Nadat haar geliefde haar twee jaar gelede gevra het om sy vrou te word, het sy nooit gedink ’n ander man sal haar selfs nóg gelukkiger maak nie. Maar nou het ’n piepklein mannetjie, haar eie klein prinsie, dit sowaar reggekry.

Die aktrise, aanbieder en sangeres Nadia Beukes se eersteling het onlangs sy opwagting gemaak, en haar nuwe hoofrol as ma pas haar soos ’n handskoen.

Wanneer sy die klein lyfie in haar arms toevou, staan die wêreld stil. Niks is op daardie oomblik meer eg as die liefde wat sy vir hom voel nie.

Klein David Jacobus de Villiers, of Davey soos sy ouers hom noem, is skaars ’n maand en ’n half oud, maar het reeds sy ma, Nadia (36), en pa, David (33), ’n sakeman, se hart verower.

Piepklein handjies; piepklein voetjies; ogies wat slaperig toeval. “Ek kan nie die oorweldigende gevoel beskryf wat ek ervaar het toe ons mekaar ontmoet nie,” vertel Nadia ’n paar weke ná sy geboorte.

Klein Davey is op 22 Augustus gebore. Foto: Dino Codevilla

“Toe die suster hom op my bors neer-lê, was hy volmaak. Die klein mensie met 10 volmaakte vingers en 10 volmaakte tone. “Dit was amper onwerklik en ek kon nie anders as om op daardie oomblik die wonderwerk in alles raak te sien nie.

God se grootheid is onbeskryflik,” sê sy hier in die gesin se stylvolle huis in die ooste van Pretoria. Die aktrise, wat tot onlangs in Getroud met Rugby te sien was en ’n voormalige Boer Soek ’n Vrou-aanbieder is, straal, al bly die slaap snags ontwykend omdat sy haar baba elke paar uur borsvoed.

Davey is die paartjie, wat in September hul tweede huweliksherdenking gevier het, se eersteling en hul heel grootste geskenk. Hy is die agtste eersgebore seun in die De Villiers-familie se geskiedenis, iets wat sy ouers, en veral sy pa, baie trots maak.

“Dit is hoekom sy naam David Jacobus is. Hy begin die agtste generasie,” vertel David ingenome. Hy is so trots op sy seun, hy sal sommer nog ’n klomp spruite wil hê.

Davey is die agtste eersgebore seun in die De Villiers-familie se geskiedenis en sy pa is duidelik baie trots. Foto: Dino Codevilla

“Ek wil vier kinders hê, maar sal Nadia eers moet oorreed,” sê hy. Toe voeg Nadia met ’n laggie by: “Ja-nee, hy moet nou eers ’n bietjie wag!”

Sy vertel haar man was haar rots tydens Davey se geboorte met ’n keisersnee skuins ná elfuur die oggend op 22 Augustus in die Mediclinic Kloof in Pretoria.

‘Ek kan nie die oorweldigende gevoel beskryf wat ek ervaar het toe ons mekaar ontmoet nie’ Foto: Dino Codevilla

“Hy was heeltyd langs my. Hy het my hand vasgehou terwyl hy my diep in die oë gekyk het. Dit was gerusstellend en ek besef ek is in dié opsig geseën. Ek het nuwe respek vir enkelouers en is werklik dankbaar om ’n man te hê wat van die begin af ’n betrokke pa is.”

Die nuwe ma vertel sy is diep bewus van die taak wat op hul skouers rus.

“Om ouers te word is lewensveranderend en ook ’n bitter groot verantwoordelikheid. “Dit is soos ’n groot avontuur omdat ’n mens nie mooi weet wat om die volgende draai wag nie.

“Maar gelukkig het ons ’n groot steunnetwerk wat ons voortdurend daaraan herinner dat ons nie alles op ons eie hoef te doen nie.”

Voor vandag se spesiale fotosessie vir Huisgenoot het Davey se ma en pa hom eers ’n bietjie weggesteek en dit geniet om aan hul nuwe lewe as gesin gewoond te raak. Maar nou is hulle gereed om hul seuntjie aan die wêreld te wys.

