Deur die donker onweerswolke sien jy dit plek-plek: die geflits van weerlig ver op die horison – die boodskap dat ’n reënbui hom nou enige oomblik saam met die sowat 100 genooides gaan aanmeld.

Maar die druppels bly eers weg van die wit markiestent hier langs die laning diepgroen pekanneutbome waar die bruilofsgaste in afwagting sit en gesels. En dan skielik, so asof die onwelkome gas homself verskoon, verdwyn die donker wolke – en weer hang die son hoog in die lug.

Dit mág maar op hul groot dag reën, het die sanger Joe Foster (37) vroeër geterg. Solank daardie ring net eers aan sy vinger gesteek is...

En sy wens het waar geword. Want toe die gedruis onderbreek word deur die fluweelstem van Tracy Chapman, is g’n wolkie in sig nie.

Oh, I’ve longed for you, and I have desired to see your face, your smile, to be with you wherever you are, speel die refrein van haar liedjie “The Promise”.

joe foster,sanger,troue
Daar was byna nie ’n droë oog onder die ongeveer 100 gaste nie toe die egpaar hul troubeloftes aan mekaar voorlees. Foto: Tylo Ribeiro

Dan verskyn hy op die grasperk by die Foresters-trouvenue in Pretoria: Joe in ’n vlootblou baadjie aan die arms van sy ouers, Johan en Jannette Vorster. 

In sy oë dam die trane op, en die gaste lag verlig toe hy diep asemskep. 

Vandag straal hy meer as ooit tevore. En dis alles te danke aan Ziechfried Paul (26), die man aan wie hy vandag ewige trou beloof. 

Die einste man wat nou ook instap, geklee in ’n blommebaadjie en ook saam met sy ouers, August en Tinka Paul.

Toe ma Tinka vir Ziechfried weggee, gryp Joe sy aanstaande tot groot vermaak van die gaste sommer dadelik vas met ’n piksoen – nog lank voor die huwelik bevestig is.

joe foster,sanger,troue
Mnr. en mnr. Paul-Foster – die paar­tjie deel ’n eerste soen as getroudes. Foto: Tylo Ribeiro

Die liefde tussen hulle, sê die leke­prediker Mark le Roux dan, is radikaal.

“Daar is al soveel oor die liefde geskryf. Maar die liefde tussen julle – dit wat ons hier beleef – is anders as die liefde tussen elke ander paartjie. Daarvoor is daar geen bloudruk nie. Geen reëlboek nie. Maar dis liefde – en net jul verhaal.”

Vergete is die tyd toe Joe alles moontlik gedoen het om sy seksualiteit van ander geheim te hou.

Want vandag, voor al hierdie mense, word Joe se troubeloftes aan die wiskundeonderwyser wat hom “liefhet soos hy nooit gedink het hy liefgehê sou word nie” oor die luidsprekers gespeel. 

Die man wat saam met hom gesoek het na antwoorde om hul liefde met geloof te versoen.

joe foster,sanger,troue
Die pasgetroudes is met droë blomblare bestrooi toe hulle uit die markiestent stap. Foto: Tylo Ribeiro

“Vandag is my hart vol,” sê Joe. “Wie sou ooit kon raai dat ek myself hier sou bevind? Ek wil my hele lewe met jou deel. Ek sal jou ondersteun, jou beskerm, jou hoor as jou stiltes praat. 

“Met hierdie belofte verbind ek my aan jou met ’n band wat ons vir altyd sal saambind.”

Nes ’n paar gaste na snesies gryp en ’n dondergeluid van ’n weerligblits oor die lowergroen veld weergalm, klink Ziechfried s’n op: “Jou liefde en omgee is ongeëwenaar. Vir my sal dit nooit saak maak hoe jy jouself sien nie, jy sal altyd die mooiste bly.”

Weer lag die aanwesiges vir ’n kostelike oomblik toe Joe en Ziechfried – albei emosioneel – eers vir mekaar die linkerhand aanbied. 

Mark spot: “Ek gee julle gou ’n oomblik om uit te pluis watter hand nou eintlik die regte een is.”

joe foster,sanger,troue
“Die gevoel is moeilik om te beskryf. Dis surrealisties; die gelukkigste wat ek nog was. Ek het nooit gedink dié soort liefde is vir my bedoel nie,” vertel Joe.

Dan soen hulle vir die eerste keer as getroudes. Meneer en meneer Paul-Foster – dolgelukkig en dolverlief.

Nooit het hy gedink hy sou eendag op ’n laatsomerdag – ver van selfverwyt en sy eie wroegings – voor die kansel staan nie, het Joe net ’n paar dae voor sy troue openhartig vertel.

