“Dis altyd lekkerder om ’n bad guy te speel as ’n good guy – good guys is vervelig!” vertel Frank aan Huisgenoot in sy kenmerkende diep stem. “So ek het dit verskriklik geniet. My karakter trek maklik ’n sneller, want hy’s senuweeagtig," skerts Frank.

In die nuwe fliek, wat in Augustus uitgereik word, sien ons 'n ander kant van die geliefde grapmaker wat ons gewoonlik op die silwerdoek of kassie sien.

akteur,fliek
Frank en sy bende. Foto: Verskaf

Die moeilikheid begin wanneer Daniël Niemand (vertolk deur Bennie Fourie) se vrou, Pauline (Roeline Daneel), hom vir ’n ander man los. Boonop is die ander man, Schalk (Tim Theron), nie sommer enigiemand nie, dit is heel toevallig hul huweliksberader.

In ’n wanhopige poging om sy naam in ere te herstel, vermoor Daniël, wat eintlik ’n vervelige ongeluksvoël is, per ongeluk sy eks-huweliksberader.

Tim Theron as die eks-huweliksberader, Schalk. Foto: Verskaf
akteur
Bennie vertolk die hoofrol van Daniël, die ongeluksvoël. Foto: Verskaf

Tot sy verbasing ontdek hy dat sy werkgewer, Frank Redelinghuys (Frank Opperman), en dié se broer, Hansie (Andre Weideman), nié die onskuldige eienaars van ’n konstruksiemaatskappy is, soos wat hulle voorgee nie. Hulle is eintlik die ongenaakbare leiers van ’n plaaslike misdaad-sindikaat. 

Hoewel hul bedoelings effe verdag en onduidelik voorkom, bied Frank en Hansie aan om vir Daniël te help om van die lyk ontslae te raak. Maar dit is nie lank voor die polisieman, insp. Acker (James Borthwick), aan Daniël se deur kom klop en hom in hegtenis neem nie.

akteur
James Borthwick as die inspekteur. Foto: Verskaf

Hoe benader Frank, wie se karakters mense dikwels laat skaterlag, die rol van 'n booswig?

“Nee, dis maar alles dieselfde. Jy probeer ’n ander karakter kry. Maar jy gaan soek baie keer daardie karakter in jouself,” vertel Frank oor die nuwe skobbejak-karakter, wat boonop sy naamgenoot is.

“Die bad guys is darem ook snaaks. Ek dink mense gaan definitief vir hom smile, maar hy’s ’n baddie en hy vloek verskriklik. Hy is ’n skurk met ’n klein wit hondjie, Annelise. Frank Redelinghuys is so mal soos ’n haas!” laat hy hoor.

aktrise
Marlee vertolk die rol van Erica. Foto: Verskaf

"Die regisseur, Quentin Krog, het briljante werk gedoen. Hy is baie goed. Die ou is self ’n akteur so dis veral lekker as jy met so iemand kan saamwerk," sê Frank.

Frank meen mense gaan naels kou en lekker lag.

“Dis so ’n lekker popcorn movie. En die girl wat daarin speel is uitstekend. Marlee (van der Merwe) gooi ’n lekker hou in 'n vegtoneel," verklap Frank.

Die fliek is meestal in Kaapstad verfilm, maar daar is ook tonele wat rondom die Wes-Kaapse dorpie Tulbagh verfilm is.

Kyk hier na die eerste, amptelike lokprent.


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.