“Elke liewe profielfoto van my gaan hierna verander, selfs my sakefoto op LinkedIn,” sê David.

Dié sakeman met belange in die boubedryf se aanvoeling vir styl en ontwerp is om elke hoek en draai in die ruim gesinshuis sigbaar.

Die huis het, nes Davey, ’n lang herkoms en is toevallig net om die draai van die huis waarin David self grootgeword het. “Toe ek uit my tweeslaapkamerwoonstel in Johannesburg hierheen trek, het dit vir my gevoel of ek nou in ’n regte egte grootmenshuis intrek,” sê Nadia terwyl sy vir die fotosessie opgetof word.

David maak gereeld kos in die egpaar se spoghuis in Pretoria, en nou kan hy ook sy eersteling bederf. Foto: Dino Codevilla

Maar aardse dinge is nie vir haar ’n prioriteit nie, eerder kosbare tye saam het haar geliefdes, soos die talle geraamde gesinsfoto’s in die huis getuig.

Dit is ’n pragtige lentedag en ook die eerste keer dat Davey buite die mure van hul huis geneem word, sê Nadia toe hulle in die tuin vir foto’s poseer. “Hy was nog nooit buite nie. Dit was heeltyd nog te koud en ons probeer hom maar soveel moontlik beskerm.”

Nadia en David het hul twee Jack Russell-honde, Eddie en Lola, op hul baba se koms voorberei deur die kombersie waarin hy ná sy geboorte geslaap het huis toe te bring.

Dis in hul hondebedjies gesit sodat hulle voor sy tuiskoms aan sy reuk gewoond kon raak. Al was die brakkies aan die begin onseker oor die onbekende reuk, het hulle gou daaraan gewoond geraak. “Dit het so goed gewerk,” vertel Nadia.

“Toe Davey by die huis kom, was hy nie vir hulle ’n vreemdeling nie en nou hou hulle albei heeltyd oor hom wag.” DIT is nie sommer om dowe neute dat die twee aan Davey as hul klein prinsie dink nie.

Voor sy koms het Nadia en David talle geskenke ontvang, onder meer speelgoed, kleertjies en boeke. Onder die boeke was Die Klein Prinsie, die Afrikaanse vertaling van die Franse verhaal Le Petit Prince, wat in 1943 deur Antoine de Saint-Exupéry geskryf is.

Die boek gaan oor die prinsie se avonture op wonderlike plekke en die lesse wat hy op sy reis leer. Veral een les wil Nadia en David graag hê hul seun moet leer: hoe belangrik dit is om nie bolangs te leef nie, maar eerder aanhoudend te soek na die waarheid en die dieper betekenis van die lewe.

Dié boekie wag nou in Davey se eie klein boekrak in sy kamer sodat hy dit eendag self kan lees. Nadia glimlag toe sy verwonderd na die lyfie in haar arms kyk.

“Teen die muur bo sy bed is die woorde Le Petit Prince ook in ’n naambordjie geraam, want hopelik sal ons klein prinsie eendag, nes sy pa, Frans kan praat, die wêreld verken en altyd onthou om met sy hart die mooi in die lewe raak te sien.”

Sy het ook die brief gedeel wat sy en David ná sy geboorte vir hul seun geskryf het; ’n boodskap om hom te verwelkom en wat hy saam met hom deur die lewe sal kan neem. 

’n Brief aan ons seun

Hul twee Jack Russell-­honde, Eddie en Lola, het klein Davey onmiddellik as ’n gesinslid aanvaar en hou gedurig oor hom wag. Foto: Dino Codevilla

Ons kosbare seuntjie, ons skryf vir jou dié brief propvol liefde, uit die diepte van ons hart, met die hoop dat ons woorde jou op jou lewenspad sal volg en wanneer jy dit eendag êrens herroep dit jou met vreugde sal omvou.

’n Brief om jou geboorte te vier, jou toekoms te verwelkom en jou aan jou herkoms te herinner. Wat ’n vreugde en voorreg om jou ouers te kan wees.

