In die gesellige sitkamer van ’n meenthuis in ’n sekuriteitskompleks in Mbombela hang ’n skets met die woorde: “Every love story is beautiful, but ours is my favourite.”

Die liefdesverhaal van die oudrugbyspeler Deon Helberg (28) en sy verloofde, Jani Gous (27), is inderdaad ’n pragtige storie van twee jong mense wat mekaar ontmoet, by mekaar aanklank gevind en verlief geraak het – en nou na hul troue en eersteling se geboorte uitsien.

Tog is daar iets anders aan hul storie, want hulle het mekaar gevind ná vele kronkelpaaie, ook van die liefde.

Die liefde het immers ook al vir Deon ’n skrikwekkende nadraai gehad toe hy in 2010 in ’n skandaal beland en byna met sy lewe daarvoor geboet het.

Hy het toe om ander redes as sy kookwater rugby vir die Blou Bulle die nuus gehaal nadat dit op die lappe gekom het hy was in ’n liefdesdriehoek gewikkel.

Die vroue in sy lewe was sy destydse meisie, die model Jalien Reyneke (toe 20), en haar ma, Manda (toe 47).

Nadat Deon “tannie Manda”, soos sy bekend geraak het, se toenadering verwerp het, het sy twee Nigeriërs gehuur om hom ’n les leer.

Hulle het kleinkoppie getrek, hom gewaarsku en die polisie se hulp ontbied.

Om Manda in ’n lokval te lei, is Deon afgeneem waar hy kamma in ’n plas bloed op ’n sypaadjie in Pretoria lê.

Sy is kort daarna in hegtenis geneem toe sy die Nigeriese mans ontmoet om hulle vir hul dienste te betaal.

In 2011 is sy skuldig bevind aan aanhitsing tot ernstige aanranding en gevonnis tot drie jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar.

Daardie dag met die fotosessie vir sy skyndood het hy nooit kon dink hy sou agt jaar later saam met die meisie van sy drome vir foto’s poseer nie, vertel ’n gelukkige Deon vandag.

Dan erken hy terwyl hy skaam glimlag: Jani het sy lewe verander.

Sy het hom geleer om die harde kant van sy menswees opsy te skuif en plek te maak vir sy sagter self. En nou wag die mooiste nuwe avontuur op hulle, want binnekort verwelkom die twee ’n nuwe mensie – baba Helberg.

Hulle het in Kanada verloof geraak. Foto: Verskaf

Deon en Jani het mekaar in Junie 2016 tydens ’n kuier by gemeenskaplike vriende ontmoet kort nadat Deon by die Pumas-rugbyspan in Mbombela aangesluit het.

Natuurlik het sy geweet wie hy is, vertel Jani; “almal het mos van hom geweet.” Die twee het dadelik van mekaar gehou: sy omdat sy “’n sucker vir blou ogies en iemand met ’n skamerige persoonlikheid” is; hy omdat hy van haar borrelende persoonlikheid gehou het en “omdat sy so die teenoorgestelde van my is”.

Hulle het in dieselfde vriendekring beweeg en mekaar gereeld by braaivleise raakgeloop. Later het hulle af en toe saam uitgegaan.

“Ons was sommer net gemaklik met mekaar,” onthou Deon.

Op Jani se verjaardag op 23 Februarie 2017 het hy vir haar ’n boodskap gestuur om haar geluk te wens.

Hy vra toe sommer op die koop toe: “Kom ons kys nou en kry klaar,” vertel sy laggend. Deon skud sy kop verleë.

“Ja, jong, ek is mos nou nie eintlik die romantiese tipe nie!”

Maar met hul verlowing verlede November hoog in Kanada se Rotsgebergte was dit ’n heel ander storie. Die twee het by Deon se ouer suster, Nina, en dié se man, Hein de Jager, gaan kuier. Deon wou die verlowing vir Jani spesiaal maak.

Haar verloofring bestaan uit ’n dubbelband in witgoud en ’n diamant in die prinsessnit gesny. Foto: Huisgenoot/Dino Codevilla

“Dit moes ’n dag wees wat sy nooit sou vergeet nie,” sê hy. Gelukkig het sy suster hom met die reëlings gehelp.

