Nog nie een keer het sy ’n voet verkeerd gesit as amper-koninklike nie.

Met haar innemende glimlag, blink oë en die liefdevolle manier waarop sy gereeld na haar verloofde kyk, lyk Meghan Markle soos die natuurlikste keuse in die wêreld om prins Harry se bruid te word.

Maar hokaai, sê Ava Burrows, die tweede vrou van Meghan se oupa. Nie almal dink sy is van die regte stoffasie gemaak om haar plek in te neem in die bekendste familie op aarde nie.

“Meggie trou met ’n prins? Wie sou dit nou kon dink,” het Ava laat hoor, verbaas op haar knie geklap en geskater toe ’n joernalis van Daily Mail haar besoek.

Kort voor die donkerkopskoonheid en haar rooikopprins se troudag op 19 Mei het sommige bitterbekke allerhande beledigings kwytgeraak oor die vrou wat die wêreld se nuwe liefling geword het.

Skielik het almal ’n eiertjie te lê gehad oor waar sy vandaan kom en wie sy kwansuis regtig is.

Hoe lyk die ware lewensverhaal van die vrou wat so te sê oornag ’n ikoon van ons tyd geword het?

SY EN HAAR MA

Meghan Markle se ma, Doria Ragland, op ’n piekniek saam met haar kleuterdogter. Foto: Instagram

Meghan en Doria afgeneem in Jamaika ure voor Meghan met Trevor Engelson getrou het. Foto: Great Stock/Splash News

HAAR VOORSATE

Meghan se voorouers kom uit uiteenlopende agtergronde.

Aan haar ma, Doria Ragland, se kant van die familie was baie van haar voorsate slawe wat op die katoen- en tabakplantasies van die Amerikaanse Suide gewerk het.

Toe slawerny in 1865 afgeskaf is, het Meghan se oor-oor-oor-oor-oupagrootjie sy slawenaam verwerp en ’n nuwe naam as vry man gekies: Wisdom.

Aan haar pa, Thomas Markle, se kant van die familie het Meghan se voorvader Christopher Hussey in 1632 van Engeland na die Nuwe Wêreld gevaar.

Hy was een van die stigters van die eerste nedersetting op Nantucket, nou deel van Massachusetts.

Hy was ook ’n voorvader van die koninginmoeder, koningin Elizabeth II se oorlede ma – wat beteken Harry en Meghan is baie verlangs familie.

HAAR OUERS SE TROUDAG

Meghan se ouers, Doria Loyce Ragland en Thomas Wayne Markle, is op 23 Desember 1979 in ware Glinsterstadstyl in ’n kapel in Sunset Boulevard in ­Hollywood, Los Angeles, getroud. Foto: ©Mail on Sunday/Solo Syndication

HAAR OUERS

Pa Thomas (nou 71) was ’n beligtingsregisseur met ’n blink toekoms toe hy in sy middel 30’s in Los Angeles aankom. Hy was pas geskei van ene Roslyn Loveless, met wie hy kort ná hul skooldae getroud is en by wie hy twee kinders, Samantha en Tom, het.

Hulle het ná die egskeiding by hul ma in Albuquerque, Nieu-Mexiko, agtergebly. In Los Angeles het die losloper se pad gekruis met dié van die pragtige Doria Ragland (nou 61), wat in haar 20’s op die stel van die Amerikaanse sepie General Hospital gewerk het.

“Ek dink hy het geval vir haar mooi oë en haar Afro-haarstyl,” het Meghan al gesê.

“Plus, hulle deel ’n voorliefde vir antieke meubels. Wat dit ook al was, hulle het getrou en my gehad.” Meghan is op Saterdag 4 Augustus 1981 gebore – op die koninginmoeder se 81ste verjaardag.

Tom en Samantha het toe hulle onderskeidelik 14 en 16 was by hul pa gaan woon. Volgens Meghan se halfbroer was sy pa ’n ander mens ná Meghan se geboorte.

“Sy was sy hele wêreld,” het Tom al gesê.

“Sy was ’n baie oulike kind. Sy het baie na my pa getrek. Jy kon dit om haar oë sien, en sy het die Markle-wipneus. Doria het ’n pragtige vel; dis waar Meghan haar miljoendollarvel gekry het.”