Ons kyk na jou en sien stukkies van onsself saamgesmelt in jou menswees en wil bars van trots oor die wonder van jou wese. Jy, as David Jacobus de Villiers die agtste, is ’n lewende getuienis van God se goedheid en trou.

Mag jy dit altyd onthou. Jy dra die naam van “God se geliefde” en beslis ons geliefde ook. Mag jy hierdie naam en waarheid met trots saam met jou dra waar jy ook al gaan en nooit vergeet nie: Jy is gelief, ons klein prinsie en ons grootste geskenk.

Wees verseker ons sal altyd probeer om vir jou vlerke te gee sodat jy in die rigting van jou drome kan vlieg. As ons kon, sou ons jou ook wou beskerm teen al die dinge in die lewe wat jou moontlik van daardie drome kan weerhou of wat jou langs die pad wil seermaak.

Ons sal altyd ons bes doen om dit wel te doen, maar vir die kere dat ons dalk nie kan nie, bid ons vir jou die krag en deursettingsvermoë toe om sterk te staan en vreesloos voort te gaan om voluit te lewe.

Dit is ons wens vir jou dat jy met oorgawe jou drome sal najaag en die lewe met albei arms sal aangryp en bowenal ten volle leef. Dat jy sal lag, liefhê en lewe sonder vrees. In ’n oogwink het jy ons harte kom steel en ’n leeftyd lank sal ons jou liefhê.

Jo Black sing ’n lied wat weerklink wanneer ons na jou kyk, agtergrondmusiek om jou te vergesel op al jou toekomstige avonture. Dit is ’n kreet wat jou sal dra wanneer jy dit nodig het.

Onthou hierdie woorde, ons liefste seun: Dit vat net een klein klippie om ’n reus plat te slaan ’n Klein vlam in die donker om ’n veldbrand te maak. Lig jou hande na die hemel, gooi jou sorge vir die wind. Verbreek die helse kettings wat jou elke dag verbind. Jy moet weet, jy kan net vorentoe gaan. Dit vat net een klein klippie om ’n reus plat te slaan.

Ons het jou lief sonder ophou, Davey, en gun jou ’n lewe wat jou grootste verwagtings kan oortref.

Met al ons liefde,

Pa en ma

Nadia & David bedank graag die volgende borge:
Bennetts-Babaprodukte: (Babatoiletware) www.bennettsforbabies.co.za; Doona South Africa (2-in-1-vervoerstelsel) www.dejon.co.za; Tiny Love (ontwikkelingsprodukte) www.dejon.co.za; Baby Pros (BABABEDlinne, voedingskussing, leerdrasak en babakamerbykomstighede) www.babypros.co.za; Sit Sit So Rocking Chairs (Wiegstoel) www.sitsitso.co.za; BabyWombWorld (BababenodigDhede) babywombworld.co.za; Baby Boutique Online (Babakamermeubels) www.babyboutiqueonline.co.za; Ree Collective (Babarugsak/doeksak) www.reecollective.co.za; Just Chillin (Baba- en kleuterklere) www.justchillin.co.za; Bloubessie-ontwerp (Digitale ontwerp & skryfbehoeftes en geskenke) www.bloubessie.co.za; JeleBebe (“Stylish teething jewellery & accessories) www.jelebebe.co.za; GlowFit Training (Pre- & Postnatale oefenspesialis) www.glowfittraining.co.za; Little Lads & Ladies Baby Boutique (babaprodukte) www.ladsandladies.co.za; Lia and Reese: Mamma-en-Baba-Boetiek (Baba-speelraam) liaandreese.co.za; BIBBINU (Geraamde muurdekor) www.bibbinu.co.za; Hello World by Dr Diana (borsvoedinghandleiding) www.dianaduplessis.co.za; Slender You (Postnatale gewigsverliesprogram) www.slenderyou.co.za; Lielies Decor (selfvoedingkussing & -bed) info@lielies.co.za; Rouge Decor (Thandana-leerbabasak) www.rougedecor.co.za; Lulla Doll (“Sleep companion”) dudubabacompany.co.za
  • Hare & grimering: Viné Judd; Stilering: Loandi Boersma; nadia – wit hemp, Superella; Geel top, Donker Nag Helder Dag