Haar oë skiet vol trane wanneer jy haar vra oor die dag toe sy hoor die Proteas se kaptein en bobaaskolwer gaan ophou om internasionale krieket vir sy land te speel.

Maar dis trane van trots. En g’n wonder nie, want sy is immers Abraham Benjamin de Villiers, beter bekend as AB, se grootste ondersteuner.

Sy is sy ma. “Hy het vir my persoonlik kom vertel hy het besluit om uit te tree,” sê Millie de Villiers (62) hier op die gesin se plaas naby Bela-Bela in Limpopo.

Eers daarna, op 23 Mei, het AB aan sy leërskare ondersteuners getwiet: “Ek het vandag ’n groot besluit geneem . . .”

Sy twiet het meer as 180 000 trefslae gekry en is meer as 94 000 keer op Twitter gedeel. In die sosiale media het dit gegons omdat dié talentvolle speler en leier op die jong ouderdom van 34 besluit het om sy sluitkas in die Proteas se kleedkamer leeg te maak.

Die Suid-Afrikaanse krieket­held AB de Villiers. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die toetse het vir hom te veel begin raak,” vertel sy pa, AB sr. (67), ’n algemene praktisyn op Bela-Bela (voorheen Nylstroom).

Dan bieg die krieketheld se trotse pa: “Dit was nerve wrecking vir my om op TV of langs die veld te kyk.”

Ry 'n mens die Bosveldse dorpie Bela-Bela binne, is die Laerskool Warmbad se rugbyveld van die hoofstraat af sigbaar. En daar pryk die woorde op ’n bord: AB de Villiers Rugbyveld.

Op dié veld het die jong AB in 1997 as kaptein van die laerskool se eerste rugbyspan uitgedraf.

As losskakel, die sleutelspeler wat rigting gee aan die span se spelpatroon.

Dat hy eendag die Proteas uit kleedkamers wêreldwyd sou lei, het sy ouers destyds nie kon droom nie.

“Hy het ontsaglik hard gewerk en dit alles self bereik. Al wat ons gedoen het, was om hom te steun,” sê Millie.

Die statistieke vertel van sy uitmuntende kolfwerk in Suid-Afrikaanse krieket die afgelope 14 jaar: die vinnigste 50, 100 en 150 lopies in eendagwedstryde; vinnigste honderdtal in ’n toets; en vinnigste 50-tal in T20-krieket.

Millie wys graag AB se gedenkwaardighede en prestasies. Foto: Onkgopotse Koloti

Ons drink koffie in die woonhuis van AB se ouers op hul pragtige wildplaas met ’n uitsig oor die ongerepte Bosveld.

Die plaas is net ’n paar kilometer van die dorpie Bela-Bela, waar AB sr. al sedert 1982 ’n mediese praktyk het. Ja, gee die ouerpaar toe, almal hier op die dorp en omliggende platteland weet wie hul seun is.

En soos mense nou maar is, word hulle gas gegee as AB en die Proteas die dag nie so goed gevaar het nie.

AB se pa lag terwyl hy vertel van die dag toe hy hom aan die passasier langs hom op ’n vlug voorstel.

“Ek hoop nie jou seun is daardie k** krieketspeler nie,” het die man gesê.

Vandag is AB sr. en dié man steeds goeie vriende.

“As pa sal ek mos nooit in my lewe ná ’n wedstryd aan my seun sê: ‘Hoekom het jy so gespeel en nie so nie.’ Ons sal hom ná ’n wedstryd net prys.”

Millie sê: “Hy het hard gewerk; dis hoekom hy moeg is. Om te dink ek gaan hom nooit weer vir die Proteas sien speel nie.”

AB is hul laatlammetjie. Hy het twee ouer broers, Jan (42) en Wessel (40), wat deesdae sakelui op Bela-Bela is. As kinders het die drie broers graag krieket op die werf gespeel.

“Hulle het gedurig die huis se vensters met balle stukkend geslaan,” vertel Millie laggend. Op vierjarige ouderdom het klein AB al tennislesse gekry.

Sy afrigter, Danny Sullivan, het sommer gou aan sy ouers gesê hy is baie talentvol en dat hy ’n topspeler kon word. Op laerskool was tennis en rugby sy uitblinkersportsoorte.

Hy is toe na die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria, waar hy ook in krieket begin belangstel het.