Deon en Nina het agter Jani se rug gekonkel en ’n uitstappie is gereël om met ’n kabelkarretjie teen ’n bergkruin uit te ry. Jani lag terwyl Deon die storie vertel, want eintlik was sy doodsbeangs daar bo omdat sy aan hoogtevrees ly, erken sy.

Deon en Nina het afgespreek hulle sou ’n mooi uitkykpunt soek. Wanneer hy reg was vir die groot vraag, sou hy haar ’n teken gee om dadelik foto’s te neem.

“Ek het my doodgestres,” bieg Deon nou. “Dit maak nie saak hoe lank jy saam met iemand is nie, jy stres steeds wanneer jy daardie vraag moet vra.

“Ek het ook vir Nina gesê as daar mense naby was, sou ek dit nie gedoen het nie. Maar omdat dit so koud was, was daar gelukkig min mense.”

Toe die groot oomblik aanbreek, was hy so senuagtig dat hy heeltemal vergeet het om vir Nina te beduie dis tyd om hulle te kiek.

Toe hy rondkyk en sien niemand kyk vir hulle nie, het hy gou-gou gekniel en haar gevra om sy vrou te word. Jani het dadelik ja gesê, maar wou in dieselfde asem weet of haar ma darem daarvan weet.

En ja, kon Deon haar gerusstel, hy het inderdaad haar ma, Riana, se toestemming gevra. Haar pa is 20 jaar gelede oorlede.

“Dit was die mooiste en romantiesste oomblik in my lewe,” vertel Jani stralend. Maar sy het een fout gemaak, voeg sy skertsend by.

“Ek het nie gehuil nie, en dit word tot vandag nog teen my gehou!”

“Ja,” spot Deon saam, “sy kon darem ’n ou huiltjie gewys het!”

In April vanjaar het hulle begin vermoed sy is swanger. Die een met die sagte hart het toe ’n bietjie kwaai geraak, onthou Deon haar skielike buierigheid.

Saam met hul hondekinders, Nola (links) en ­Tucker, in hul sitkamer in Mbombela, waar Jani en Deon albei werk. Die twee honde sal op hul groot dag die ring­draers wees. Foto: Verskaf

“Ons het ’n toets gekoop. Toe dit positief wys, het ons sommer nog vier gaan koop, net om seker te maak die eerste een was nie foutief nie.”

Dit was vir hulle ’n skok, want hulle het nie beplan om so gou met ’n gesin te begin nie, verduidelik Jani.

Maar nou gryp hulle die geleentheid aan. Hulle verwag hul eersteling in Desember en beplan om vroeg volgende jaar by ’n trouplek iewers buite Mbombela af te haak.

Deon het in sy rugbyloopbaan ook vir die Blitsbokke uitgedraf, maar het verlede jaar weens ’n enkelbesering uit die spel getree.

Hy werk nou as verkoopsverteenwoordiger by ’n maatskappy wat verpakkingsprodukte aan die landbousektor lewer.

Jani werk in die klantediensafdeling van ’n motorhandelaar. Deon se een bulterriër, Tucker, kom klim op sy skoot.

Die ander een, Nola, soek aandag by sy voete. Dié twee is soos sy kinders en ’n belangrike deel van sy lewe, sê hy terwyl hy oor hul kop vryf.

Natuurlik sal hulle ook op die troue wees en selfs die ringe inbring, gesels hy verder.

“Dit is my grootste vereiste; oor die ander dinge sal ek aanpas!”

Dan raak hy ernstig en vertel sy romanse met Jani is sy eerste langtermynverhouding nadat dinge in 2010 tussen hom, Manda en Jalien versuur het.

“Ek was heeltemal gelukkig op my eie, maar vandag is ek oud genoeg om waarde te sien,” som hy sy verhouding met Jani op. Dis haar eerste ernstige verhouding.

“Maar op skool het ek altyd geweet ek sou eendag my prins op die wit perd kry,” sê sy en kyk diep in daardie blou oë wat uit die staanspoor haar hart week gemaak het.

In die kombuis hang ook ’n slagspreuk: “What I love most about my home is who I share it with.”