Die eerste jare van Meghan se lewe het sy in die San Fernando-vallei in Los Angeles deurgebring met Thomas as broodwinner.

Hy was die beligtingsregisseur van onder meer General Hospital en die TV-reeks Married . . . with Children.

Die Markles was betreklik welaf.

SY EN HAAR PA

Thomas straal van trots op Meghan se gradeplegtigheid. Foto: Pan Media
Meghan (links), haar vriendin Ninaki Priddy (heel regs) en nog ’n pel by die akteur David Faustino op die stel van Married . . . with Children. Foto: Great Stock/Splash News
Meghan en haar pa op ’n perdryuitstappie. Foto: Pan Media
’n Negejarige Meghan by haar pa en sy hond, Beau. Foto: Pan Media

DIE GESIN VERBROKKEL

Net soos Harry (33) het Meghan haar ouers se egskeiding beleef – hoewel haar ouers s’n skynbaar gemoedeliker was as dié van syne.

Doria en Thomas se paaie het geskei toe hul dogter ses was. Hulle het toesig oor Meghan gedeel.

“Wat so ongelooflik is, is dat hulle geskei het, maar ek het hulle nooit eens sien baklei nie,” het Meghan al gesê.

“Ons het steeds saam vakansie gehou, en Sondae wanneer my pa my kom aflaai, het ons drie saam TV gekyk en aandete op ons TV-skinkborde geëet.”

Die lewe in haar twee ouerhuise het hemelsbreed verskil. By haar pa was daar gereeld boheemse Hollywood-partytjies.

Saam met haar ma was dit gereelde opvoedkundige reise na die arm dele van Jamaika en Mexiko. Dit was daar waar Meghan se passie om minderbevoorregtes te help vlam gevat het.

“My ma het my geleer om ’n wêreldburger te wees met my oë wawyd oop vir die harde werklikheid,” het Meghan in 2016 in ’n essay vir die tydskrif Elle geskryf.

“Ons het na afgeleë plekke gereis. In Oaxaca in Suid-Mexiko het ek kinders gesien wat lekkergoed verkoop om net ’n paar peso’s te kan huis toe vat.”

Thomas was die toegeeflike ouer; Doria moes die dissipline toepas vir “Flower”, haar bynaam vir haar dogter. Meghan onthou hoe haar ma haar tereggewys het: “Ek wil hê jy moet vroeg huis toe kom, Flower, nie omdat ek bekommerd is oor wat jy sal doen nie, maar oor wat ander mense in die mou voer.”

Meghan het haar ma later op haar destydse leefstylblog, The Tig, as haar beste vriendin beskryf.

“Rastalokke. Neusring. Joga-instrukteur. Maatskaplike werker. Vrygees. Liefhebber van tjips en suurlemoentert. Wanneer jy na haar kyk, voel jy vreugde. Ek praat van my ma.”

Doria werk deesdae as ’n terapeut by ’n geestesgesondheidskliniek in Los Angeles waar sy “ ’n vol rooster het en soms 14 uur per dag werk”, het ’n bron aan Us Weekly gesê.

Sy het in 2015 haar meestersgraad in maatskaplike werk ontvang. Meghan het glo met haar salaris vir haar werk aan die TV-reeks Suits vir haar ma se studie help betaal.

Haar pa, Thomas, is steeds ’n kleurryke karakter. Dae voor sy dogter met die kanselpaadjie sou afstap, het dit aan die lig gekom Thomas het saam met ’n fotograaf gekonkel om te poseer vir “steelfoto’s” van hom wat onder meer artikels oor sy dogter en Harry in ’n kafee in Mexiko lees.

Die foto’s is vir R1,7 miljoen oor die wêreld heen verkoop. Tom het kort daarna gesê sy pa is baie verneder deur die fotoskandaal en beplan om Meghan en Harry privaat verskoning te vra.

Volgens Samantha was dit haar idee om die steelfoto’s te laat neem. Sy sê haar pa het nie geldelik daarby baat gevind nie.

