plaas toe’

Shamodene ’n persoonlike assistent van Pretoria, het nie twee keer gedink toe ’n groep vriende haar aan die begin van verlede jaar saamnooi op ’n vyf dae lange vaart van Kaapstad na Walvisbaai in Namibië nie.

Min het hulle geweet toe hulle aan boord van die luukse MSC Orchestra-passasierskip gaan dat die Kaap van Storms sy naam gestand sou doen en dat hulle dae lank in Tafelbaai se hawe vasgekeer sou wees. 

Juan was een van die sangers wat die passasiers tydens die vaart sou vermaak. Terwyl die skip in die hawe voor anker gelê het, het gemeenskaplike kennisse haar aan hom voorgestel. 

“Ek het al van sy songs gehoor, maar ek het nie eintlik geweet wie hy is nie,” erken sy toe ons ’n paar dae voor hul troue met die bruidspaar in ’n restaurant in Pretoria gesels. Sy het wel geweet hy het die 2019-treffer “Ons word een” gesing, die liedjie wat sy so graag by haar troue sou wou hoor. 

Al het Juan so ewe beloof om dit vir haar te sing op voorwaarde dat sy met hom trou, was dit nie liefde met die eerste oogopslag nie, beweer die twee. 

“Ag, hy is ’n regte flirt!” maak Shamodene sy vrypostige opmerking af.

 

Tog het die twee mekaar se geselskap ál meer daar op die skip geniet. Toe hulle die dag voet aan wal sit, het Juan haar genooi: “Sussa, kom saam met my plaas toe.” 

Dit was ’n skaapplaas in die Loeriesfonteindistrik in die Noord-Kaap waar hy aandele in die boerdery het. 

“Later het ek vir haar gesê sy moet vir my ’n huis soek. ’n Plek waar ek kan bly en skryf,” vertel Juan, wat toe ’n nomadiese leefstyl gehad en by vriende oorgebly het waar hy ook al optree. 

Hy het ’n paar oomblikke diep in haar oë gekyk terwyl sy glimlag breër geword het

Nadat hy in Pretoria nesgeskop het, het Juan op 5 Maart verlede jaar besluit dit is tyd dat hulle amptelik ’n paartjie word. Ewe romanties het hy vir haar ’n teddiebeer en parfuum gekoop en haar uitgeneem. 

Toe sê hy: “Ek weet nie rêrig hoe om dit te doen nie, maar sal jy my meisie wees?”

Hy het maar altyd ’n swerwersbestaan gevoer, “maar ná daai aand het sy my lewe ’n bietjie meer struktuur gegee”, erken hy, duidelik smoorverlief. 

Nadat hulle die inperking saam deurgebring het, het Juan geweet dis sy trouvrou dié. Terwyl hulle die feestyd saam met hul ouers op Mosselbaai verwyl het, het hy Shamodene op Kersdag die jawoord gevra. Sy het pas by ’n vakansiehuis uit die swembad geklim toe hy op een knie sak en haar met ’n verloofring verras. 

En nou, net drie maande later, is hulle getroud.

Die vroue is gereed om die ruiker te vang . . . Al
Die vroue is gereed om die ruiker te vang . . . Almal wil graag die volgende bruid wees. Foto: Luba Lesolle.

By die onthaal is die Boucherfees – soos hulle die bruilof noem – voortgesit. Duisende klein liggies wat in stringe van hoek tot kant bo die gaste se koppe hang, het ’n hartlike kuierstemming geskep.

Die houttafels met beige tafellopers was met goue eetgerei en kristalglase gedek. Tafelruikers met rose, proteas en veldblomme het vir ’n tikkie kleur gesorg en klein kerse het die prentjie voltooi.

In die middel van die lapa het ’n vuur in ’n oop herd gebrand.

Die seremoniemeester, Willem Niemann, Shamodene se oom, het vertel vuur simboliseer “lief-de, eenheid, kuier en baie rooiwyn”. 

Die troukoek is aangevul met oliebolle – een vir e
Die troukoek is aangevul met oliebolle – een vir elke gas! Foto: Luba Lesolle.

