Die stewige haker takel gewoonlik die sterkstes onder die sterkes of storm vreesloos by ’n losskrum in, maar vandag lyk dit asof die broek van die “Angry Warthog” – dié Haai se bynaam op die veld – dreig om te bewe.

Voor in die wit kapel met sy groot glasvensters en deure wag Akker van der Merwe (27) op sy bruid. Gelukkig is hy nie alleen in dié kerkie op Rietfontein naby Pretoria nie, want langs hom staan sy jonger broer en strooijonker, Duhan, wat net die vorige dag uit Skotland – waar hy in Edinburgh klubrugby speel – gevlieg het, en twee van sy boesemvriende: Niel Smit en die Leeu-stut Corné Fourie.

Die weervoorspelling sê swaar donderstorms is op pad, maar skuins voor vieruur is nie ’n enkele wolk al in sig nie. Die kapel se deure gaan oop en Beyoncé se Halo weergalm oor die luidsprekers.

Die bruidsgevolg, Yvette Bernange, Larisse du Preez en Yolande Buys, stap in. Die deure gaan weer toe, die vertrek word ’n oomblik lank stil en dan lui die kerkklok vier keer.

Op die klanke van Ellie Goulding se Love Me like You Do swaai die deure weer oop en Angelique Buys (26) – Akker se geliefde Angie – verskyn in ’n noupassende kantrok aan die sy van haar pa, Boet.

Akker van der Merwe
Die paar het ’n seun, Anrich, saam. Foto: Celeste Cilliers Photography.

Akker, wat eintlik Armand heet, het net die vorige dag gesê hy sal nie sommer emosioneel raak wanneer sy bruid na hom toe gestap kom nie, maar die geharde haker pink nou waaragtig ’n traan.

Sy stap tot langs hom en kyk met ’n glimlag op na haar bruidegom voor hulle vorentoe draai sodat die seremonie kan begin.

Voor op sy tannie Simoné (Akker se suster) se skoot, sit Anrich – die bruidspaar se eenjarige spruit – en kyk in verwondering na sy ma en pa.

Angelique Buys het spesiaal vir haar ’n tweede rok laat maak wat sy vinnig aangeglip het ná sy en Akker foto’s laat neem het. Foto: Celeste Cilliers Photography.

Af en toe maak hy geluidjies om hul aandag te trek, maar dan stap Simoné vinnig met hom uit en kom weer terug sodra hy rustig is.

“Die huwelik is soos legkaartstukkies,” sê ds. Sumari Redelinghuys, die vrou van die voormalige Springbokstut Julian Redelinghuys en ’n predikant by die NG kerk Muldersdrif, wat die verliefdes vandag in die huwelik bevestig.

“Baie water het onder die brug geloop om tot hier te kom, maar vandag is die dag wat die legkaartstukke inmekaarpas.” Maar toe Sumari vra, “Bring die wondergom sodat ons hierdie twee stukkies Van der Merwe aan mekaar kan vasplak,” staan twee van Angie se gevolg op en loop vinnig by die kerk uit.

Angie op pad na die kansel saam met haar pa, Boet. Foto: Celeste Cilliers Photography

“Ons het die ring vergeet,” sê Yolande en die gaste begin lag. Die vyf minute wat dit neem om Akker se ring te gaan haal in die kamer waar hulle reggemaak het, bied Angie die geleentheid om na die gaste te draai en met haar elegante trourok van De La Vida, ’n trourokboetiek in Johannesburg, te spog.

Yolande keer met die ring terug en sonder enige verdere verwyl steek Angie die ring aan Akker se vinger en verklaar Sumari dié twee as meneer en mevrou Van der Merwe.

Ná die diens kuier die gaste onder die hoë bome van die Lace on Timber-trouplek terwyl hulle aan pienk jenewer teug en aan kaasbrood, druiwe en biltong peusel.