HAAR SKOOLDAE

Meghan, vyf jaar oud, sing in die skoolkonsert by haar laerskool, die ­Little Red Schoolhouse. Foto: Great Stock/Splash News
Meghan (middel), Ninaki (regs) en ’n vriendin op hul matriekafskeid in 1999. Foto: Great Stock/Splash News
Ninaki en Meghan (toe 12) by hul laerskoolhoof, Debbie Wehbe. Foto: Great Stock/Splash News
Meghan, Ninaki en van hul hoërskoolmaats in ’n verspotte tiener­oomblik. Foto: Great Stock/Splash News

EERSTE TREE OP DIE VERHOOG

As kind is Meghan 10 jaar lank elke dag ná skool na haar pa geneem waar hy op die stel van Married . . . with Children gewerk het.

“Dit was ’n baie vreemde plek vir ’n dogtertjie in ’n Katoliekeskooluniform,” het sy aan Vanity Fair vertel. Meg wou altyd beroemd wees, sê ’n vriendin uit haar kindertyd, Ninaki Priddy.

“Sy was mal daaroor om die middelpunt van die aandag te wees. Ons het ons altyd verbeel hoe dit gaan wees as sy ’n Oscar kry. Sy het selfs geoefen om haar naam aan te kondig.

“Op ’n manier is sy op ’n verhoog grootgemaak. Sy het geen ander lewe geken nie. Haar pa was ’n wonderlike leermeester. Hy het van kleins af foto’s van haar op die verhoog geneem.”

HAAR STUDENTEDAE

Meghan ruk die kamer wat sy op universiteit in Chicago gehuur het reg. Foto: Great Stock/Splash News
Meghan (naasregs), Ninaki (regs) en medestudente op ’n aand uit. Sy het tot in 2003 internasionale verhoudings en teater studeer. Foto: Great Stock/Splash News

Hy het gereël dat sy klein rolle vertolk en haar ingeskryf by die duur privaat skool Hollywood Little Red Schoolhouse. Ander beroemdes wat hier skoolgegaan het, is Elizabeth Taylor, Judy Garland en Mickey Rooney. 

As ouer tiener is Meghan na nog ’n privaat skool, die Immaculate Heart-meisieskool in Los Angeles, gestuur.

By hierdie Katolieke skool het haar pa dikwels met die beligting gehelp tydens skoolkonserte waarin sy talentvolle dogter meermale opgetree het.

Sy het ook akademies uitgeblink. Sy het nee gesê vir ’n plek aan verskeie voorste universiteite in Amerika en liewer aan die Northwestern-universiteit in Chicago, wat bekend is vir sy uitvoerendekunstedepartement, studeer.

Meghan het in 2003 haar graad voltooi met teater en internasionale verhoudings as hoofvakke en ’n studentepos by die Amerikaanse ambassade in Buenos Aires, Argentinië, aanvaar.

Maar haar hart was in Hollywood, en kort voor lank was sy terug by die huis . . .

RABBEDOE EN DIERELIEFHEBBER

Sonia Ardakani, wie se dogter Suzy een van Meghan se beste maats was toe hulle nog tieners was, vertel die jong Meg was nie seunsmal nie.

Die mooi sproetgesigmeisie het eerder gaan ysskaats, op haar rolskaatse rondgejaag of gaan perdry, onthou Sonia, en vertel sy het gehou van die meisie se goeie hart en lewenslus.

“Sy was altyd vasberade en ambisieus, en as sy iets wou hê, het sy dit gekry.”

Sy het tydens haar tienerjare hoofsaaklik by haar pa gewoon omdat haar ma toe ’n lugwaardin was.

Sy kon nie diere in Thomas se woonstel aanhou nie en was daarom mal oor die Ardakani’s se kat, wie se naam toevallig Princess was.

Voor sy Harry ontmoet het, het haar hart aan haar honde, Bogart en Gus, behoort.

Toe sy Londen toe verhuis, moes sy die hartverskeurende besluit neem om Bogart by kennisse agter te laat omdat hy te oud was vir die lang reis.

Gus woon nou ewe lekker in Kensingtonpaleis.

HAAR EERSTE ROLLE

Meghan het ’n afleweringsmeisie in Horrible Bosses gespeel. Foto:
Sy was ’n speurder wat haar lyf hokvegter gehou het in ’n Fight Club-agtige episode van 2009 se Knight Rider-reeks.

