Haar Kersdag kleintyd klink soos baie van ons s’n: swem in die naaste swembad, see of poeletjie water, en met middagete word oorvloedig gebraai.

Maar deesdae se deftige fees in ’n winterpaleis is so ver verwyder van die feestyd van haar kinderdae as wat Monaco van Benoni is. Prinses Charlene (39) is nou ’n beroemde Europese koninklike wat ’n koue Kersfees vier in een van die wêreld se glansrykste paleise.

Daar is geen ooreenkoms met ’n Suid-Afrikaanse Kersfees nie
Prinses Charlene

2017 is iets baie besonders, want sy sal omring wees deur haar eie familie. Kort voor Kersfees het die prinses aan Huisgenoot gesê sy kan skaars wag dat haar Suid-Afrikaanse geliefdes, onder andere pa Mike en ma Lynette, in Monaco aankom om die groot dag saam met haar deur te bring.

Haar Deurlugtige Hoogheid, soos die boorling van Bulawayo – wat ons destyds leer ken het as die Springbokswemmer Charlene Wittstock – deesdae bekendstaan, het ons in ’n eksklusiewe onderhoud ’n kykie gegee op haar lewe in die paleis.

“Op Oukersaand word in die paleis vir ons ’n mis gehou en daarna sit ons almal saam aan vir ete. Agterna maak ons saam ons geskenke oop,” vertel sy.

En wat is op die spyskaart?

“Die Kersbraaiboud is my gunsteling,” verklap sy. “Op Kersdag geniet ons middagete by die huis. My hele Suid-Afrikaanse familie kuier vanjaar saam met ons.

“Daar is geen ooreenkoms met ’n Suid-Afrikaanse Kersfees nie, waar op Kersdag ’n braai langs die swembad of op die strand is,” vertel sy.

“Hier is dit natuurlik nou yskoud en almal sit knus by die kaggel.”

Haar man, prins Albert (59), sal ook daar wees, maar die middelpunt van almal se aandag sal ongetwyfeld hul skattige tweeling wees.

Charlene en Jacques by Gabriella en prins Albert. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die driejarige prins Jacques en prinses Gabriella is duidelik die lig van haar lewe.

Dié einste prinsie sal eendag Monaco se staatshoof word. In die blonde troonopvolger se are bruis blou en Suid-Afrikaanse bloed, en dis op foto’s duidelik sy ma is vreeslik trots op die pikkie.

“My beste Kersfees tot dusver was toe ek met my pasgebore kinders by die huis kom en Kersfees saam met hulle en my man kon vier,” vertel sy.

Die twee het op 10 Desember verjaar en die koninklike gesin het dit gevier met “ ’n klein partytjie vir familie en vriende”, vertel sy. “Hulle is eintlik nog babas; eenvoudige dinge maak hulle gelukkig.”

Wat geskenke betref, is hulle net soos enige ander kinders. “Soos die meeste meisietjies is Gabriella lief vir tiaras; Jacques hou van motors en brandweerwaens,” vertel die pragtige ma.

“Hy is gek oor Sam le pompier, ’n strokiesprentreeks oor ’n brandweerman.” Dié tyd van die jaar vier die adellike gesin nie net die tweeling se verjaardag en Kersfees nie; op 6 Januarie neem hulle ook deel aan ’n eeue oue tradisie wanneer hulle Galette des Rois (oftewel “koek van die konings”) speel.

Hulle ontmoet ’n brandweerman soos die strokieskarakter Sam le pompier. Foto: Manuel Vitali/Direction de la Communication/ Palais Princier de Monaco

Tydens dié speletjie eet familie en vriende saam ’n ovaalvormige koek waarin ’n porseleinfiguur versteek is. “Die doel is om die aankoms van die drie konings (of wyse manne) in Betlehem te vier,” verduidelik die prinses.

“Almal staan om die tafel en die jongste kind moet onder die tafel wegkruip terwyl die koek gesny word. Dan kom die kind uit en bedien dit aan almal wat daar is. Die een wat die sny met die figuurtjie kry, word as koning of koningin gekroon.”

Dit was ’n besige jaar vir Suid-Afrika se eie prinses; sy moes die een liefdadigheidsgeleentheid en partytjie ná die ander bywoon. Elke keer het sy die koppe laat draai met haar elegante uitrustings.