Akker soen sy bruid. Foto: Celeste Cilliers Photography

Terwyl die happies bedien word, sny Akker en Angie hul drielaagtroukoek wat uit drie verskillende geure bestaan: Ferrero Rocher-sjokolade, pistachio met Amarula en rooi fluweelkoek.

Op die agtergrond vermaak die musiekduo ’n Pel van My die gaste, en in die verte kom die voorspelde donderstorm nadergekruip.

Net betyds, want meneer en mevrou Van der Merwe het pas hul foto’s klaar laat neem en Angie het in haar tweede uitrusting vir die aand geglip.

Angelique het die asems weggeslaan van haar nuwe man, die Springbok haker Akker van der Merwe én hul trougaste toe sy met dié rok verskyn het. Foto: Celeste Cilliers Photography.

In die onthaalsaal en agter die bruidspaar se tafel hang stringe feetjieliggies uit die dak. Op die drie lang tafels is kerse van verskillende lengtes en ruikers van ligpienk en wit rose met loof.

Elke gas kry ook sy naamkaartjie met ’n Lindt-sjokolade daaraan geheg as ’n dankiesêgeskenkie. Teen seweuur vra die seremoniemeester, Carl Mulock-Houwer, Angie se oom, die sowat 120 gaste – onder wie ’n paar Haaie en Leeus – om te staan.

Die Du Preez-broers, (van links na regs) Daniel, Robert en Jean-Luc. Foto: Celeste Cilliers Photography
Die Sprinbokspeler Faf de Klerk. Foto: Celeste Cilliers Photography
Van links na regs: Marius Louw, Louis Schreuder, Jannes Snyman, Andries Coetzee, Dillion Smit, Robert du Preez, Corné Fourie, Ruan Botha, Akker, André Esterhuizen, Duhan van der Merwe en Malcolm Marx. Foto: Celeste Cilliers Photography

Op die maat van John Legend se liedjie Good Night stap Angie in haar roomkleurige Elli-Nicole-kantrok en Akker in sy Frank Bespoke-troupak die onthaalsaal binne.

Angie was nog in ’n ander verhouding toe Akker vroeg in 2014 die eerste keer haar oog tref toe hy in sy no. 2-trui vir die Pukke se Varsitybekerspan in Potchefstroom uitdraf.

Angelique het ook spesiaal skoene laat maak wat sy saam met haar tweede rok gedra het. Foto: Celeste Cilliers Photography.

Sy gespierde bene het die skoonheidskundestudent se hart destyds vinniger laat klop, en toe Angie weer enkellopend was, het sy Akker deur gemeenskaplike vriende op Facebook opgespoor en aan hom ’n glimlaggesiggie gestuur.

Die haker het ’n knipoog-emoji teruggestuur, maar Angie – wat deesdae voltyds ma vir klein Anrich is – het nie weer teruggeskryf nie. “Gaan jy my dan nooit antwoord nie?” wou Akker eendag op Facebook weet.

Die 120 gaste, onder wie baie rugbyspelers van die Leeus (waar Akker voorheen gespeel het) en die Haaie, gooi konfetti oor die pasgetroude Van der Merwe-­egpaar. Sumari Redelinghuys, die huweliksbevestiger op dié spesiale dag, het die huwelik as ’n legkaart beskryf waarin dié twee Van der Merwe-stukkies perfek inmekaarpas. Foto: Celeste Cilliers Photography

Hy het toe ’n slim slenter bedink en gevra of die blondekop vir hom Johannesburg sal wys wanneer hy later daardie jaar ’n kontrak met die Goue Leeus sluit.

“Twee weke het verloop voor ek op die boodskap geantwoord het,” sê Angie en glimlag vir Akker waar ons die dag voor hul troue by die huis van een van haar vriendinne in Fourways, Johannesburg, gesels.

In September 2014 het hulle mekaar vir die eerste keer by Akker se huis ontmoet. Hoewel hy nie regtig in liefde met die eerste oogopslag glo nie, vertel Akker dat hy nog die rooi jeans onthou wat Angie daardie dag aangehad het.

