Die fris oudrugbybreker vryf oor sy oë terwyl hy liefdevol na sy bruid kyk wat oor ’n lang wit mat na hom toe aangestap kom. 

“Ek kyk na Deon se hart en ek sien hoe dit by sy oë uitkom,” het die pastoor dié teer gebaar later tydens die diens hier in die Laeveld- Nasionale Botaniese Tuin in Mbombela, Mpumalanga, opgesom. 

Die Saterdagmiddag wat Deon Helberg (29) en die vrou van sy drome, Jani Gous (28), gekies het om in ’n klein en intieme seremonie ewige trou aan mekaar te beloof is drukkend warm. 

Maar dit demp nie die romanse en opwinding van ’n dubbele vreugde nie. 

Ná die jawoord gaan past. André Greyling van die AGS Communio-gemeente ook hul dogtertjie, Leja, wat in Desember gebore is, inseën. 

Deon and Jani Helberg Wedding
Die bruidspaar verseël hul liefde met die uitruil van die trouringe. Foto: Fani Mahuntsi

Nou speel Christina Perri se liedjie A Thousand Years oor die luidsprekers terwyl Deon en sy vier strooijonkers in ’n ry voor langs die podium staan en die bruid se gevolg by hulle aansluit. 

Die bruidegom dra ’n liggrys pak, wit hemp en roospienk das. 

Dan verskyn Jani agter die gaste aan die sy van haar ma, Riana Gous (64). 

Sy dra ’n elegante wit trourok met ’n meerminsnit, afgerond met fyn kant en ’n lang sleep. 

Die groot oomblik het aangebreek. Deon se bravade vooraf dat hy nie eintlik iemand is wat sy emosies wys nie, is skoon vergete. 

Deon and Jani Helberg Wedding
Jani en haar ma, Riana Gous, loop na die kansel toe. Foto: Fani Mahuntsi

Die sowat 25 familielede en nabye vriende kan sommer sien dié vinnige vleuel, wat tussen 2008 en 2017 kookwater beroepsrugby vir die Blou Bulle, Goue Leeus, Blitsbokke en Pumas gespeel het, is dolverlief. 

In sy rugbydae het hy nooit sy oog van die bal gehaal terwyl hy sy teenstanders die een ná die ander gepypkan het nie, maar nou het hy net oë vir die pragtige blondekopvrou langs hom. 

Die verliefde paar het verlede jaar aan Huisgenoot vertel hoe hulle mekaar in 2016 deur gemeenskaplike vriende ontmoet en op haar verjaardag, 23 Februarie 2017, amptelik begin uitgaan het. 

’n Paar maande later, in November 2017, het Deon in Kanada ’n verloofring aan Jani se vinger gesteek en in Desember verlede jaar het hulle klein Leja verwelkom. 

Hul troudag span die kroon op hul geluk, en die dag is vir Deon ook ’n mylpaal wat aandui die traumatiese tyd in sy lewe, toe hy in 2010 om die verkeerde redes nuusopskrifte gehaal het, is finaal verby. 

In sy rugbydae het hy nooit sy oog van die bal gehaal terwyl hy sy teenstanders die een ná die ander gepypkan het nie, maar nou het hy net oë vir die pragtige blondekopvrou langs hom.

Nadat hy destyds die aandagsoekery verwerp het van Manda Reyneke, die ma van sy voormalige meisie Jalien, het Manda hom die skrik op die lyf probeer jaag deur dit te laat lyk of ’n huurmoord op hom gereël is. 

Hiervoor is sy tot drie jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis. 

Vandag is past. André se raad aan die jong paar om mekaar voortdurend met liefde te ondersteun. 

Deon se susterskind, die driejarige Lehan de Jager, staan nou nader met ’n Bybel in sy hand waarop die ringe met linte vasgebind is. 

Nadat André die formulier gelees en die bruid en bruidegom mekaar die regterhand gegee het, verklaar hy die twee as mnr. en mev. Helberg. 

Deon and Jani Helberg Wedding
Die bruidsgevolg is van links Andrea de Jager, Henri de Jager met Leja, Junine de Jager, Alderie Crous, Rachelle Morgan en Lieze Oosthuizen. Foto: Fani Mahuntsi
Deon and Jani Helberg Wedding
Die ringe is met strikke bo-op ’n Bybel ­vasgebind. Foto: Fani Mahuntsi

Die gaste klap hande terwyl die egpaar mekaar lank en innig soen. 

