Nie net moes die geselsprogramaanbieder die katastrofe rondom haar huis in Montecito ná verwoestende modderstortings hanteer nie, maar ook in die verlies van haar pa, Elliot DeGeneres, berusting vind. 

Tydens haar emosionele program het die 59-jarige ’n roerende huldeblyk aan haar pa gebring.

My dad and me. ??

A post shared by Ellen (@theellenshow) on

“Benewens wat in Montecito aangaan, het ek dié week my pa verloor. Hy was 92 jaar oud. Hy het ’n goeie, lang lewe gehad,” het Ellen gesê. 

“Dit was nie onverwags nie. Ek kon tot siens sê.”

Sy het vir kykers ’n foto van haar saam met haar pa gewys en gesê hy het graag haar program gekyk. 

“Toe ek ’n kind was, het my pa ons een vakansie na die Warner Brothers Studios geneem. Hy was dol oor die bedryf. Hy was baie trots op my . . . Hy was ’n gawe, baie aanvarende man."

“Daar was nie ’n greintjie veroordeling in sy lyf nie. Hy was baie snaaks . . . Voor hy oorlede is, het ek die kans gekry om met hom te praat. So het ek die kans gekry om vir hom tot siens te sê.” 

Die Finding Dory-ster het ook op Instagram hulde aan Elliot gebring. 

“Hy was dol daaroor dat ek in (die vermaakbedryf) is. Toe hy sterf, het ek ’n reënboog gesien oor die verhoog wat hulle na my genoem het,” het sy later geskryf. 

Haar aanhangers het hul meegevoel betuig nadat die hartseer nuus bekend geword het. 

“Ellen, my hart is seer vir jou. Ons bid vir jou en jou familie. Hy waak oor jou, altyd,” het ’n volgeling gesê.

“Ons stuur ons liefde. Mag God elkeen van die gebroke harte styf vashou en die dwalende gedagtes lei,” sê nog een. 

Bronne: eonline.com, usmagazine.com, dailymail.co.uk