Vir die wêreld is hy ’n sepiester en glanspersoonlikheid; ’n bekroonde akteur wat kykers voor die kassie en silwerdoek vasgenael hou.

Maar Dann-Jaques Mouton het haar lewe hel gemaak, vertel sy eksmeisie. Hy het haar geskop, geslaan, gebyt, met ’n mes gedreig en haar twee jaar lank mishandel.

7de Laan-­akteur Dann-Jaques Mouton. Hy het erken hy het ’n drank- en dwelm­probleem. Foto: Verskaf

Soms moes sy by die wagte van hul woonstelkompleks gaan skuiling soek; ander kere het sy snags in haar motor geslaap omdat dit die enigste plek was waar sy veilig sou wees.

Sy het dikwels so hard as wat sy kon, gegil in die hoop dat die bure sou hoor. Terwyl Dann-Jaques (32), of DJ soos sy vriende hom noem, roem verwerf het met sy spel in die flieks Abraham en Noem My Skollie en as Justin in die sepie 7de Laan, het Mercedes de Bruyn (54) dikwels vir haar lewe gevrees.

Sy spel in die Afrikaanse rolprent Noem My Skollie is hoog aangeprys.

Sy het ’n paar keer by die polisie gaan hulp vra en selfs interdikte teen haar kêrel gekry, vertel die tenger vrou. Mercedes lyk weerloos en wring haar hande saam terwyl sy aan Huisgenoot vertel van die verskrikking wat sy in haar verhouding met Dann-Jaques beleef het.

Mercedes sê sy het in vrees geleef. Sy het nooit geweet wanneer hy gewelddadig gaan raak nie. Sy was altyd gereed om uit haar eie woning te vlug. In November het hy haar glo geskop, geslaan en met ’n vleismes gedreig. Foto: Lubabalo Lesolle

Sy was bang, so bang, vertel sy. Waar sy vandag vir die eerste keer die moed bymekaarskraap om te vertel van die DJ wat sy ken, skyn die are soos spinnerakke deur die vel van haar maer hande toe sy koffie bestel.

Om haar oë is fyn lyntjies wat dieper raak toe sy later haar trane probeer wegsteek. Sy is net ’n paar dae in Johannesburg vir werk, maar woon deesdae meestal in Durban, waar sy as kostuumontwerper werk.

Dit is waar sy die stukke van haar lewe moes optel nadat sy eindelik einde verlede jaar besluit het om te vlug van die man wat agter geslote deure verander in iemand wat sy aanhangers nie sal herken nie.

Mercedes haal diep asem toe sy terugdink aan hoe haar verhouding van drie jaar met Dann-Jaques begin het. Sy kon dit destyds nie glo toe die akteur in 2014 op die stel van Abraham met haar begin flankeer nie.

Hy was woedend en het my teen die muur van ons woonstel gegooi en gewurg

Sy was die kostuumontwerper en dit was die eerste groot rolprent waarin hy gespeel het. In dié fliek het hy die rol van Abraham, ’n kunstenaar en dromer in die 1980’s, vertolk.

Dann-Jaques het haar met sy sjarme oorrompel en die romanse het gou vlam gevat, vertel Mercedes. “Ek’t vir hom gesê ek’s gans te oud vir hom, maar hy het aangehou en my gecharm.”

Toe Dann-Jaques kykers en kritici daarna gaande het met sy spel in die bekroonde fliek Noem My Skollie, waarin hy die rol vertolk van ’n Kaapse dief wat sy lewe probeer omkeer, was die mooi Mercedes die vrou in sy lewe.

Hy het einde 2015 van die Kaap na Johannesburg verhuis toe hy die rol van Justin in 7de Laan aanvaar. Die twee het toe saam in ’n woonstel ingetrek.

Dit was Mercedes wat hom saans gehelp het om sy dialoog vir die volgende dag se tonele op die stel voor te berei, het Dann-Jaques destyds aan Huisgenoot vertel.

