Hulle was die gewildste paartjie in die jongste seisoen van Boer Soek ’n Vrou: die Engelse roos met die blonde hare en die platjie met die pittige sêgoed. 

En toe boer Rèan begin April ’n knoets van ’n verloofring aan sy Rox-Zee se vinger steek, het dit gelyk of hul romanse ’n sprokieseinde gaan hê. 

Maar nou lê die sprokie aan skerwe, nes haar drome oor ’n spogtroue kompleet met ’n trourok uit Londen, ’n huis vol kinderlaggies en ’n man saam met wie sy wou oud word. 

“Ek weet nie hoe ek voel nie – die een oomblik breek my hart van verlange en die volgende wil ek niks anders doen as dit agter my sit nie,” sê Rox-Zee Veldhuizen (27). 

Vir die eerste keer praat sy haar hart uit oor die redes waarom sy haar verlowing met Rèan Clasen ná net twee weke verbreek het. Haar ligblou oë, gewoonlik vonkelend, lyk vandag troebel. 

'Ek weet nie hoe ek voel nie – die een oomblik breek my hart van verlange en die volgende wil ek niks anders doen as dit agter my sit nie,' sê Rox-Zee Veldhuizen.

“Ek verlang na hom en ek is lief vir hom, en ek wens hom net die beste toe,” sê sy oor die sjarmante wingerd-en-pekanneutboer van Groblershoop in die Noord-Kaap wat met hul eerste ontmoeting voor die kameras laat hoor het: “Jy’s mooi, maar jy’s Engels.” 

Daarmee het hy haar bloedrooi laat bloos, die kykers se harte gesteel en onwetend hul liefdesverhaal opgesom wat toe die hele tyd gedoem was. 

Die bitter ironie is dat die taalverskil tussen hulle – waaroor hulle eens so goedig geskerts het – eindelik ’n onoorbrugbare verskil geword het, veral in sy ouers se oë, beweer Rox-Zee. 

“Hulle’t ons verhouding van die begin af nie goedgekeur nie – deels omdat ek Engels is, hulle gedink het ek sou nie op die plaas aanpas nie en ’n Afrikaanse meisie vir hom sou wou kies, en omdat ons planne gehad het om nie altyd op die plaas aan te bly nie,” beweer sy. 

rèan clasen,rox-zee veldhuizen,boer soek n vrou,ve
Rèan Clasen het Rox-Zee Veldhuizen vroeër die maand gevra om met hom te trou. Foto: Verskaf

Rèan se ma, Estelle Clasen, het aan Huisgenoot gesê hulle het as ’n familie besluit om geen kommentaar te lewer nie. 

“Ons wil nie by hierdie hele bekgeveg betrokke raak nie. Ek en Rèan en ons vriende en familie weet wat die waarheid is, en dis al wat saak maak. ’n Ouer sal mos maar ’n paar slae vir sy kind vat.” 

Om te verduidelik waarom die verlowing so skielik gesneuwel het, het Rox-Zee ’n rits WhatsApp-boodskappe aan Huisgenoot gewys. 

Op regsadvies publiseer Huisgenoot nie die volledige boodskappe nie. Daaruit blyk dit van Rèan se mense, onder andere sy “Moeks”, was gekant teen die verhouding. 

Rox-Zee beweer haar pogings om na haar aanstaande skoonouers uit te reik en hulle ’n geleentheid te gee om haar beter te leer ken was vergeefs. 

Die bitter ironie is dat die taalverskil tussen hulle – waaroor hulle eens so goedig geskerts het – eindelik ’n onoorbrugbare verskil geword het, veral in sy ouers se oë, beweer Rox-Zee.

Sy het aan Huisgenoot ’n boodskap gewys waarin Rèan se ma aan hom sê: “Sy is nie welkom op ons grond nie.” 

Daarby het Estelle aan haar seun geskryf: “Jy stuur hierdie boodskap vir haar.” Nou is alles tussen Rox-Zee en Rèan verby – en dis finaal, sê sy. 

“Hulle wou nie glo ek is sy trouvrou nie, en dis jammer, want ek was van die begin af seker hy is my trouman. Hy moes my telkens verdedig; ook sy besluit om aan my verloof te raak. Dit het ons uitmekaargedryf.” 

Dit was sekerlik die moeilikste besluit van haar lewe om hul verlowing te verbreek, vertel Rox-Zee oor ’n beker koffie in ’n gesellige koffierestaurant naby haar ouerhuis in Hillcrest buite Durban. 