DIE SUKKELJARE

Voor Meghan die eerste keer daardie potloodrompie aangetrek het om die slim prokureur Rachel Zane in Suits te speel, was die rolle maar skaars.

Daar was onder meer een kleintjie in die tienersepie 90210 waar sy en ’n ou in ’n motor sit en “vry”.

Om die rekenings te betaal, het Meghan kalligrafie gedoen en aan die speletjiesprogram Deal or No Deal deelgeneem.

Sy is R7 500 per dag betaal om voor die kameras op hoë hakke te staan en mooi lyk in ’n skrapse rokkie. 

Dit het geld ingebring, maar dit was ’n verleentheid vir Meghan, vertel Tameka Jacobs, wat dieselfde rol moes vervul op Deal or No Deal.

“Meghan se plan was om Oscars te wen en op Broadway toneel te speel, en hier staan sy met haar borste stewig teen mekaar geplak (om ronder te bult) en glimlag vir die gehoor.”

Nog ’n paar klein rolle het gevolg, onder meer as die afleweringsmeisie in die fliek Horrible Bosses, maar aan die vooraand van haar 30’s het sy nog gesukkel om ’n deurbraak te maak.

“Ek was nie swart genoeg vir die swart rolle nie en nie wit genoeg vir die wittes nie; ek was êrens in die middel as die etniese verkleurmannetjie wat nie kon werk kry nie,” onthou sy van daardie jare.

In 2010 het alles verander. Meghan is genooi om ’n oudisie af te lê vir ’n rol in ’n nuwe regsdrama.

Ná die tyd het sy by haar agent gekla dat sy haar kans verspeel het, want sy het ’n paar keer haar woorde vergeet.

Gelukkig het die vervaardigers anders gevoel en haar genooi om vir ’n tweede oudisie te kom.

Hulle het haar aangeraai om dié keer konserwatiewer aan te trek. Meghan het haar hare in ’n poniestert vasgebind, ’n ordentlike swart rokkie gekoop – en die rol losgeslaan in die reeks Suits.

DIE HALFBROER EN -SUSTER

Ava Burrows, wat al as een van Meghan se “verstandigste” familielede beskryf is, som die Markles so op: “Vergeleke met ander mense is hulle ingewikkeld".

Die afgetrede onderwyseres het toe met ’n grinnik gesê: “Ek veronderstel dis soos Downton Abbey, en ons is die mense wat onder die trap woon".

Meghan se halfsibbes het al veel minder diplomaties hul vuil wasgoed in die openbaar gewas.

Samantha (nou 53), Thomas se oudste kind uit sy eerste huwelik, maak geen geheim daarvan dat sy en Meghan nie meer om dieselfde vuur sit nie.

Sy is vandag ’n skrywer en welsynswerker in Florida en is in ’n rolstoel nadat veelvoudige sklerose by haar gediagnoseer is.

Toe Meghan net met Harry begin uitgaan het, het Samantha na haar verwys as ’n “sosiale klimmer” met ’n “sagte plek vir rooikoppe”.

Maar ná Meghan se verlowing aan Harry het sy haar deuntjie verander en aan Good Morning America gesê: “Ek wil net sê ek is lief vir jou; ek is ongelooflik bly vir jou. Mag jy ’n wonderlike lewe hê".

Tog was Samantha woedend toe sy nie na die troue genooi word nie.

“Uit respek en medemenslikheid behoort die Markles genooi te word aangesien 2 000 totale vreemdelinge genooi word,” het sy getwiet.

“Ons oom, broer, ek, beste vriendin van 30 jaar, nefies. Dit gaan nie oor hoe naby ons aan mekaar is nie. Familie is familie.” Sy skryf nou ’n boek wat sy The Diary of Princess Pushy’s Sister wil noem.

Samantha se jonger broer, Tom, sing ’n soortgelyke deuntjie.

Hy het onlangs ’n bisarre ope brief aan Harry geskryf waarin hy die prins waarsku om nie met sy halfsuster te trou nie.

