Die meeste tienerseuns sou van skaamte sterf as jy vir hulle sê hulle is hul ma se ewebeeld. Maar nie Damian Hurley nie: Dié 17-jarige omarm die ooreenkoms.

En dis eintlik g’n wonder nie, want sy ma is die beeldskone model en aktrise Elizabeth Hurley.

Boonop is Liz se enigste kind goed op koers na ’n winsgewende loopbaan as model danksy die kenmerke wat hy by sy beroemde ma geërf het: glansende donker lokke, priemende blou oë, ’n pruilmond en smeulende selfvertroue voor die kamera.

Damian Hurley is sy ma, die model en aktrise Eliza
Damian Hurley is sy ma, die model en aktrise Elizabeth Hurley, se ewebeeld. Foto: Gallo Images/Getty Images

Met sy androgene voorkoms – gesog in die modewêreld – het Damian onlangs sy eerste kontrak losgeslaan vir die luukse Britse skoonheidshandelsnaam Pat McGrath Labs se nuwe veldtog.

In ’n advertensie vir hul nuwe onderlaagreeks verskyn hy in ’n swart leer­baadjie met sy hare opgepof gestileer terwyl hy broeiend na die kamera staar.

“Ek is so opgewonde om iets vir julle ouens te wys waaraan ek in die geheim gewerk het,” het hy op Instagram by ’n foto van die veldtog geskryf.

Liz (54) het blitsig gereageer en gekoer: “My noorde, my suide, my ooste en my weste. Ek het jou lief.”

Die veldtog is die werk van Pat McGrath, wat onlangs deur Vogue as die invloedrykste grimeerkunstenaar ter wêreld aangewys is. Talle ander Millenniërsterre verskyn ook daarin – onder andere Violet Chachki, ’n vorige wenner van die reeks RuPaul’s Drag Race, en die Chinese modelsensasie Zhengyang Zhang.

Sosialemediagebruikers was skoon op hol oor Damian wat op ’n haar na sy ma lyk.

“Hulle het ineengesmelt,” het een laat hoor.

Aanhangers in die sosiale media het omtrent gegons
Aanhangers in die sosiale media het omtrent gegons oor die ooreenkoms tussen Damian en ma Liz (foto). “Hulle het ineengesmelt,” het een gesê. Foto: Instagram (@damianhurley)
Damian of Liz? Dis Damian . . . Foto: Instagram (@
Damian of Liz? Dis Damian . . . Foto: Instagram (@damianhurley)

Damian het sommer gou ­gewys hy probeer nie van hul ooreenkoms wegskram nie; trouens, hy beskou die vergelyking as ’n kompliment en bate.

Toe hy by die bekendstellingspartytjie vir die Sublime ­Perfection-onderlaagreeks opdaag, het hy die gaste laat gons oor sy uitrusting – ’n pakweergawe van die ikoniese Versace-haakspeldrok wat sy ma in 1995 na die première van die fliek Four Weddings and a Funeral gedra het.

Liz en haar seun, wat ook toneelspel beproef het, is geheg aan mekaar.

“Aan­gesien ek ’n enkelma en hy die enigste kind is, bring ons baie tyd saam deur,” het sy aan die Britse ­tyd­skrif You gesê. “Ons is gemaklik met ­mekaar.”

Damian vergesel dikwels sy ma na geleent­hede en op haar reise om ­bewustheid te bevorder en geld in te samel vir die verskeie liefdadigheidsake wat haar na aan die hart lê. Hulle het selfs al saamgewerk toe hy in 2016 ’n kameerol vertolk het in Royals, die E!-televisiereeks waarin sy verskyn.

Party beskou dié band tussen ma en seun as besonders; ander dink hul verknogtheid aan mekaar is ongesond.

“Ek’s ­jammer,” sê die Britse televisie-aan­bieder Eamonn Holmes, ’n pa van drie seuns.

“Ek dink dis uiters vreemd.”

Sexy bikini-foto's

Toe Liz verlede jaar verklap haar seun is dikwels die een wat die foto’s neem wanneer sy in sexy bikini’s vir Instagramkiekies poseer, was party aanhangers erg verontwaardig. Maar sy het hul kritiek gou as “belaglik” afgemaak.

“Wanneer ons met vakansie is, sal hy natuurlik ’n paar foto’s neem. En, weet jy, hy’t ’n goeie oog en hy studeer fotografie.”

Sy sê hulle het nog altyd aanklank by mekaar gevind.

“Damian se persoonlikheid komplementeer myne.

“Vriende wat meer as een kind het, erken altyd daar is onvermydelik een kind wie se persoonlikheid hul eie weerspieël en dat hulle mekaar beter verstaan, al het hulle albei ewe lief. Dis iets wat natuurlik gebeur; dit word nie aangeleer nie.”