Wat rugby betref, het hy heel onder begin, vertel Millie. AB het haar op ’n dag gebel en gesê hy is vir die o.14 F-rugbyspan gekies. Sy het dadelik van Bela-Bela na Pretoria gery en vir die afrigter gevra waarom haar talentvolle seun net die F-span gehaal het.

In 2002 is hy vir die Blou Bulle se Cravenweek­rugby­span gekies. Foto: Verskaf

“Sy antwoord was: ‘Mevrou, jou kind is te klein.’ ”

In gr. 8 het hy die skool se eerste krieketspan gehaal, maar steeds goeie rugby en tennis gespeel.

Op ’n dag in gr. 10 het hy egter met sy arms vol tennisrakette in Millie se kamerdeur kom staan.

“Ma, ek wil met ma praat. Ek wil nooit weer tennis speel nie. Is dit oukei met ma?”

Millie vertel: “Dit was ’n skok vir my, want hy was so goed in tennis. Maar as ma het ek verstaan, want tennis is ’n eensame en individuele spel.”

En AB is juis ’n spanspeler, beklemtoon sy ouers.

“Hy was nog altyd goed met besluite neem. Selfs nou met sy besluit om uit te tree,” sê sy pa.

Ná sy matriekjaar het AB dadelik die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan gehaal.

En voor jy kon sê “ses”, het hy saam met spelers soos JP Duminy, Faf du Plessis en Vernon Philander begin speel. Millie sal nooit die dag vergeet toe AB, toe net 20, haar bel met die nuus dat hy vir die Proteas gekies is nie.

‘Hy was nog altyd goed met besluite neem. Selfs nou met sy besluit om uit te tree’

“Ek het ongelooflik baie gehuil. Ek was so trots.”

Hulle was vir talle van sy wedstryde langs die veld. “Hy het altyd vir ons kaartjies gegee om te kom kyk wanneer hy speel.

"Hy is mal daaroor wanneer ons sy wedstryde bywoon. Wanneer hy op die veld stap, sal hy kyk waar ons sit en ons so met ’n subtiele waai groet. So met sy hand,” vertel Millie.

Ook in die buiteland, van Engeland tot Indië, was hulle dikwels langs die veld vir sy mylpale, soos met sy eerste en 100ste internasionale wedstryd.

En hulle het eerstehands aanskou hoe hy kolfrekords laat spat. Dis kosbare herinnerings waaraan hulle altyd sal vashou.

Hoe trots is hulle op hul seun?

“Ek weet nie hoe om dit in woorde te beskryf nie,” laat sy pa hoor.

Maar Millie weet hoe. “Ons is ongelooflik trots op hom. Hy het al ons verwagtings oortref. Dit was werklik ’n rollercoaster ride, maar dit was ongelooflik.”

Sy pa voeg by: “Ek het nog altyd geweet daar is iets spesiaals aan AB. Selfs toe hy tennis en rugby gespeel het. Hy het die dissipline gehad om in enige spel te kon wen.

"Maar AB is nou geestelik moeg.”

AB de Villiers, wat as een van die wêreld se beste kolwers beskou word, en sy vrou, Danielle. Hulle het in 2013 afgehaak. Foto: Instagram/@danielledevilliers

Millie beaam dit: “Hy speel al beroepskrieket vandat hy 20 jaar oud was.”

En juis dit het hom baie ander dinge in die lewe laat misloop.

“AB, wat so lief is vir die natuur, het byvoorbeeld nog nooit saam met my gaan jag nie,” vertel sy pa.

Volgens sy ouers is AB, wat in 2013 met sy vrou, Danielle, getroud is, al die afgelope twee jaar moeg daarvoor om so dikwels en so ver van die huis te wees.

Hy het twee seuntjies, AB (2 jaar en 11 maande) en JR (11 maande).

Die egpaar het twee pragtige blondekopseuntjies, AB (links) en JR. Foto:Instagram/@danielledevilliers

“Hy wil by sy vrou en kinders wees,” sê Millie.

Dit is darem nog nie die laaste sien van AB jr. in aksie nie. Hy het nog ’n kontrak om internasionale T20-wedstryde in die Indiese Premierliga te speel.

En hy sal ook nog vir sy plaaslike span, die Titans van Centurion, Gauteng, voor die paaltjies stelling inneem. Ja, pa se senuwees gaan nog heelwat beproef word.