Maar dit was ook toe dat gevaartekens na vore kom. Dit was toe, sowat ’n jaar nadat hulle ’n verhouding begin het, dat Dann-Jaques die eerste keer gewelddadig teenoor haar optree, vertel Mercedes.

“Hy was jaloers, want ek het met ’n ander akteur gepraat. Hy was woedend en het my teen die muur van ons woonstel gegooi en gewurg,” sê sy.

Sy het dit by die polisie in Johannesburg gaan aanmeld en ’n klag van aanranding teen haar kêrel ingedien, maar die klag teruggetrek nadat die polisie hulle tuis besoek en Dann-Jaques self met hulle gepraat het.

‘Hy het sy klere uitgetrek en geskree ek’s “die duiwel”, my in die gesig gebyt, in ’n kamer toegesluit en met ’n mes gedreig’

Mercedes sê dit was die keerpunt in hul verhouding: Daarna het die kwetsende woorde en geweld haar byna weekliks getref. “Enigiets sou hom trigger. Ek het nooit geweet wie hy die oggend gaan wees nie. Hy sou byvoorbeeld met my baklei omdat ek my plante te veel water gee,” sê sy en byt haar onderlip.

Dann-Jaques het ook gereeld vir haar gesê sy is lelik, oud en onbeholpe, sê sy. “Dis wat ek die graagste weer wil terughê: my selfbeeld.”

Sy sê sy het altyd probeer terugbaklei. “Ek het nie gestaan dat hy my slaan nie. En ek het hom geklap as hy vir my vieslike goed sê.” Die fyn geboude vrou weeg net 50 kg en haar lyf het dikwels die merke van Dann-Jaques se geweld gewys.

“Sy het gedurig blou kolle of seerplekke gehad, maar sy’t dit weggepraat,” bevestig ’n kollega van Mercedes, wat verkies om anoniem te bly. Nog ’n kennis beaam: “Ek kon sien met DJ . . . hy het haar gees gebreek.”

Mercedes sê sommige mense in die vermaakbedryf het vermoed dat Dann-Jaques haar aanrand en haar vriende en familielede het haar “gesmeek” om hom te los, maar sy mooipraatjies het haar elke keer van plan laat verander.

“Maar elke keer het ek hom teruggevat. Hy is mos ’n goeie akteur; dus het ek hom elke keer geglo,” sê sy. Een van die ergste aanrandings was in Januarie verlede jaar.

Uit soos ’n kers. Mercedes het glo dié foto geneem toe Dann-Jaques na bewering dronk en op dwelms was in hul woonstel in Johannesburg.

“Hy het al sy klere uitgetrek en vir my geskree ek’s ‘die duiwel’ en my in my gesig gebyt. Hy het my in die kamer toegesluit en met ’n mes gedreig. Daardie keer het hy my so hard op my stuitjie geskop dat dit langer as ’n maand seer was wanneer ek sit,” sê sy.

Dann-Jaques het drank misbruik en “elke liewe dag van sy lewe maklik ’n bottel whisky uitgedrink”, vertel Mercedes. Sy vertel hy het ook voor en by die werk gedrink, en sy moes dit dan daarna ontgeld.

Uit radeloosheid het sy in Junie verlede jaar ’n e-pos aan 7de Laan se produksiespan gestuur waarin sy die sepie vra om in te gryp. Sy wys ons die e-pos.

Dit lui: Ek wil dit graag onder jul aandag bring dat DJ alkohol gebruik terwyl hy by die ateljee is, soos hy my al trots meegedeel het. Verlede Vrydag het hy net een toneel in die oggend gehad. Toe ek hom om 14:00 gaan oplaai, was hy stormdronk. Ek wil dit onder jul aandag bring dat hy elke dag na ’n sekere departement toe gaan en dan saam met hulle drink. DJ het ’n ERNSTIGE alkoholprobleem, wat dan tot geweld by die huis lei. Ons sukkel om dit onder beheer te kry. Ek vra julle asseblief mooi om te help deur hom nie toe te laat om alkohol by die ateljee te gebruik nie, asseblief.