“Dis baie duidelik haar piepklein bietjie Hollywood-roem het reguit na haar kop toe gegaan en haar in ’n vlak vrou verander wat jou en die koninklike erfenis belaglik sal maak,” het hy geskryf.

Later het hy ’n tweede brief geskryf waarin hy vir “Meg” jammer sê en skimp vir ’n uitnodiging na die troue.

HAAR SIBBES

Meghan se halfsuster, Samantha, ly aan veelvoudige sklerose. Foto: Great Stock/Splash News
Tom, haar halfbroer, het Harry teen haar gewaarsku. Foto: RealTime Images/Mega


HAAR EERSTE MAN

In 2004 het Meghan op ’n aand uit die vervaardiger Trevor Engelson (41) ontmoet. Hulle het ses jaar uitgegaan en eindelik afgehaak op ’n “kaalvoettroue” by die Jamaica Inn in Ocho Rios, Jamaika.

Maar net twee jaar later was alles oor en in 2013 is hulle geskei. Volgens die biograaf Andrew Morton was dit Meghan se groot TV-deurbraak wat die breuk veroorsaak het.

“Terwyl haar ster ál blinker geskyn het, het haar man net water getrap,” skryf hy in sy boek Meghan: A Hollywood Princess.

Morton skryf Trevor het die einde van die huwelik nie sien kom nie – Meghan het blykbaar haar ringe aan hom gepos as ’n teken dat sy wil skei.

“Hul verhouding het subtiel begin verander nadat sy meer tyd in Toronto (waar Suits verfilm word) begin deurbring het as by hul huis in Los Angeles.

"Sy was nou onafhanklik, het nuwe vriende gemaak, haar eie geld verdien en was nie meer afhanklik van haar man se Hollywood-netwerk nie.”

Anders as ander karakters uit Meghan se verlede het Trevor nog nie sy storie in die media vertel nie, maar hy wil glo ’n komediereeks maak oor ’n man wie se vrou hom los vir ’n Britse prins.

Meghan het in 2011 in Jamaika met die TV-vervaardiger Trevor Engelson getrou. Twee jaar later was die huwelik verby. Foto: Great Stock/Splash News

DIE EKSVRIENDIN

Hulle was saam in die laer- en hoërskool, het as tieners saamgereis Engeland toe, saam deur Amerika gereis en was so naby aan mekaar dat Meghan haar glo destyds gevra het om eendag haar strooimeisie te wees.

Maar Meghan en Ninaki Priddy het jare laas met mekaar gepraat, en dit lyk asof dinge nie mooi geëindig het nie.  Volgens Ninaki het hulle ’n uitval gehad ná Meghan en Trevor se egskeiding.

“Die mens wat ek geken het, bestaan nie meer nie,” het Ninaki, ’n ontwerper in Los Angeles, aan die Daily Mail gesê.

“Daar’s ’n Meghan voor die roem en ’n Meghan ná die roem.

“Miskien het sy al vroeër begin verander en ek het dit net nie raakgesien nie. Haar stemtoon, haar maniertjies, die manier waarop sy gelag het, het net nie meer vir my eg geklink nie.

“Ek was nie geskok of eens verbaas om van prins Harry te hoor nie. Ek weet sy was altyd mal oor die fliek The Princess Diaries, oor ’n gewone vrou wat deel word van ’n koninklike gesin. Sy het baie gehou van die idee.”

HAAR VOORMALIGE BESTE VRIENDIN

By die Bellagio-hotel in Las Vegas op ’n wegbreekvakansie ná universiteit. Foto: Great Stock/Splash News
Meghan (toe 15) en Ninaki buite Buckinghampaleis op ’n besoek aan Engeland in 1996. Foto: Great Stock/Splash News
Ninaki en Meghan op 10 in 1991. Foto: Great Stock/Splash News
In hul hotel in Engeland in 1996. Ninaki sê Meghan was mal oor die idee van ’n gewone vrou wat deel word van ’n koninklike gesin. Foto: Great Stock/Splash News

Ninaki sê deesdae laat die gedagte aan Meghan haar woedend en gebroke voel. Maar dit klink darem alte veel na suur druiwe . . .

Bronne: Daily Mail, Us Weekly, The Sun, The Telegraph, Elle, Vanity Fair, CNN