En die egpaar is “ongelooflik opgewonde”, vertel die Getroud met Rugby-aktrise oor die kleinding wat na verwagting in September sy opwagting gaan maak.

Hulle wou hul baba se geslag op ’n spesiale manier deel en het met die hulp van die fotograwe Elzie Janse van Rensburg en Rudi Silbermann hul studeerkamer in ’n ateljee omskep.

Elzie Janse van Rensburg van EV Art Productions en Rudi Silbermann van Silber Studio het die groot oomblik op kamera verewig. Foto: Elzie Janse van Rensburg van EV Art Productions en Rudi Silbermann van Silber Studio.

Die paartjie het Balloon Design Academy se hulp ingeroep om met ballonne die geheim te verklap.

Toe albei ’n groot, swart ballon bars, het klein, blou ballone daaruit gesweef.

Sy en David was bly toe blou ballonne binne die swart ballonne was. “Ons het nie ons hart op ’n geslag gesit nie, maar net gebid vir ’n gesonde baba.” Foto: Elzie Janse van Rensburg van EV Art Productions, Rudi Silbermann van Silber Studio.

“Nou kan ons eindelik die babakamer se dekor begin beplan, vir oulike klere uitkyk en oor ’n naam besluit.

“Ek en David is albei mense wat daarvan hou om te beplan en voorbereid te wees,” sê Nadia. "Om uiteindelik te weet dat ons ‘n seuntjie verwag gee vir ons albei ‘n lekker motivering om als wat ons kan in plek te kry vir die koms van die mannetjie later vanjaar."

Vir die fotosessie het Nadia gestraal in ’n rok deur Preez Fashion en juweliersware deur V’dodili. Foto: Elzie Janse van Rensburg van EV Art Productions, Rudi Silbermann van Silber Studio.

Sy was aan die begin van haar swangerskap naar en moeg. “Dit het egter ná die eerste drie maande heelwat beter geword. Deesdae het ek soveel energie en take wat ek wil afhandel dat ek die mense om my moeg maak.”

Die videograaf Ryno Mans van RM Productions het op die spesiale dag wat hulle die geslag verklap het met sy videokamera reg gestaan en die kosbare gebeurtenis vasgevang.

Nadia vertel dat sy probeer gesond eet, “maar ek raak nou en dan lus vir roomys, waatlemoen, enigiets wat suur is en ’n Hawaise pizza”.

"Iets wat ek wel sukkel om te eet is rooivleis, wat voor die swangerskap glad nie vir my ‘n probleem was nie. Blykbaar is dit ook ‘n teken dat ons ‘n seuntjie verwag, of so sê die 'oumense'."

"Die warboel van emosies is iets om aan gewoond te raak, als van opwinding tot onsekerhede en tussendeur dit irritasie vlakke, trane en oomblikke van ekstase wat die hoogtes inskiet.

"Ek is baie dankbaar vir my man se geduld met my in hierdie tyd," lag sy.

“Dit is ook uitdagend om deesdae iets te kry om aan te trek want selfs my ou los broeke sit besonders styf gelukkig staan ons nou winter se kant toe so ‘n paar tights en ‘n trui sal hopelik vir die volgende paar maande die ding doen.”

 En waarna sien sy die meeste uit?

Sy is deur Joeann de Wet van die JB Make-Up School vir die spesiale fotosessie opgedollie. Foto: Elzie Janse van Rensburg van EV Art Productions, Rudi Silbermann van Silber Studio.

“Al die opwinding oor die koms van ons kleinding. Dit is ’n hele nuwe fase vir my en David, ’n hoofstuk wat ons bladsy vir bladsy skryf en waarna ons albei uitsien. Dit is ook lekker om al die liefde en ondersteuning van ons familie, vriende en die publikek te ervaar, wat saam met ons na die koms van ons kleiding uitsien.

"Ek is elke dag dankbaar ons baba is gesond en groei mooi, en ek besef keer op keer om swanger te wees is ’n wonderlike voorreg.”