Sy sê 7de Laan het nooit haar e-pos beantwoord nie. In September verlede jaar het sy haar eie lewe probeer neem terwyl Dann-Jaques ook in die woonstel was.

Sy wys die letsel op haar linkerpols waar sy haar pols gesny het en vertel wrang: “Hy het vir my gelag omdat ek nie geweet het hoe om dit te doen nie.”

Iewers tussen September en Oktober verlede jaar het sy toe boonop iets wat soos dwelms lyk tussen sy klere gevind, vertel Mercedes. Haar oë word rooi en sy probeer die trane wegsluk.“Toe maak die op-en-af-gedrag eers vir my sin. Ek weet ek’s baie naïef.”

In November het hy haar weer aanrand. “Dit was net weer nog van dieselfde. Hy het my geskop, geslaan en met ’n vleismes gedreig. Hy het hare uit my kop getrek.”

Sy wys waar Dann-Jaques na bewering van haar hare uitgepluk het tydens een van hul onderonsies.

Sy het weer ’n klag van aanranding by die polisie ingedien en ’n interdik teen Dann-Jaques bekom, maar weer het sy hom vergewe. Kort daarna het dit weer gebeur.

“Hy het die kombuiskas vol drank gepak en ek het woedend geword. Ek het die bottels van die kas afgestamp en toe begin hy daarin (die glas) trap. Alles was vol bloed. Hy het my toe weer gewurg en my so hard gestamp dat ek oor die bed geval het en ’n halfuur lank nie kon opstaan nie.”

Sy wys vir ons die mediese verslag van die dokter wat haar beserings die volgende dag ondersoek het. Daarin verwys die dokter na die “chroniese geskiedenis van geweld” wat sy beleef het.

Dit was toe dat haar seun uit ’n vorige verhouding, Jarryd de Bruyn (23), weer daarop aandring dat sy ma haar gewelddadige kêrel los.

Sy het ’n paar sakke met klere en ander goedjies gepak en Jarryd het haar kom haal. Dann-Jaques was in die woonstel toe sy vlug, maar het haar nie probeer keer nie.

Dit was die laaste keer dat sy hom gesien het. “Ek het Durban toe getrek vir ’n nuwe werk en om weg te kom van hom af,” vertel sy.

En dan sê sy die woorde waarmee sy haarself eindelik kon bevry: “Ek het hom nou gelos.” Sy onderdruk ’n snik.

Sy vee gereeld ’n traan af terwyl sy van haar seer van die afgelope twee jaar vertel. Sy sê sy weet dis nie haar skuld nie, maar sy blameer haarself dat sy die Noem My Skollie-ster nie vroeër gelos het nie. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ek kan nie glo ek het hom geglo elke keer wanneer hy sê hy sal dit nie weer doen nie. Ek is moeg daarvoor om op my senuwees te wees met my maag op ’n knop, en ek’s moeg daarvoor om niks van myself te dink nie.

“Hy’s so goed daarmee om jou aan sy kant te kry.” Sy blameer haarself daarvoor dat sy die verhouding nie gouer verbreek het nie.

“Ek voel so swak omdat ek by hom gebly het. Ek is kwaad, maar meer as dit wil ek keer dat hy dit ook aan iemand anders doen.” 

Sy sê sy wil nou ’n berader spreek. “En ek gaan op my stoep sit en oor die see uitkyk en langs die see stap. En ek gaan myself tyd gee om op my werk te fokus, op myself, en so weer van myself begin hou.

“Ek bederf myself sodat ek weer gesond kan word.”

Dann-Jaques is geskok en verbaas toe Huisgenoot hom ontmoet om oor Mercedes se bewerings te praat.

“Ek kan nie glo sy kom na julle toe nie. Sy’t my belowe sy sal nie. This is the end of me. My career is verby,” sê hy in die restaurant waar ons mekaar ontmoet.

Ek probeer nou my lewe omdraai. Ek struggle. Ek probeer elke liewe dag
Dann-Jaques

Op elke vraag of hy Mercedes aangerand het, sê Dann-Jaques: “Dit is in die verlede.” Hy erken of ontken dit nooit.