Dan is dit tyd om baba Helberg in te seën. Lehan se broer, Henri (10), bring die kleinding vorentoe en gee haar aan Deon, wat haar dadelik op die voorkop soen. Sy is skattig in ’n wit valletjiesrokkie geklee. 

“Neem julle die verantwoordelikheid om haar groot te maak in die weë van die Here?” wil André by die ouerpaar weet. 

“Ons doen,” antwoord hulle terwyl die trotse pa sy meisiekind vashou. Daarna lig die pastoor sy hande op en spreek ’n seëngebed uit oor die gesin van drie. 

Deon and Jani Helberg Wedding
Die paar se dogtertjie, Leja, rus veilig in pa Deon se arms. Foto: Fani Mahuntsi
Deon and Jani Helberg Wedding
Baba Leja word deur past. André ingeseën. Foto: Fani Mahuntsi

Die onthaal word gehou by die Kwanyoni Lodge, sowat 16 km buite die stad, en die intieme groepie wat die seremonie in die Tuin bygewoon het, sluit laatmiddag by die res van die 70 gaste aan. 

Die pasgetroudes word in ’n wit Audi A8 by die ingang na die onthaalarea afgelaai. 

John Legend se liedjie A Good Night speel oor die luidsprekers toe hulle binnestap. 

Met ’n groot glimlag op sy gesig buig Deon ewe galant vir die gaste wat hande klap. 

Die onthaaldekor is ’n voortsetting van die “minimalistiese en informele” troutema. 

Deon and Jani Helberg Wedding
Toe past. André hulle toestemming gee om mekaar te soen, laat die pasgetroudes nie op hulle wag nie. Foto: Fani Mahuntsi
Deon and Jani Helberg Wedding
Die roos­blare reën op die huwelikspaar neer na afloop van die seremonie. Foto: Fani Mahuntsi

Die enigste versiering op die tafels is ’n kers op ’n houtstaander. 

Op die bruidstafel staan ’n enkele vaas met wit blomme en ’n houttak met ’n string liggies daarom gedraai. 

’n Kennisgewingbord voorop verduidelik hier is geen sitplan nie, “want ons is mos almal familie”. 

Deon en Jani begin ook sommer dadelik saam met die gaste van tafel tot tafel kuier. 

Tussendeur staan die mense kroeg se kant toe om iets kouds te bestel om die Laeveldse hitte te verdryf.

Jy kan die verliefdheid in hul oë sien, beskryf Lieze Oosthuizen, ’n bruidsmeisie, die pasgetroudes toe sy ’n heildronk op hulle instel.

Ander klets vrolik buite op die grasperk om die houttafels in die skadu van die bome. 

Lodge-personeel dra houtborde met peuselhappies aan. Daar is iets vir elke smaak, onder meer samoesas met drie verskillende vulsels. Ander happies sluit in pizzaskywe, hoenderkebabs en wildspasteie. 

Hoewel hier nie ’n formele program vir die onthaal is nie, is daar tyd vir heildronke. 

Jy kan die verliefdheid in hul oë sien, beskryf Lieze Oosthuizen, ’n bruidsmeisie, die pasgetroudes toe sy ’n heildronk op hulle instel. 

Deon word onkant betrap toe almal nader geroep word sodat hy en Jani die dansvloer kan open, maar dan hoor hy hy moet eintlik nou ’n toespraak lewer. Die manne skuif hul stoele nader en trek behoorlik sy siel uit. 

Deon and Jani Helberg Wedding
Die bruid en bruidegom se gevolg is (van links) Lieze Oost­huizen, Hein de Jager, Junine de Jager, Jaco du Plessis, Cindy Pretorius, Rachelle Morgan, Etienne Greeff, Alderie Crous en Stephan Kruger. Foto: Fani Mahuntsi

Eers word hy met ysblokkies gegooi en daarna word hy met vrae gepeper. Onder meer wil een van sy strooijonkers, Stephan Kruger, stuitig weet: “Van watter deel van Jani se lyf hou jy die meeste?” 

Maar voor hy kan antwoord, trek die DJ, Hennie Reyneke, weg met lirieke uit Appel en Bok van Blerk se duettreffer, Lemoene: Wys my jou lemoene of jou boerpampoene. 