Die bruid het stralend gelyk in haar eerste uitrusting vir die aand: ’n noupassende kantrok deur De La Vida. Foto: Celeste Cilliers Photography

Ná hul eerste soen, vertel Akker skaam, het hy nog vir Angie ’n boodskap gestuur om te hoor of dit normaal is dat hy heeltyd glimlag.

Drie maande later het Akker “sommer net gesê hulle gaan nou uit” en ná ’n verhouding van twee jaar, het hulle in Mei 2017 met ’n groot skok uitgevind Angie is swanger.

Akker het ’n Frank Bespoke-­troupak gedra. Foto: Celeste Cilliers Photography

Akker wou opsluit trou, maar Angie het gesê hulle moet eerder wag tot hulle albei gereed is. In Junie verlede jaar het Akker ’n helikopterrit in Durban – die paartjie bly in Ballito – bespreek, en toe hulle op ’n koppie land, het die rugbyreus op een knie afgesak.

Hy het ’n hele toespraak gereed gehad, maar die woorde het nie uitgekom soos hy dit beplan het nie en al wat hy kon uitkry was: “Dit het ’n kind gevat, maar sal jy met my trou?”

Vandag weet ons Angie het ja gesê, en Akker glimlag op sy breedste. Hy beskou homself nie as ’n romantikus nie, maar koer tog in sy toespraak oor sy bruid: “My lief, ek is dankbaar dat ek vyf jaar gelede vir jou daai knipoog op Facebook gestuur het.”

Die paartjie se drielaag-­troukoek het uit drie verskillende geure (Ferrero Rocher-sjokolade, pistachio met Amarula en rooi fluweelkoek) bestaan. Foto: Celeste Cilliers Photography
Die onthaalsaal by die Lace on Timber-trouplek in Rietfontein, naby Pretoria, was versier met feetjieliggies wat uit die dak hang, en op die drie lang tafels was blommerangskikkings van wit en ligpienk rose en loof uitgepak. Foto: Celeste Cilliers Photography

Ná die toesprake bedien die kelners hoenderpasteitjies, en daarna staan die gaste tou vir heerlike geroosterde appelkooshoender, ribbetjies, aartappels en pampoenkoekies.

“Ek was baie puntenerig oor die liedjies wat ons gekies het. Ek glo dat elke liedjie se woorde ’n spesiale betekenis moet hê,” gesels Akker oor Ruelle se I Get to Love You waarmee die bruidspaar die dansbaan open.

Akker en sy Angie het op Ruelle se I Get to Love You die dansbaan geopen. Foto: Celeste Cilliers Photography

’n Wittebrood moet eers wag, want Akker moet huiswaarts keer om voor te berei vir die Haaie se Superrugbyseisoen wat op 15 Februarie afskop. Angie vertel dit pla haar nie veel dat hulle nie dadelik na ’n eiland kan vertrek nie.

“Al neem hy my later die jaar Drakensberge toe vir ’n naweek sal ek gelukkig wees. Solank dit net ek en hy is, is ek tevrede.

Die bruidspaar bedank
Baker Boys (Troukoek) 082-413-9613; Elli-Nicole Bridal & Shoes (Onthaal-trourok en trouskoene) Ellinicole.com; Mega Music DJ (Musiek) 076-037-0169; Funky Photobooth (Fotohoekie) Funkyphotobooth.co.za; Celeste Cilliers Photography (Foto’s) Celestecilliers.com; Jakkalsvlei (Wyn) Jakkalsvlei.co.za; Guarnieri Atelier (Gevolg se rokke) Guarnieratelier.co.za; ’n Pel Van My (Musiek) NPELVANMY.co.za; Frank Bespoke (Mans se pakke) Frankbespoke.co.za; White Motion Films (Trouvideo) Whitemotionfilms.co.za