Sy het ook al gesê sy en Damian was nog nooit in “ ’n aaklige rusie” of onbeskof met mekaar nie. “Ons steun mekaar.”

Dieselfde kan nie gesê word van die twee se verhouding met Steve Bing (54), Damian se pa, nie. Liz was in 2001 in ’n kortstondige verhouding met dié Amerikaanse multimiljoenêr, die stigter van die organisasie Shangri-La Entertainment.

Die magnaat het met Liz se swanger­skap geweier om te aanvaar hy is die pa van haar baba en haar daarvan beskuldig dat sy by ander mans geslaap het terwyl hulle saam was.

“Ek en me. Hurley was nie in ’n eksklusiewe verhouding toe sy swanger geraak het nie. Dis haar keuse om ’n enkelma te wees,” het Steve destyds in ’n verklaring gesê.

“As ek die pa is, sal ek ’n betrokke en verantwoordelike ouer wees.”

Toe Liz daarop aandring dat hy ’n DNS-toets doen, het die uitslag gewys Steve is die pa van haar baba, en hy het toe vaderskap erken.

In ’n hofskikking het hy gesê hy beplan om ’n trust vir sy seun te skep, maar Liz het verklaar sy wil nie ’n sent van hom aanvaar nie.

Damian se pa, Steve Bing. Foto: Gallo Images/Getty
Damian se pa, Steve Bing. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vroeër vanjaar is Damian en sy halfsuster, Kira Kerkorian, Steve se dogter by die voormalige beroepstennisspeler Lisa Bonder, by ’n hofsaak betrek oor hul oupa, die multimiljoenêr dr. Peter Bing, se fortuin.

Dié eiendomsmagnaat het verklaar hy beskou die twee kinders nie as sy kleinkinders nie omdat hulle nooit as minderjariges by Steve gewoon het nie. Dus, het hy aangevoer, is hulle nie op die familiefortuin geregtig nie.

Selfs Steve het sy pa se optrede ’n “bedrogspul” genoem, en ’n regter van Los Angeles het saamgestem. Dié het in ­Damian en Kira se guns beslis en gesê hulle het net soveel reg as enige van sy ander kleinkinders op hul erfporsie.

Maar Damian se verhouding met sy pa bly problematies. Die seun beskou glo sy ma se eksman, die Indiese tekstiel­erfgenaam Arun Nayar (54), as sy vader­figuur.

Die twee is in 2007 getroud toe Damian vyf was, maar is in 2011 geskei. Tog het Liz die gewoonte om op goeie voet met die meeste van haar ekse te bly, en Arun is geen uitsondering nie.

Verlede jaar het sy en Damian saam met hom en sy meisie op die Griekse eiland Mikonos vakansie gehou.

“Arun is Damian se pappa en ’n goeie een daarby,” sê Liz. “Hulle sien mekaar gereeld.”

Hy’t glo ses peetpa’s, onder andere die sanger Elton John (72) en die akteur en Liz se ekskêrel Hugh Grant (58).

View this post on Instagram

Uncle Hugh ??

A post shared by Damian Hurley (@damianhurley1) on

Damian gesels ook glo gereeld met Brooke, Jackson en Summer Warne, die kinders van die voormalige krieketspeler Shane Warne (49), Liz se eksverloofde.

Liz en Shane was vier jaar saam voor hulle in 2013 uitmekaar is. In sy outo­biografie, No Spin, sê die sportman hy en Liz is steeds vriende, en hul kinders kom goed met mekaar oor die weg.

Dit lyk dalk of Liz en haar seun on­afskeidbaar is, maar Damian bring net naweke by haar deur; in die week is hy op kosskool.

Sy wil hê hy moet op skool presteer om ’n “afgeronde mens” te word, het sy aan die tydskrif People gesê: “Jy wil nie ander verveel wanneer julle saam aandete eet nie. Jy moet aardryks­kunde, geskiedenis en antieke geskiedenis ken; dis interessant.”

In hul tyd saam kyk hulle gewoonlik “iets vreesaanjaends op Netflix” – en sy erken sy bederf hom.

“Hy’s heelweek weg; om daarvoor te vergoed, is ek waarskynlik oorvrygewig wanneer hy by my is.”

Damian sê hy is “verslaaf” aan toneelspel en sou graag drama­skool wou bywoon. As hy wel vorentoe in die akteurswêreld ’n deurbraak maak, sal sy ma on­getwyfeld sy grootste ondersteuner wees.

“Ek weet hy sal in ’n sta­dium die nes moet verlaat,” sê Liz. “Ek moet dus die tyd wat ons nog saam het ten volle benut.”

Bronne: people.com, harpersbazaar.com, thesun.co.uk, hellomagazine, metro.co.uk, you.co.uk
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.