Die aktrise Simoné Pre­torius verwag haar eerste­l
Die aktrise Simoné Pre­torius verwag haar eerste­ling. Sy is onlangs op die gesogte La Cotte-­wyn­landgoed by Fransch­hoek in die Wes-Kaap afgeneem. Foto: Marguerite van Eeden

Dit was haar grootste nuus ooit, maar ook die grootste geheim wat sy al ooit moes hou. Toe Simoné Pretorius uitvind sy verwag haar eersteling, wou sy die blye nuus aan die hele wêreld uitbasuin. Maar haar man, Andries, het gemaan dit moet dalk eerder vir eers hul geheim bly tot daardie eerste brose stadium van die baba se ontwikkeling veilig agter die rug is.

Dit was makliker gesê as gedaan om drie maande lank te swyg, veral omdat Simoné in dié tyd voor die TV-kameras moes verskyn as Krizanda van der Merwe, ’n gewese prostituut, in die dramareeks Swartwater, wat nou op SABC2 te sien is.

“My eerste call was in September en ek was toe omtrent agt weke swanger. Dit was eintlik nog ’n geheim en dit was regtig baie moeilik om nie vir mense te vertel nie, want jy is opgewonde oor hierdie groot ding wat met jou gebeur,” gesels die aktrise wat onder haar nooiensvan, Nortmann, bekend geword het. Sy het onder meer die vroulike hoofrol van Irma Humpel in Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die voëls, vertolk.

simoné pretorius en haar man andries
Simoné en haar man, Andries Pretorius, tel behoorlik die dae af tot hul babadogtertjie haar opwagting in Mei maak. Foto: Marguerite van Eeden

Op Swartwater se stel het van haar medeakteurs snuf in die neus gekry dat daar ’n klein Pretoriussie op pad is toe die oggendnaarheid haar begin oorval het. “Ons moes eenkeer stop, want ek moes badkamer toe hardloop,” onthou sy.

Maar steeds het Simoné (30) nie die nuus aan die groot klok gehang nie, al het sy ’n paar van haar medeakteurs in haar vertroue geneem.

“Ek dink mense respekteer dit ook maar en ’n mens wys mos nie in die eerste trimester nie; dit het baie gehelp,” sê sy.

Maar hier teen die einde van die verfilming kon die geheim nie meer ’n dig bewaarde een bly nie. 

“Op die laaste dag het die wardrobe mistress vir my gesê: ‘Ek kan vandag sien jy is swanger,’” onthou Simoné en glimlag.

simoné pretorius en robyn rossouw
Simoné Pretorius en Robyn Rossouw op die stel van Swartwater. Foto: Verskaf

En presies ’n maand later, op 26 Oktober, het sy eindelik die groot nuus met haar aanhangers in die sosiale media gedeel. “Woorde kan nie ons euforie beskryf nie,” het sy op Instagram geskryf. Sy het ook seënwense vir “Baba Pretorius” gestuur en die baba verseker dat hy of sy reeds onmeetbaar gelief en gevier is.

“Lewe begin in die moederskoot en God is die een wat lewe gee en ons is oorweldig met die volmaaktheid van Sy tydsberekening en hoe onverdiend Sy genade vir ons is,” het die verwagtende ma geskryf.

En ’n maand later het die paartjie bekendgemaak: Dis ’n dogtertjie! Al het sy vooraf geen voorkeure gehad nie en geglo “die Here gaan vir ons gee wat ons moet kry”, vertel Simoné nou haar hart het bollemakiesie geslaan toe sy uitvind pienk kleertjies is haar voorland.

“Ek dink ek is eintlik maar ’n dogtertjie-ma of dalk wil ek vir die eerste een ’n dogtertjie-ma wees.

Tydens ’n video-onderhoud uit hul tuiste in Randburg lyk die donkerkopaktrise net so stralend as toe sy onlangs vir ’n swangerskapsfotosessie op ’n wynlandgoed by Franschhoek poseer het. Die foto’s, wat eksklusief in Huisgenoot verskyn, is deur die aktrise Marguerite van Eeden geneem, wat ewe tuis agter as voor die kamera is. 