“Ek het nooit my vuiste vir haar gelig nie. She never wanted to listen and I had to shout. Dan moet ek haar hard gryp dat sy sien.”

Hy ontken dat hy haar met ’n mes gedreig het en sê hy wou eintlik sy eie lewe daarmee neem, “but I guess I had the knife, so dan dink sy dalk . . . ek weet nie”.

Hy erken hy het ’n dwelm- en drankprobleem, maar sê hy het ’n week tevore laas gedrink en gebruik nie meer dwelms nie. Oor watter dwelms hy gebruik het en wanneer hy sy gebruik daarvan gestaak het, wil hy nie uitbrei nie.

Hy sê dis nou moeilik, want hy het nie geld vir ’n rehabilitasieprogram nie.

“Ek probeer nou my lewe omdraai. Ek struggle. Ek probeer elke liewe dag,” sê hy en sy oë skiet vol trane. “I’m being genuine en dan word ek ’n a**hole genoem,” sê hy en sit sy kop in sy hande.

Hy vertel hy het ’n lening van R40 000 uitgeneem, want “ek het niks. Ek moet my wasgoed met die hand was.”

Toe ons hom weer oor die aanrandings pols, sê hy vies: “Ek sê mos ek was nie by my volle bewussyn nie. Ek weet dis verkeerd, maar ek het substances misbruik en het ’n alkoholprobleem.

“Ek haat die persoon wat ek geword het.” Hy sê hy is van plan om by sy werk te bedank nog voor dié tydskrif gedruk word. Hy sê hy wens Mercedes het hom nog ’n kans gegee.

“Ek vra nie veel nie. Just have faith in God. Just have faith in this man,” sê hy. Weet hy Mercedes is bang vir hom? “Hoekom? Ek los haar uit. Ek het haar nog nie eens een keer geld gevra nie, al het sy gesê sy sal my help.”

Hy sê nie een keer hy is jammer oor wat hy aan Mercedes gedoen het nie, maar sê ’n paar keer dit sal sy loopbaan skade doen as mense die storie oor hul verhouding lees.

Carina Nel en Dann-Jaques in ’n toneel in 7de Laan. Hy het einde 2015 die rol van Justin in die sepie aanvaar. Sy werkgewers sê hulle het nooit daarop gelet dat hy moontlik ’n drankprobleem het nie.

“Ek gaan myself revamp en dan terugkom en in die teater en met kinders werk,” sê hy. Sy oë raak tranerig. Hy vee dit gou af toe ’n aanhanger kom groet.

“Ek’s gebroke,” sê hy later. “Dis die einde van die pad vir my.” 

  • 7de Laan se bestuur het ’n e-pos van Mercedes ontvang wat Dann-Jaques se alkoholprobleem bekendmaak. Hy is toe aangespreek. “Ons ondersoek het geen bewys van alkoholverbruik tydens werkure getoon nie,” sê Rosa-Mari Erasmus, 7de Laan se woordvoerder. “Hy was voorbereid en sy werkgehalte altyd op peil en daar kon geen verskil in sy gedrag gesien word nie. Dus het ons nie nog ondersoek ingestel nie.

    “Ons het die aangeleentheid hanteer volgens ons interne beleid en in ’n mate volgens die Arbeidsverhoudingsreg van Suid-Afrika, tesame met respek vir die werknemer se privaatheid. 7de Laan steun nie mishandeling of alkoholmisbruik nie. Die bestuur is nooit in kennis gestel of was bewus van die mishandeling wat in Dann-Jaques se persoonlike lewe plaasgevind het nie.”

    Rosa-Mari wou nie kommentaar lewer op Dann-Jaques wat gesê het hy gaan teen druktyd bedank nie. “Ons is nie by ons akteurs se persoonlike lewe betrokke nie.”
FOTO'S: LUBABALO LESOLLE, PAPI MORAKE, FACEBOOK, VERSKAF