Die blonde skoonheid lyk afgemat en haar oë pofferig van talle slapelose nagte. 

rox-zee veldhuizen,rèan clasen,boer soek n vrou
Rox-Zee Veldhuizen praat vir die eerste keer haar hart uit oor die redes waarom sy haar verlowing met Rèan Clasen ná net twee weke verbreek het. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ons het ’n punt bereik waar ons albei besef het ons kan nie meer nie. Ek was moeg, afgemat oor die twis met sy ouers wat al maande lank voortgeduur het.” 

Rox-Zee het destyds op die nippertjie vir die reeks ingeskryf nadat ’n foto van die vriendelike jong boer haar aandag in die sosiale media getrek het. 

In haar brief aan Rèan het sy geskryf sy is mal oor sy humorsin en sy skaam laggie, en sy dink hulle het dieselfde waardes. 

Maar sy was nie daarop voorbereid hoe vinnig hy haar voete onder haar sou uitslaan nie. 

Reeds nadat hulle die eerste keer 20 minute saam voor die TV-kameras deurgebring het, het sy vir die ander meisies gesê: “Ek dink ek het pas my trouman ontmoet..” 

“Ek was van die eerste dag af eerlik oor my gevoelens. Hy het geweet ek is mal oor hom. En ja, dit was ’n groot verligting om te weet hy is ook mal oor my.” 

Rox-Zee het destyds op die nippertjie vir die reeks ingeskryf nadat ’n foto van die vriendelike jong boer haar aandag in die sosiale media getrek het.

Toe sy een van die drie vroue was wat hy genooi het om by hom op die plaas te gaan kuier, het Rox-Zee gedink sy het ’n goeie indruk op sy ouers gemaak. 

Maar Rox-Zee is wreed ontnugter toe sy daarna besef Rèan se ma dink sy gaan nie op die plaas aanpas nie. Ook ander mense in die Clasens se binnekring het glo hul bedenkings oor die ontluikende romanse gehad. 

Rox-Zee vertel sy het kwetsende boodskappe onder oë gehad en bekom omdat sy en Rèan besluit het om in hul verhouding vir mekaar vrye toegang tot hul selfone te gee. Rèan ontken dit. 

Nou lyk sy hartseer, asof sy teen die trane veg. “Ek’t gedink hulle is vies omdat ek op televisie vir Rèan gesê het ek het ’n vreemde oomblik by sy huis ervaar. Maar dit was nie met verwysing na sy ouers nie – dis omdat ek toe nog nie seker was hoe hy oor my gevoel het nie.” 

Die twis tussen haar en Rèan se ouers het ál hewiger en heftiger geword, beweer sy.

réan clasen,rox-zee veldhuizen,boer soek n vrou,ve
’n Skermgreep van Réan en Rox-Zee by Michelle (naaslinks) en Minette, die ander twee vroue wat hy plaas toe genooi het. Verskaf

“Hulle het gemeen die kultuurverskille tussen ons is te groot; dat ek hom slegte gewoontes soos rook en drink aanleer. Maar dis nie waar nie; terwyl hy saam met my was, het hy juis vir ’n ruk ophou drink.”

“Daar was baie kwade gevoelens oor ons langtermynplanne omdat ek nie permanent plaas toe wou trek nie,” beweer Rox-Zee. 

“Maar ek en Rèan het dit sedert die begin van ons verhouding bespreek en ons albei was oukei daarmee dat ons net ’n paar jaar op die plaas sou deurbring en dan ’n besluit sou neem oor die volgende stap vir ons toekoms. Ons het hierdie planne gefinaliseer die naweek toe Rèan my ouers gevra het of hy met my mag trou,” sê Rox-Zee. 

“Deur dit alles het hy vir my baklei; hy het altyd my kant gekies.” Terwyl die storms om hulle gewoed het, het hulle aan mekaar vasgehou, vertel sy. 

Soos die keer toe Rèan laat weet het van ’n familievergadering wat die volgende week gehou sou word om hul verhouding te bespreek. 

Toe sy een van die drie vroue was wat hy genooi het om by hom op die plaas te gaan kuier, het Rox-Zee gedink sy het ’n goeie indruk op sy ouers gemaak.

Dinge het pas real geraak. Ek sal daardeur kom, ek is lief vir jou. Ek en jy moet ons planne regkry – ek gaan met jou trou, lui sy boodskap. 

