Dit was ’n lieflike winterdag toe die aktrise, motiveringspreker en voormalige aanbieder van kykNET se gewilde werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou, Nadia Beukes, en haar man, die sakeman David de Villiers, op Sondag 29 Julie ’n ooievaarspartytjie vir hul familie en vriende hou.

Die spesiale dag was anders as ’n tradisionele ooievaarstee, waar net die vroue saamkuier, want Nadia en David wou die opwinding van hul eersteling met mekaar én hul hartsmense deel.

“Ons is ongelooflik dankbaar dat alles so mooi in plek geval het vir die lieflike dag,” het Nadia eksklusief aan Huisgenoot gesê.

Sy en David het baie moeite gedoen om hul huis in Pretoria vir die spesiale dag in ’n blou-en-wit kleurskema te tooi. ’n Magdom ballonne het tot die vrolike atmosfeer bygedra.

“Die oggend van die geleentheid het ons ouers ook ingespring en met alles gehelp, van kolwyntjies versier tot koeksisters ronddra,” het sy gesê.

“Die dag was werklik geseën. Ons is met wonderlike geskenke bederf . . . broeke, boeke en baie doeke! Maar die grootste geskenk was om die vreugde en vooruitsig van ons seuntjie saam te vier.”

Van links is Soné Combrinck, Wilma Nel, Ansua Steyn-Ahlstrom, Marisa Drummond, Johrné van Huyssteen en sy vrou, Alet.
(Van links) Melissa Swart, Chris Bishop, sy vrou, die televisie-­­­ en radiopersoonlikheid Rozanne McKenzie, en Tertius Swart was onder die gaste wat die dag saam met David en Nadia gevier het.
Lekker kolwyntjies!
Balloon Design was verantwoordelik vir die pragtige ballonne.
FOTO'S: RUDI SILBERMANN EN CLARISSA KOEN VAN SILBER STUDIO, LEON OOSTHUIZEN, SJ VAN ZYL, ROSA-MARI LE ROUX, Instagram