Marguerite het weer die vroulike hoofrol vertolk in Vergeet my nie, die tweede fliek wat deur die ware liefdesverhaal van ’n Huisgenoot-leser geïnspireer is. Sy het daarin die rol van Mardaleen Derks van Namibië vertolk, en sy en Simoné verstaan albei ewe goed hoe spesiaal dit is om werklike vroue op die silwerdoek uit te beeld.

Ook die ware Irma van Vir die Voëls was uit haar vel van opwinding toe sy hoor Simoné verwag haar eersteling. Die twee het steeds ’n hegte band. 

Simoné vertel sy en haar man is albei lief vir kinders en wou nog altyd ’n baba van hul eie hê. “Hy kom uit ’n huis waar hulle drie kinders was en hy’t gesien hoe lekker dit is om in ’n vol huis groot te word,” gesels sy oor Andries (30), ’n entrepreneur en rekenmeester.

“Ek is die enigste kind en het gesien hoe eensaam dit kan wees,” voeg sy by.

simoné en andries pretorius
Hul baba sal die eerste kleinkind aan albei kante van die familie wees. Foto: Marguerite van Eeden

Tog was hulle nie haastig om met ’n gesin te begin nie. Daarom was dit aanvanklik ’n skok toe ’n swangerskapstoets op 20 Augustus bevestig: Ja, hulle gaan ouers word.

“Die vorige dag het ek vir Andries gesê ek is ’n bietjie laat, maar ek weet nie of ek net ’n bietjie deurmekaar is nie,” onthou sy. 

Sy wou daardie Sondag ’n swangerskapstoets gaan koop en het daarmee in die hand in ’n tou by die betaalpunt gestaan toe sy van plan verander. “Op daardie oomblik was ek soos: Nee, man! Ek is nie swanger nie. Toe sit ek die toets neer en stap by die winkel uit.” 

Maar die volgende oggend het sy ’n gevoel gekry dat sy tog maar ’n swangerskapstoets moet gaan koop, sommer by die naaste apteek. Terug by die huis was haar man aan die skottelgoed was toe sy in die verbygaan vir hom sê sy gaan gou die toets doen.

simoné pretorius,aktrise,swanger
Afgesien van kwaai sooibrand en die paar kere dat die naarheid erg was, het sy tot dusver ’n maklike swangerskap gehad. Foto: Marguerite van Eeden

Kort daarna het hy ’n gil uit die badkamer gehoor, die skottelgoed net so gelos en na haar toe gehardloop. 

“My oë was net so groot en ek het uitgebars van die lag,” onthou Simoné. En Andries? Hy kon nie glo wat hy sien nie. “Is dit wat ek dink dit is?” wou hy by haar weet.

Hulle het in die kar gespring en is terug apteek toe. “Toe koop ons nog een om net seker te maak,” vertel Simoné. Al erken sy die toetsuitslag was ’n onverwagte skok, was hulle terselfdertyd verheug. “Dit was ’n warboel emosies.”

Nie net was haar swangerskap onbeplan nie; dit was ook midde-in die coronaviruskrisis. Maar omdat sy nog heeltyd baie versigtig was om nie die virus op te doen nie, was sy nie daaroor bekommerd toe sy aan Swartwater begin werk het nie. Dié dramareeks is in en om Johannesburg geskiet. 

Die rol van Krizanda, ’n voormalige prostituut wat vir haar ’n nuwe lewe op die kusdorpie Swartwater wil bou, verskil hemelsbreed van Simoné se vorige rolle soos Irma in Vir die voëls en Jony in die kykNET-komediereeks Hotel.

“Toe ek die brief kry, was ek soos ja, ek wou nog altyd ’n prostituut speel. Moet my nie vra hoekom nie! Ek dink dis omdat ek soveel medelye het met mense wat uit sulke omstandighede kom en omdat daar soveel oordeel van die samelewing is. Dit was ’n geleentheid om ’n ander sy van hierdie gemarginaliseerde karakter te wys.” 

Wat sy mooi vind van haar karakter, is dat Krizanda ten spyte van haar agtergrond steeds ’n bietjie “onskuld” en “naïwiteit” het.

