Sy en haar gesin help in die feestyd behoeftiges deur kos vir hulle te skenk.

“Kersfees is ‘n tyd om kerse aan te steek vir mense wat alleen is en voel asof niemand omgee nie,” sê sy.

Elana, haar man, Ian Bredenkamp, ‘n agent vir vermaakkunstenaars, en hulle twee dogters, Esther Beth (3) en Annabelle (amper 2) pendel deesdae tussen die Kaap en Johannesburg.

Elana Afrika
Ian, Elana en hul dogtertjies, Annabelle (links) en Esther Beth. Foto: Aoife Kelly Photography.

“Ons het die seisoen in Gauteng begin vier met minder versierings as by ons huis in Kaapstad. Die Kaapstad-huis is opge-dress,” vertel die aanbieder van die Jacaranda FM-program WorkZone.

“Vir Oukersaand maak ek hier kalkoen en op Kersdag vier ons hele familie die dag by De Grendel, my gunsteling plaas. Ons is nie mal oor geskenke nie, die familietyd is vir ons meer spesiaal.”

Haar ouers het steeds die Kersboom waarmee sy grootgeword het, vertel Elana. “Dis 38 jaar oud en dun, maar so spesiaal.”

’n Heimwee oorval haar wanneer sy aan kleintyd se Kersfeeste terugdink.

“Ma maak die aand voor die tyd kalkoen, die huis ruik lekker na kos en ek en Pappa maak musiek – hy op die trekklavier en ek op die klavier.”