Die eerste naweek in April het hy vir haar gaan kuier. Daar by haar ouerhuis waar hulle ryperde aanhou, het hy vir haar die jawoord gevra. 

“Dit was die mooiste oomblik van my lewe, ondanks alles. Ons wou saam deur alles werk,” onthou sy. 

Rèan wou aanvanklik die nuus van hul verlowing teenoor sy ouers stil hou, maar Rox-Zee sê sy het hom oorreed om oop kaarte met hulle daaroor te speel. 

Hy het hulle nog op dieselfde dag – 6 April – gebel. “Hy het ná ’n ure lange gesprek met rooigehuilde oë teruggekom. Sy ouers het gesê dit dra nie hul goedkeuring weg nie; hulle wil nie hê hy moet met my trou nie.” 

rox-zee veldhuizen,boer soek n vrou,verlowing
Sy het dalk planne gehad om nie vir altyd op die plaas aan te bly nie, maar Rox-Zee sê sy het haar tye daar baie geniet. Foto: Verskaf

Terwyl die spanning hoog geloop het, het Rox-Zee en Rèan ook ál meer vasgesit, tot sy later gevoel het dit sal beter wees om hul verhouding te beëindig, vertel sy. 

Waar Rèan voorheen vir haar in die bres getree het, het sy nader aan die einde ook woordewisselings met sy ouers gehad. 

“Hy is ’n wonderlike mens, en dit breek my hart om te weet ek kan nie met hom trou nie. Maar ons het nie ’n sweempie ondersteuning vir ons verhouding van sy familie gekry nie – en om omring te wees met mense wat om geen rede niks van jou hou nie, is werklik moeilik. 

“Dit sal vir die res van my lewe vir my hartverskeurend wees dat ek van hom moes wegloop.” 

Dae nadat sy hul verlowing tydens die Paasnaweek verbreek het, wroeg sy steeds met onbeantwoorde vrae oor waarom sy onwelkom by Rèan se ouerhuis was. 

‘Hulle wou nie glo ek is sy trouvrou nie, en dis jammer’

Maar, sê Rox-Zee, sy berus haar daarin dat dinge altyd gebeur soos dit moet. Sy en Rèan het nou alle kontak verbreek. 

“Ek sal jok as ek sê ek is nie gefrustreerd nie. Ons het soveel planne gehad. Ek het ’n trourok in Londen gekoop wat ek nog moet afhaal.” 

Dit was in die tyd toe die reünie-episode van Boer Soek ’n Vrou geskiet is waarin Rèan toe alleen opgedaag het.” 

‘Deur dit alles het hy vir my baklei; hy het altyd my kant gekies’


Sy vertel sy het ook “duisende rande” uit haar eie sak aan meubels vir die plaashuis bestee waar sy by Rèan sou ingetrek het. Sy ouers woon op die buurplaas. 

“Ek weet ons sou kon werk,” sê sy met nadruk oor die huwelik wat nou ’n onmoontlike droom geword het. “Maar nie terwyl die vuishoue na my kant kom nie. Dit het onmoontlik geword om aan te hou veg.” 

réan clasen,rox-zee veldhuizen,boer soek n vrou,ve
Réan was haar trouman, sê Rox-Zee, maar weens konflik tussen haar en sy ouers lê die sprokie van hul TV-liefde nou aan skerwe. Foto: Verskaf

“Nou probeer ek sin maak van die afgelope agt maande en hoe ons toegelaat het dat sy ouers wen. Dis iets waarmee ek en hy vir die res van ons lewe sal moet saamleef.” 

  • Rèan wou nie ’n onderhoud toestaan nie, maar het by navraag volgehou sy ouers het niks met die verbrokkeling van sy verlowing te doen gehad nie. 

“Dit was absoluut my besluit om nie meer in die verhouding te wees nie. Die besluit het niks met my ouers te doen nie. Ek wou nie meer aangaan met die verhouding nie – daar is duisend redes hoekom. Waarom my ouers nou hierby betrek word, is vir my onduidelik.”

“Ek wil dit duidelik stel: Ek wil nie in ’n moddergooiery betrokke raak nie; ek wou nog nooit. Ek wil hierdie boek toemaak. Ek is nie ’n bakleier nie – ek is nie so grootgemaak nie, en al wat ek wil doen, is met my lewe voortgaan.”