“Die gevoel is moeilik om te beskryf. Dis surrealisties; die gelukkigste wat ek nog was. Ek het nooit gedink dié soort liefde is vir my bedoel nie,” vertel hy ons aan die sy van sy blondekopverloofde.

“Ek was daarvan oortuig dat ek nooit sou trou nie. En ek was reguit daaroor, selfs met Ziech.” 

En Ziechfried – hoe het hy daaroor gevoel? “Ek het nie moed opgegee nie,” spot hy en skaterlag.

Die nuwe egpaar saam met Ziechfried se ouers, Tinka en August. Foto: Tylo Ribeiro

Dan ernstiger: “Ag, ek het gedink daar is ander weergawes van die droom wat ek nog altyd gedroom het. Ek was vir hom lief en ons het geweet ons gaan vir altyd bymekaar wees. Ek het dit aanvaar, maar tog aanhou sê hy moet my net vra om te trou.”

En in Desember 2016, op ’n strand op Knysna, gaan Joe toe wraggies op een knie om die jawoord te vra. En deur die skok en opwinding skree Ziechfried hardop: “Ja!”

Joe vertel: “Ek het op ’n punt gekom waar ek myself gevra het: ‘Hoekom nie?’ Ek is ontsettend lief vir hom en ek wil tog die res van my lewe saam met hom deurbring. So, ja. Toe vra ek hom om te trou.”

In Januarie vanjaar het die sanger van trefferliedjies soos “Pad na jou hart” nog vertel oor sy lang en pynlike worsteling met sy seksualiteit. 

Hoe hy op 22 jaar oud al twee keer sy eie lewe wou neem, en hoe jare van depressie en donker gedagtes aan hom bly knaag het.

Tydens die troubeplanning het Ziechfried net oor een ding vasgekop: Hy wou met alle mag en mening roosgoud eetgerei hê. Foto: Tylo Ribeiro

“Ek was uit voeling met myself in ’n poging om aanvaar te word. Ek was bang vir verwerping en het byna elke aand in my hoërskoolloopbaan gebid, gepleit en gehuil. En wanneer ek soggens wakker word en besef niks het verander nie, het ek net dieper in die put van selfverwyt en depressie verval,” het hy toe aan Huisgenoot vertel.

Maar vandag, toe Joe oor sy pad van onsekerheid praat, sit Ziechfried sy hand liefderik op die sanger se been.

“Ons weet vandag die Here het ons oor mekaar se paaie gestuur – dat Hy ons vir mekaar bestem het,” koer die onderwyser.

Vir hom, anders as vir Joe, het aanvaarding veel makliker gekom.

Hy terg: “Ek het al van kleins af visioene gehad van ’n droomtroue: duiwe en swane, iets uit ’n fantasiewêreld. Ek het net die man gekort.”

joe foster,sanger,troue
Die egpaar sny die drie­laag­troukoek van wit-, melk- en?donker­sjokolade. Foto: Tylo Ribeiro

Maar met Joe – sy Meneer Reg – het al daardie vooropgestelde idees verdwyn.

“Ons wou die troue ’n mengsel maak van tradisie en ons eie flavour,” vertel Joe dan. “Ons wou steeds wees wie ons is, maar ook onthou waarvandaan ons kom.”

En troubeplanning is nie vir sissies nie, spot albei. “Ziech is soos: ‘Van watter een van die twee hou jy, dié een, nè?’ Dan lag ek maar net. Maar ons het ons drome laat verweef en een word. Daar was net een klein dingetjie: Hy wou die duurste eetgerei hê, die roosgoud. En hoe meer ek sê die venue het reeds eetgerei, hoe meer hoor ek van die roosgoud...” En nou? “Ons het die roosgoud gekies,” vertel hy, en hulle skater.

Vir albei is die laaste drie jaar sedert hul ontmoeting die gelukkigste nog in hul lewe, vertel die paar. 

Maar Joe sê hy het in dié tyd oplaas met die on­beantwoorde hoekoms en hoe’s vrede gemaak.

joe foster,sanger,troue
Joe en Ziechfried saam met (van links)André Schwartz, Diaan Daniels en Kyle Mizen in die foto­hokkie by die onthaal. Foto: Tylo Ribeiro

“Ek het die meeste gegroei in die jare sedert ek Ziech ontmoet het,” vertel Joe.

“Dis al baie vertel, maar voor daardie tyd was daar baie seer en baie vrae. Toe ek alleen was, was ek die spieël waarin ek my eie beeld gesien het. Maar nou is hy my spieël – en hy sien my soos ek werklik is: elke op en elke af, maar ook elke hoogtepunt en triomf.”