In November het sy die kollig gesteel toe sy in Monaco aan die arm van haar prins by die Wêreldrugbyprysuitdeling in ’n asemrowende swart rok verskyn. Op Monaco se jaarlikse nasionale dag vroeër verlede maand was sy pure prinses in ’n kobaltblou jasrok deur Akris met ’n dramatiese breërandhoed.

Hy is baie beskermend teenoor haar en niks is ooit enigeen van hulle se fout nie
Prinses Charlene

Die tweeling, geklee in ouwêreldse kleertjies, was ook daar – tot groot vreugde van die skares wat onder die paleis se balkon saamgedrom het.

Jacques was uitgedos in ’n grys miniatuurpak en sy sussie in ’n pragtige blomrokkie. Charlene se skoonsusters, prinses Stéphanie (52) en prinses Caroline (60) van Hannover, het in swart jasrokke saam met hulle op die balkon verskyn.

As hoof van die familie het Albert voor sy vrou en susters gestaan en indrukwekkend gelyk in volle militêre mondering. Maar o aarde, daardie snor van hom!

Ná die verskyning het mense gegis die prins het seker sy snor gekweek om die Movember-veldtog vir die bewusmaking van manskanker te steun, maar dit blyk toe dit was om ’n heel ander rede.

“Van die Napoleontiese tydperk tot byna aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog was dit verpligtend vir die meeste Franse regimente om ’n snor te hê as ’n teken van gesag of dapperheid,” het Albert aan die tydskrif People verduidelik.

Die tweeling se oupa prins Rainier III het ook ’n snor gehad. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hy het toe die snor gekweek om die 200-jarige bestaan van die paleiswag te vier. En hoe voel Charlene oor die snor? Al wat haar man wou verklap, was: “Dis nie ’n baie gewilde projek nie.”

Selfs al lê Charlene se dae van swemglorie agter haar, speel dié sportsoort steeds ’n groot rol in haar lewe. Hoewel sy nie meer mededingend deelneem nie, sorg sy dat duisende kinders in alle wêrelddele kop bo water kan hou – letterlik.

Haar passie is om sterftes weens verdrinking te bekamp deur die Prinses Charlene van Monaco-stigting. Vandat sy dit in 2012 gestig het, is meer as 300 000 mense wêreldwyd reeds bereik.

Charlene het reeds 300 000 mense bereik met haar veldtog om verdrinkings te keer. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Sy maak natuurlik seker daardie lesse word ook by die huis geleer, en haar kinders is albei tuis in die water, vertel sy trots aan Huisgenoot.

“My grootste hoogtepunt vanjaar was toe my seun op twee en ’n half heeltemal op sy eie 25 m kon swem,” sê sy. Nes ’n gewone ma kan sy haar nie verhelp om soms met die tweetjies te spog nie.

Sy het selfs ’n rukkie gelede ’n foto van hulle op Instagram geplaas met die byskrif: “Ons eerste haarsny.” Die boetie en sussie is baie lief vir mekaar, het Charlene onlangs in ’n onderhoud met Paris Match vertel.

“Eendag het Gabriella ’n reuseknop aan haar kop gehad. Terwyl ek besig was om haar te troos, sien ek hoe Jacques met sy vuisies slaan op die tafel waar sy haar kop gekap het en skree: ‘Stoute tafel!’

“Hy is baie beskermend teenoor haar en niks is ooit enigeen van hulle se fout nie. Hulle troos mekaar altyd.

Charlene met haar kleingoed op ’n uitstappie nadat hul hare die eerste keer gesny is. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Ek kan ure kyk hoe hulle speel.

“Hulle is wonderlik en het geen einde nie, wat my natuurlik soms uitput,” het Charlene vertel.

Die kleuters moet nog hul ma se vaderland besoek, maar intussen maak Charlene seker hulle weet waar sy vandaan kom. Sy het al vertel hoewel hulle tuis Engels en Frans praat, het sy al vir hulle ’n paar Afrikaanse en Zoeloewoorde geleer.

“Afrika is in my hart en in my are,” het die prinses gesê toe sy in April hier was.

“Ek kan skaars wag dat hulle (na Suid-Afrika) gaan. Ek kan nie wag dat hulle Afrika leer ken nie. Ek kom uit Afrika; dis my erfenis.”

Ekstra bronne: Daily mail, Hello! Magazine, People, joburgeast.getitonline.co.za