“Ek dink ons albei is probleemoplossers en lief vir mense, maar ek dink daar is meer verskille as ooreenkomste tussen ons.”

simoné pretorius,aktrise,swanger
Terwyl sy op hul kleinding se koms wag, is die aktrise besig om nog ’n droom waar te maak – om haar as draaiboekskrywer te vestig. Foto: Marguerite van Eeden

Om in die eerste weke van haar swangerskap op die stel te wees was nie vir Simoné so veeleisend soos wat sy verwag het nie, al het sy soms baie moeg gevoel. 

“As dit te veel geraak het, het ek so ’n bietjie in die grimeerkamer gaan lê.”

Toe hulle op ’n snikhete dag tonele by ’n vulstasie op Hekpoort, noordwes van Johannesburg, verfilm het, het sy warm gloede gekry. “Hulle moes waaiers op my sit sodat ek net kon afkoel,” vertel sy.

Afgesien van kwaai sooibrand en die drie of vier keer dat die naarheid erg was, het sy tot dusver ’n maklike swangerskap gehad.

“Ons het wel onlangs uitgevind ek sukkel ’n bietjie met lae bloeddruk en het ’n ystertekort. Ek het ook baie met asemhaling gesukkel terwyl ek ’n masker dra. Ek kon nie 10 tree stap nie, dan hyg ek na my asem.

“Maar dis regtig ’n wonderlike swangerskap en ek het niks om oor te kla nie, behalwe dat my klere elke drie weke nie meer pas nie!” 

Aan die einde van verlede jaar met al sy uitdagings en verrassings wou Simoné en Andries graag vir oulaas saam wegbreek voor die baba se koms.

Vir hul babavakansie het hulle Thailand, Mauritius en selfs Zanzibar oorweeg, maar hul planne om oorsee te gaan ontspan, is deur covid-19 in die wiele gery. Weens die inperking was talle Suid-Afrikaanse strande ook vir hulle in Desember taboe.

“Vriende van ons het Doebai toe gegaan. Toe ons sien daar is min covid-19-gevalle en die strande is oop, was dit die perfekte vakansiebestemming,” vertel sy. Die regstreekse vlug daarheen was ’n pluspunt, al erken Simoné dit is ’n bietjie ongemaklik om agt uur in ’n vliegtuig te sit wanneer jy swanger is. 

“Ek het natuurlik baie teenreaksie gekry van mense wat sê hoe kan jy reis te midde van ’n pandemie, maar ons het vrede gehad. Ons het geweet dis die laaste keer in heel waarskynlik twee tot vier jaar voor ons regtig weer oorsee kan reis.”

Hul vakansie in Doebai het al hul verwagtings oortref.

“Soggens het ons langs die see gelê en smiddae het ons gaan verken. Dit was vir my so ’n seëning om uit te gaan. Hier teen Desember het ek al soos ’n kluisenaar begin voel,” bieg sy.

simoné pretorius,aktrise
Hul baba sal die eerste kleinkind aan albei kante van die familie wees. Foto: Marguerite van Eeden

Sy en Andries kon die eerste keer in ’n lang ruk gehaltetyd saam deurbring. “Hy het aan die einde van verlede jaar hard geleer vir sy CIMA-eksamen. Ja, ons het in dieselfde huis gebly en mekaar gesien, maar hy was baie besig,” sê Simoné.

Hulle is al sedert 2015 ’n paartjie en het twee jaar gelede ’n prentjiemooi Bosveld-bruilof net buite Bela-Bela in Limpopo gehou.

“Dis die beste twee jaar van my lewe en verreweg die beste besluit wat ek al ooit gemaak het. Hy is die grootste geskenk van die Here af, en ek aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie. Ons is regtig lief vir mekaar en is mekaar se beste vriend. Ek is net so dankbaar om iemand te hê wat ondersteunend is en wat ek geniet.”

Maar dit beteken nie noodwendig hul huwelik is volmaak nie.

“Ek hoop nie mense kyk na ons en dink ons huwelik is perfek nie, want dit is nie,” erken sy. Hulle is ewe passievol oor verhoudings en die huwelik “juis oor ons albei uit geskeide ouerhuise kom”, vertel Simoné.

