Boer Johan.
Boer Johan. Foto: Donna Lewis

Marita (59), destyds van Krugersdorp aan die Wes-Rand, was een van die drie vroue wat by Johan (64) op sy beesplaas in die Carolina-distrik in Mpumalanga gaan kuier het. Maar sy was toe ook die eerste wie hy huis toe gestuur het.

Ná afloop van die reeks het dié twee weer kontak gemaak en ’n kortstondige verhouding het gevolg. Marita vertel sy was Woensdag totaal geskok toe sy die nuus van sy dood hoor.

Marita Schoombie en Johan Uys.
Marita Schoombie en Johan Uys. Foto: Rowyn Lombard

Hoewel hul verhouding niks langer as ’n paar maande gehou het nie, is dit die goeie tye wat hulle saam gehad het, wat sy onthou. Sy onthou veral sy kookkuns.

“Hy kon die lekkerste kos maak waarmee hy my gereeld bederf het. Sy humorsin sal ek ook nooit vergeet nie. Ons het so lekker gekuier en sommer net saam gelag. Maar soos almal weet, het dit toe nie uitgewerk nie. Ons het besef dat ons net te veel van mekaar verskil.”

Marita is ook glad nie spyt oor dié verhouding of dat sy aan die reeks deelgeneem het nie. “Daar het soveel goeie dinge daaruit gekom,” vertel sy nou. 

Marita Schoombie
Marita Schoombie.

In daardie tyd het Marita openhartig aan Huisgenoot vertel hoe sy borskanker oorwin het. Haar dogter, Charlene Leeson, het ook in 2016 weens borskanker gesterf. Daarna het drie vroue, wat in dieselfde bootjie as sy was, met haar kontak gemaak.

“Ek kon die pad saam met hulle stap en hulle ondersteun danksy my ervaring. As dit nie vir Boer soek ’n vrou was nie, sou my pad nooit met hulle s’n gekruis het nie.”

Sy sê sy kan haarself net indink deur watter moeilike tyd Johan se familie nou moet gaan.

“Ek wil net my innige simpatie aan hulle oordra. Dit is vir niemand lekker om ’n geliefde weens covid-19 te verloor nie.”