En dit sou g’n huwelik wees sonder dat Joe en Ziechfried hul ma’s se raad vra nie. 

“My ouers is 39 jaar getroud,” vertel Joe oor Johan en Jannette.

“My ma het vir my gesê: ‘Buiten jou geboorte is jou troudag die belangrikste dag in jou lewe.’ Dat ons moet onthou om saam te groei; dat die een nooit die ander een agterlaat nie. Sy het ons geleer ons moet bereid wees om gevorm te word – anders sal daar nooit groei wees nie.”

Ziech, op sy beurt, koester sy ma se woorde: “Onthou om deur alles net met oorgawe lief te hê.” 

“Ek weet hoe lank jy na ander mense gekyk en na so iets gesmag het. Jy’t seer gehad, my boetie. Maar dit was worth it. Want jy het so lank geduldig gewag dat God vir jou ’n maatjie stuur – en nou is jy beloon. Nou is julle een, en ons kan nie gelukkiger wees vir jou nie.”

Hul droomtroue het waar geword, sê die egpaar tydens die onthaal op hul groot dag hier by Foresters.

“ ’n Mens kan jou werklik nie indink dat jy gelukkiger kan wees nie. Dit voel nie menslik moontlik nie,” is hulle dit eens.

Die saal is sjiek getooi in wit rose, en op die tafels is ook drywende kerse en versierings in roosgoud. 

Gaste het voor die aansitete gesmul aan vingerhappies soos klein frikkadelle, biltonghappies en gevulde horinkies met avokado en roomkaas. Aan tafel is hulle met ’n voorgereg van snoekpatee en roosterkoek bederf. 

Die hoofgereg was beesrib en hoenderrollade met pampoenkoekies en kapokaartappels. Vir nagereg was daar ’n verskeidenheid sjokoladebederfies en koeksisters.

Die egpaar het pas hul drielaag­troukoek – van melk-, wit- en donker­sjokolade – gesny, toe kom spog hulle met hul ringe: ’n 9-karaat-witgoudring vir Ziechfried en ’n 9-karaat- geoksideerde geelgoudring vir Joe. Albei is deur Diaz Jewellers ontwerp.

Joe het spe­siaal die liedjie “I Promise” vir Ziechfried geskryf en op hul trouaand voor die gaste gesing. Foto: Tylo Ribeiro

Laataand sak die onweerswolke van vroeër vanmiddag in ’n stortbui oor die venue uit.

En dít, sê Joe se jonger sus, Gerda, in haar toespraak, is God se seëning. “Die storm is sekerlik God se engele wat hande klap vir hierdie aand...Want boetie, ek weet hoe lank jy gewag het.”

“Ek weet hoe lank jy na ander mense gekyk en na so iets gesmag het. Jy’t seer gehad, my boetie. Maar dit was worth it. Want jy het so lank geduldig gewag dat God vir jou ’n maatjie stuur – en nou is jy beloon. Nou is julle een, en ons kan nie gelukkiger wees vir jou nie.”

En net voor die gaste begin huiswaarts keer, kom Joe – in egte Joe-styl – met die grootste verrassing van die dag: ’n liedjie wat hy spesiaal vir Ziechfried geskryf het, getitel “I Promise”. 

Hy laat Ziech op ’n stoel sit, kniel voor hom en begin sing: I’m here to promise you today and forever that I will love you for the rest of my life. 

  • Die huwelikspaar bedank: 
JOHAN UNGERER SIGNATURE WEDDINGS (TROUBEPLANNER) INFO@JU-SIGNATURE-EVENTS.CO.ZA, 061-448-6103; FORESTERS PTA – TIERPOORT (TROU­VENUE) INFO@FORESTERSPTA.CO.ZA, 061-448-6103; DIAZ JEWELLERS (ONTWERP EN VERVAARDIGing van trouringe) 012-997-5315; DEETLEFS WINE ESTATE (WYN EN VONKELWYN VIR ONTHAAL) BEA@DEETLEFS.COM; DIAAN DANIELS COUTURE (BRUIDSPAAR SE UITRUSTINGS) INFO@DIAAN.CO.ZA; TIMELESS TENTS (VERSKAFFER VAN MARKIESTENTE) INFO@TIMELESSTENTS.CO.ZA; THE LOCAL CULTURE (TLC) (SPYSENIERING) DIVAN@THELOCALCULTURE.CO.ZA; TENTWORX (DEKOR) SERVICE@TENTWORX.CO.ZA; FLORA MYSTIQUE (BLOMME) LORI@FLORAMYSTIQUE.CO.ZA; TYLO RIBEIRO PHOTOGRAPHY (FOTO’S) 082-963-7836

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.