Die gaste, wat van reg oor die land gekom het, het heerlik in die lapa gekuier en staaltjies uitgeruil terwyl die pasgetroudes en hul gevolg ’n ent verder langs ’n gronddam foto’s laat neem het. 

Teen sonsondergang het Juan en Shamodene die lapa binnegestap. Toe het sy treffer eindelik oor die luidsprekers opgeklink: Ons word een, in siel en gees / En dis daar waar ons wil wees / Ek’s gemaak om vir jou lief te wees . . . 

Die gaste het vrolik hande geklap – die belofte is volbring. 

Die tema van die “Boucher-fees” word in verligte l
Die tema van die “Boucher-fees” word in verligte letters op die dansbaan uitgespel. Foto: Luba Lesolle.

Teen halfagt die aand het die gaste begin nader staan aan die opskepbakke. Op die spyskaart was beesfiletskywe, hoenderstukke, kapokaartappels, geroomde spinasie, gemengde groente, twee slaaie, en melktert en malvapoeding as nagereg. 

Pleks daarvan om in sy toespraak vir sy bruid te sê waarvan sy hart vol is, het Juan vir haar nog een van sy liedjies gesing – “Trou”.

“My vrou . . . ,” het hy begin. “Ek het nooit gedink ek sal dit ooit kan sê nie. Julle almal ken my geskiedenis as dit by verhoudings kom . . .” 

Shamodene in ekstase toe Juan sy treffer “Trou” vi
Shamodene in ekstase toe Juan sy treffer “Trou” vir haar sing. Foto: Luba Lesolle.

Toe trek sy kitaarspeler, Rudi Kleingeld, weg met die inleiding van dié liedjie. Singend en dansend het Juan tot in die middel van die lapa gestap waar die vlamme heerlik saamgedans het. Daar het Shamodene by hom aangesluit. 

Later die aand was dit tyd vir die tradisionele gooi van die kousband, maar die bruidegom het geen idee gehad wat die bruid en haar strooimeisies in die mou voer nie. Juan het gesien hoe Shamodene voor hom op die stoel klim, maar nadat hy geblinddoek is, het sy en Nadine Smit, een van haar strooimeisies, plekke geruil.

Shamodene se gevolg was (van links) Elize Steenkam
Shamodene se gevolg was (van links) Elize Steenkamp, Chenelle Niemann, Nadine Smit en Kyra Waso. Foto: Luba Lesolle.

Met sy hande voor hom uitgestrek het Juan na die stoel beweeg tot hy die vroulike figuur raak gevoel het. Shamodene het hom darem gou-gou kom reghelp. 

Die strooijonkers en ander vriende het Juan ook laat les opsê toe hy sy bedankingstoespraak moes lewer. Net toe hy begin, gryp hulle stoele en kom in ’n kring om hom sit. Sodra hy iemand wou bedank, is hy luidrugtig met tussenwerpsels onderbreek. 

Hy het moedig deurgedruk en later aan Shamodene gesê: “My vrou, ek kan nie wag om ons kinders te ontmoet nie!” 

Toe die seremoniemeester aankondig: “Dames en here, die paartie het begin!” het die gaste na die kroeg gestroom. Daar is kardoessakkies uitgedeel met die woorde “Babelas Pakkie” daarop gedruk. Binne-in was ’n Super C-suiglekker vir energie, ’n Rennie vir die aand se sooibrand en ’n Grand-Pa-poeier vir die volgende dag se kopseer. 

Juan se gevolg het bestaan uit (van links) sy twee
Juan se gevolg het bestaan uit (van links) sy tweelingbroers, Tiaan en Tommie, sy vriend Cobus Coetzee en die musiekmaker Len Muller. Foto: Luba Lesolle.

Die bruidspaar het die dansbaan met Juan se liedjie “Vlieg met jou liefde terug” geopen. Die baan was sommer gou stampvol en tussendeur het Juan vertel dat hy en Shamodene vir hul wittebrood Namibië toe gaan – die bestemming wat hulle toe nooit op daardie skeepsvaart bereik het nie. 

Maar dié keer pak hulle die reis saam aan in Juan se bakkie en het die belofte van hul eerste ontmoeting reeds ’n werklikheid geword.


Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.