Die gaste lag, dans en geniet die partytjie tot ounag; Hennie skakel sy musiek eers ná middernag af. 

Die dag voor die troue het die ouerpaar ons laggend vertel van hul klein Leja se “lang en deurmekaar geboorte”. 

Hulle het haar op 18 Desember verwag, maar drieuur die oggend op die laaste Vrydag in November het Jani met kwaai pyn in veral haar bolyf wakker geskrik. 

Deon and Jani Helberg Wedding
Nadat die troukoek gesny is, kon die gaste aan kolwyntjies weglê. Foto: Fani Mahuntsi

“Dit was so seer, ek het net daar in die bed sit en huil,” onthou sy. “En soos ’n baie goeie man het Deon my getroos en my rug gevryf.” 

Hoewel dit nie soos kraampyne gevoel het nie, wou hulle nie ’n kans waag nie en is hulle na die plaaslike hospitaal, waar sy opgeneem is. 

Laatoggend het verpleegpersoneel gesê sy het nog glad nie begin om te ontsluit nie en sy kan huis toe gaan. 

Sy is ontslaan, maar voor hul vertrek huis toe het sy en Deon eers in die hospitaalkafeteria ontbyt geëet. 

En net daar kom die pyne terug, dié keer erger as vroeër die oggend. Jani vertel: “Ek het instinktief geweet iets is nie reg nie, toe waggel ek die gang af na die spreekkamer van my ginekoloog, wat sê ek moet dadelik terug saal toe. 

‘Soos ’n baie goeie man het Deon my getroos en my rug gevryf’

Ek het daardie oggend myself binne ses uur ingeteken, uitgeteken en weer ingeteken!” Deon het daarop aangedring dat hy die nag sommer in ’n stoel langs haar hospitaalbed slaap, maar toe vergeet die personeel om een na haar kamer te bring. 

“Ek was te skaam om een te vra, toe slaap ek sommer op die vloer. Maar sjoe, dit was nou ongemaklik,” sê hy. 

Toe Jani in die nag wakker word van die pyn, sien sy Deon is weg. “Ek het dadelik ’n verpleegster geroep en gesê hulle moet my verloofde gaan soek; hy is weg,” vertel sy. 

Deon and Jani Helberg Wedding
Hier is almal familie, heet die kennisgewingsbord die gaste welkom. Foto: Fani Mahuntsi
Deon and Jani Helberg Wedding
Die gaste het weggelê aan peuselhappies soos samoesas en pasteie. Foto: Fani Mahuntsi

“Hulle het hom eindelik gekry. In ’n gemakstoel in ’n ander kamer, vas aan die slaap.” 

Leja is daardie Saterdagmiddag op 1 Desember om kwart voor vier gebore. Sy het 3,3 kg geweeg en was 57 cm lank. 

Deon het haar naelstring geknip. Dit was ’n emosioneel oorweldigende ervaring, beskryf hy dié oomblik. En op sy troudag het hy weer so gevoel, sê Deon. 

Nee, die pasgetroudes gaan nie wittebrood hou nie. Hulle wil eerder die geld vir Leja spaar, verduidelik die twee. 

Deon and Jani Helberg Wedding
’n Geblinddoekte Deon het lank gesukkel om met net sy mond die kousband van Jani se been te kry. “Is jy besig met ’n McDonald’s-hamburger?” het een van die gaste geskree. Etienne Greeff het die band gevang. Foto: Fani Mahuntsi

Sy is boonop nog te klein om saam met hulle met vakansie te gaan, en hulle wil haar ook nie nou by iemand agterlaat nie, sê Deon. 

Van nou af is dit hulle drie permanent saam. Een hegte gesin in die Laeveld. 

Die bruidspaar bedank
Kwanyoni Lodge (Onthaalplek) 079-521-3789; Misty Blossom Photography (Fotograaf) 083-657-9645; Hair by Lieze (Bruid se hare) 072-294-4540; Attire by Tess (Bruid se rok) 072-690-0486; Hennie Reyneke (Platejoggie) 082-443-2761, J Terblanche Attorneys Inc (Prokureur) 013-590-1778; Isabel Franken Professional Make-Up Artist (Bruid se grimering) 060-985-4538