“Ons het regtig ’n pad gestap om heel te word voor ons getrou het. Ons wou genees, want dit voel vir my as jy nie genees nie, kom jy met dieselfde dinge die huwelik binne.” 

Hulle het soveel geleer uit hul verhouding en die foute wat hulle gemaak het dat hulle verlede jaar besluit het om hul ervaring in ’n aanlyn verhoudingsreeks met ander te deel. Soos Simoné dit stel: “Ons wil vir mense dit bied waarby ons dink ons kon baat vind.”

En nou maak die twee gereed om hul babadogter aan die begin van Mei te verwelkom. Pleks van ’n ginekoloog verkies Simoné dat ’n vroedvrou en ’n doula – iemand wat vroue voor, tydens en ná die geboorte van ’n baba help – haar met die bevalling bystaan. Sy is van nature nie mal oor ’n hospitaal nie en “slaan toe” wanneer sy in een is, verduidelik sy.

“Ek het geweet ’n hospitaal gaan nie vir my ’n optimale omgewing wees om die lewe te skenk nie. Ek het ’n geboortekliniek, vroedvrou en doula gesoek en doen alles in my vermoë om myself op te voed oor natuurlike geboorte. Dis vir my ’n begeerte om natuurlik die lewe te skenk, maar wat ook al gebeur, ons gee dit aan die Here oor.” 

Sy berei haar ook daarop voor dat haar man moontlik weens die pandemie nie die groot oomblik saam met haar sal kan beleef nie.

“Ek dink die eerste keer dat ek werklik besef het ek is swanger tydens ’n pandemie, was toe Andries nie kon saamkom na die skandering op 20 weke nie. Dit het my hard getref en ek is nogal hartseer dat swanger vroue nou hierdie pad in ’n mate alleen moet stap. Party moet selfs alleen kraam, en daai is ’n bitter pil vir my om te sluk,” erken sy. 

In hul huurhuis in Randburg het hulle nog nie ’n babakamer ingerig nie, want hulle beplan om vyf maande ná hul baba se geboorte na hul eie huis te trek. Hulle het reeds op ’n naam vir hul babadogter besluit, maar wil dit vir eers geheim hou.

“Ons is opgewonde oor die naam en ek raak skoon bewoë wanneer ek aan die betekenis daarvan dink.”

En haar grootste wens vir hul dogtertjie? “Om die Here te ken.”

Ek is eintlik maar ’n dogtertjie-ma of dalk net vir die eerste een

Terwyl sy op hul kleinding se koms wag, is die aktrise besig om nog ’n droom waar te maak: om haar as draaiboekskrywer te vestig. Sy werk aan twee draaiboeke vir rolprente, waarvan een die verwerking van ’n bekende Afrikaanse roman vir kykNET is. Sy is ook lid van ’n span skrywers wat aan ’n nuwe TV-reeks werk waarin sy ook ’n rol sal vertolk.

En in Augustus, drie maande ná hul dogtertjie se geboorte, sal sy terug wees op die stel van ’n TV-reeks. Daaroor mag sy nie meer besonderhede verskaf nie.

“Ek gaan werk; ek doen dit nie omdat ek dit moet doen nie, maar omdat ek wil,” verduidelik sy. “Andries gun dit ook vir my om terug te gaan werk toe.”

Hul baba sal die eerste kleinkind aan albei kante van die familie wees.

Ouma Tinkie Nortmann van Centurion het klaar ’n bababedjie wat ’n familie-erfstuk is gereed gekry vir wanneer haar eerste kleindogter kom kuier. Oor die hegte band tussen haar en haar ma sê Simoné: “My ma is so ’n goeie ma vir my, en dis eintlik hartseer dat ek haar enigste kind is, want sy het soveel liefde om te gee.” 

En wat van Simoné? Gaan haar eersteling vorentoe die ousus van ’n hele kroos wees? Ja, sy en Andries wil albei graag sommer baie kinders hê. Maar dan keer sy laggend: “Kom ons kyk eers hoe dit met een gaan!” 

HARE EN GRIMERING: ESTELLE PRETORIUS KLERE: SADIE BOSWORTH & LENA LISA PLEK: LA COTTE-WYNLANDGOED, FRANSCHHOEK.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe