Dis Februarie, die maand van romanse, maar in Elma Postma se lewe blom die liefde sommer heeljaar.

Die pragtige somerblomme wat die geliefde blondekopaktrise en -aanbieder vandag vir Huisgenoot se fotosessie in Johannesburg omring, is vir haar simbolies van al die soorte liefde wat sy in oorvloed ervaar en waarvoor sy elke dag dankbaar is.

Elma het al letterlik met die liefde op reis gegaan toe sy van 2008 tot 2010 die aanbieder van die eerste drie seisoene van die kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou was. Sy het toe oor die land heen gereis om boere te help liefde vind.

Deesdae “verslind” sy die reeks op die kassie, erken sy met ’n laggie.

“Dis vir my so mooi as dinge vir ’n paartjie uitwerk. Ek dink ’n mens is baie gelukkig as jy liefde in jou lewe het; as jy ’n maat kan kry.”

In die jongste reeks, wat verlede maand tot ’n einde gekom het, het paartjies soos boer Johan en sy Marita, en boer Adriaan en sy Helene juis liefde gevind.

Met 40 wat aan die deur klop, ondervind sy deesdae ’n groter aanvaarding in haarself.

“Een ding wat die reeks my geleer het, is dat jy nie kan wegsteek wie jy is nie. Dit gaan nie help om voor te gee nie,” sê sy op haar eerlike, deurdagte manier. Elma (39) en die Pretoriase wiskundeprofessor Paul Potgieter (43) het onlangs hul eerste huweliksherdenking gevier, maar sy vier vandeesmaand ook die liefde in al sy skakerings.

Sy word omring deur ’n liefdevolle familie, sy is lief vir die werk wat sy doen, maak tyd vir die dinge waarvoor sy lief is en het deesdae ook ’n groter liefde vir haarself.  

“Dis nie altyd ’n groot ding nie,” vertel sy so in Valentynsmaand oor wat die liefde vir haar beteken. “Dis ’n gemaklikheid met jou geliefdes en die dinge rondom jou. As jy sê jy is lief vir die lewe, beteken dit nie jy is elke dag met ’n huppel in jou stap verskriklik bly om op te staan nie, maar jy is lief vir die geleenthede wat die lewe jou gee.”

Nou, voor haar 40ste verjaardag in September, ondervind Elma ’n groter aanvaarding. “Iets bring jou by ’n punt waar jy sê: ‘Ek is wie ek is en dis orraait. Ek mag myself liefhê soos wat ek is.’ ”

Sy kies deesdae ’n ontspanne benadering tot die lewe.

“Ek het altyd gedink ek moet elke geselligheid bywoon waarheen ek genooi word. Ek besef nou om gehaltetyd saam met my man deur te bring is belangriker as om op die rooitapyt gesien te word. Dis orraait om soms ’n lekker bord kos te eet en ’n glas wyn te drink. En jy hoef nie ’n week voor ’n fotosessie honger te ly of op te hou eet nie,” vertel sy met ’n laggie.

Sy wil vanjaar meer tyd maak vir die dinge waarvoor sy lief is.

Die vrolike blomme van die fotosessie weerspieël juis Elma se opgewekte persoonlikheid. Elke keer wanneer die pragtige aktrise in ’n ander uitrusting glip, helder die bloemis Jonette Engelbrecht die skepping op met die een of ander blomdetail.

Elma geniet dié speelse spontaniteit. “Ek neem dinge nie meer so ernstig op nie omdat dit in die groter prentjie net nie so belangrik is nie. Metafories gestel: As jou nael breek, sal dit weer teruggroei. Jy kom daaroor,” vertel sy.

“Ek besef soms my omstandighede kon soveel moeiliker gewees het.” Dit dring veral tot haar deur wanneer sy neerskryf hoeveel sy het om voor dankbaar te wees.

“Dit help my om myself en my lewe liewer te kry. Dit help, want ek besef hoeveel ek het.”

Die manier hoe sy liefde wys, is veral deur aanraking en woorde.

“Ek sal vat aan mense, en ek hou daarvan om dit vir hulle te sê. Ek sal vir iemand lekker kos maak, hul skouers vryf as dit seer is of ’n geliefde se hand in die hospitaal vashou. Ek hou ook daarvan as mense dit vir my sê. Ek is ’n woordemens. Ek besef wel mense het verskillende maniere om liefde te wys en almal ervaar dit verskillend. Dit sou tog so vervelig gewees het as almal se liefdestaal dieselfde was.”

Iets blink in haar groen oë toe sy vertel van die liefde wat sy in haar lewe ervaar. Vandat sy kan onthou, sê sy, was haar ouers haar grootste ondersteuners.

“Hulle is die sterk rotse wat nog altyd daar was: in my lewe, my loopbaan en keuses,” vertel Elma oor haar ma, Elmarie, ’n DA-raadslid, en pa, Fanie, ’n vertaler en taalversorger wat op Klerksdorp woon.

“My ouers is al 47 jaar getroud; ek bewonder hulle daarvoor. My ma is ’n sterk en gedrewe vrou. Sy kry dinge gedoen, maar het ’n sagte hart. My pa is rustiger en sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy is ’n sensitiewe mens,” vertel sy.

“Ek kan hulle enige tyd van die dag bel en hulle sal help met ’n antwoord of net met woorde om my te ondersteun. Hulle sal die klere van hul lyf af vir my gee. My ma het letterlik al,” vertel Elma laggend.

“Ek sal vir haar sê iets wat sy dra, is mooi, dan haal sy dit af en gee dit vir my.”

Haar ouer broer, Ignatius, is ’n dokter in Engeland. “Ons gesels nie elke dag nie, maar wanneer ons praat, is dit asof ons mekaar gister gesien het. Dis nie ’n sentimentele liefde nie.”

Sy is ook lief vir haar skoonsuster, Belinda, en haar broerskinders, klein Kayla (8) en Aydan (5).

“Hulle laat jou die wêreld deur ander oë sien.”

Elma is beskermend oor haar verhouding met Paul, met wie sy in Desember 2016 by die Kuthaba Bush Lodge in die hartjie van Limpopo getroud is, en kies om dit uit die kollig te hou. Sy liefde beskryf sy as “’n liefde wat ek vertrou”.

“Daar is ’n onvoorwaardelike aanvaarding; daardie respek en vryheid om net te kan wees wie ek is. Dis ’n konstante liefde. Ek weet en vertrou dit. Hy hoef dit nie noodwendig die hele tyd vir my te sê of te wys nie, want ek weet dit. Dis die gemaklikste liefde om te hê – waar jy nie te veel verwag nie. Ek verwag nie dat die mense in my lewe vir my dinge moet doen nie, want as dit is hoe ’n mens funksioneer, glo ek nie jy is lief genoeg vir jouself nie,” verduidelik sy.

“Hy is my steunpilaar, my rustigheid. Dis vir my lekker om deur dik en dun ’n vriend te hê.” Haar man se liefde het ook ’n verrassingselement. “Ek sal sommer net af en toe uit die bloute ’n bos blomme of iets spesiaals van hom af kry,” sê sy stralend.

Sedert hul troue is haar lewe ook verryk deur haar skoonfamilie. “Iets wat vir my lekker is van getroud wees, is dat ek ’n hele familie bygekry het,” vertel sy.

Daar is haar skoonpa en skoonma, Pottie en Gerda Potgieter. Paul het ook ’n broer, Petrus, en suster, Karin Davidson. Karin woon saam met haar man, William, en dogter, Bronwyn, in Australië.

“Dis lekker om daardie nuwe liefde en ondersteuning te leer ken.”

Al het Elma nie ’n groot vriendekring nie, weet sy die verhoudings wat sy wel het, is eg.

“Ek kan my vriende amper op my vingers tel. Die meeste van hulle is al jare lank my vriende. Ek en my beste vriendin, Anriëtte van Rooyen, ken mekaar al 20 jaar. Ons het saam studeer en saam eksamens deurgekom. Die liefde van my vriende is sonder oordeel. Dis absolute aanvaarding."

“Dis iets waarvoor jy regtig ’n liefde moet hê. Soms moet ’n mens hare op jou tande hê. Al is jy hoe beroemd, sal enige akteur of aktrise vir jou sê die werkgeleenthede is op en af. Jy moet sterk wees, want dit gebeur nie altyd nie. "

“Dis ’n vars bries in ’n bedryf waar aanvaarding soms ’n uitdaging is. Jy hoef nie mooi te lyk nie; jy hoef nie eens te glimlag nie. Jy kan net wees.” Ook haar werk is een van die grootste liefdes van haar lewe.

Oor toneelspel sê sy: “Dis iets waarvoor jy regtig ’n liefde moet hê. Soms moet ’n mens hare op jou tande hê. Al is jy hoe beroemd, sal enige akteur of aktrise vir jou sê die werkgeleenthede is op en af. Jy moet sterk wees, want dit gebeur nie altyd nie. "

“Maar die liefde oorwin die stres. Die oomblik wanneer ek op stel stap en die geur van die ateljees waarin ons verfilm inasem, die mense sien, die woorde voor my het, my grimering aangesit word en die kameras of ligte aangaan, dan weet ek weer waarom ek so lief is vir dit wat ek doen.”

“Dis soms ’n liefde-haat-verhouding. In die kollig is jy baie kwesbaar en uitgelewer aan kritiek en opinies. Dit gaan dikwels oor die uiterlike en kan soms vals wees. Ek is eintlik maar baie skaam.”

As jong meisie op die dorp Wolmaransstad in Noordwes sou sy in die laerskool agter maatjies wegkruip wanneer daar die dag konsert gehou word.

“Dit was my claim to fame,” vertel sy laggend.

Sy en Paul Potgieter is in Desember 2016 in die hartjie van Limpopo getroud. Foto: Anne Grace Photography

Tog het toneelspel later ’n manier geraak hoe sy haarself uitleef. “Jy kan grense oorsteek wanneer jy ’n rol vertolk. ’n Mens kan in ’n heel ander vel inklim.

“Die adrenalien wat jy op ’n verhoog ervaar wanneer jy 50 minute lank ’n eenvroustuk doen, is vreesaanjaend. Maar niks kan daardie liefde beskryf wanneer jy dit doen en sien hoe die mense lag en reageer nie.”

Sy is juis weer besig om ’n nuwe eenvroustuk, In My Kombuis, te skryf.

“Dit gaan oor vrouwees en kyk na wat die bestanddele is van om die perfekte vrou te wees. Die boodskap is dat ons eintlik goed genoeg is net soos ons is.”

Dis al 18 jaar sedert ons haar in 2000 as Dezi in 7de Laan leer ken het. Dit was destyds Elma se eerste groot rol. Sy flits die glimlag waarvoor sy al so bekend geword het toe sy vertel wat haar onderskeie karakters haar deur die jare oor die liefde geleer het.

“Die arme karakters wat ek al gespeel het! Hulle was al op die hoogste hoogtes en die laagste laagtes. Dit maak eintlik my liefde makliker, want die liefde in my lewe is beslis nie so dramaties nie.”

Foto: Anne Grace Photography

Dink maar aan Dezi wat in 7de Laan trou beloof het aan Jan-Hendrik (Waldemar Schultz) en etlike huwelikskrisisse oorleef het. Sy het geloer vir Bart (Neil Sandilands), gevry met Dirk (Sean Else), haar hart verloor op die sensitiewe Theuns (Henré Pretorius) en geswig voor die sjarmante Douw (Justin Strydom).

Dezi het die Laan in 2007 verlaat om haarself in België “te gaan vind”.

As Bea in Binnelanders was sy ’n hardwerkende en liefdevolle ma wat lank geloop het met die donker geheim van haar eksman, Jan (Neels Clasen), wat in die tronk sit. Hy het haar lewe en liefde met dr. Franz Basson (Dawid Minnaar) moeilik gemaak toe hy later op parool vrygelaat is.

Maar toe word sy as gyselaar aangehou, en nadat Franz ’n besering opgedoen het om haar te red, het hy Bea gevra om met hom te trou. Hulle het afgehaak en later “Kanada toe verhuis” toe Elma in 2014 die sepie verlaat.

Sy is deesdae weer te sien in ’n sepie, dié keer as Lalage Lategan in die Engelse sepie Isidingo op SABC3. Lalage, ’n Afrikaanse karakter, is ’n getroude ma wat uitdagings trotseer om haar gesin stabiel te hou. Sy het veral haar hande vol met haar rebelse tienerdogter, Anja (gespeel deur die nuweling Lee Visagie). Gérard Rudolf speel Lalage se man, Hendrik.

Nou vertolk sy die rol van Lalage Lategan in Isidingo, wat groot uitdagings moet trotseer om haar gesin bymekaar te hou.
In Binnelanders het sy die empatieke skakelbeampte en ma Bea gespeel.
Ons het Elma leer ken as Dezi, wat in 7de Laan trou beloof het aan Jan-Hendrik (Waldemar Schultz).

“Daar is ’n soort vryheid wat ’n mens nie altyd op ’n sepiestel kry nie, wat dit baie natuurlik maak. Die styl van toneelspel is losser. Dis vir my baie lekker om in dié stadium van my lewe daarin te kan speel.”

Is daar planne om in die regte lewe die rol van ma te vertolk?

“Ons kyk maar. Dit sal lekker wees, maar dis nie iets wat forseer kan word nie,” antwoord sy.

Sy is in April te sien in die rolprent Wonderlus. Dit handel oor ’n troue wat skeefloop en ’n groep vriende wat ná die troue wil uitpluis wat gebeur het. “Ek speel die kwaai tannie wat die spyseniering hanteer.”

Met dié dat sy later vanjaar 40 word, wil Elma meer tyd maak vir dinge waarvoor sy lief is. “Liefde gaan ook vir my daaroor om dinge te doen waarvan ek hou.” In dié stadium is sy “die liefste vir ’n balans in my lewe”.

“Ek sal deesdae makliker nee sê vir werk – soms ten koste van my bankrekening. Dit het ook met die tyd gekom. ’n Mens begin vrae vra oor wat jy agterlaat. Is dit net my werk wat my definieer? Doen ek genoeg om myself te definieer?”

‘Ek is wie ek is en dis orraait. Ek mag myself liefhê soos wat ek is’

Daarom gee sy nou meer aandag aan stokperdjies en selfverryking. Sy speel klavier, klarinet en tjello, maar het jare laas aan een van haar instrumente geraak; vanjaar wil sy dit herontdek.  Sy het ook in Desember ’n aanlyn kursus in binnenshuise ontwerp voltooi.

“Dit het ’n nuwe wêreld vir my oopgemaak. Ek het onlangs ’n taak ingehandig waarin ek moes teken, en het toe sommer die hele dag lank net geteken. Daardie kreatiewe kraantjie is nou oop. Ek is lief vir die magic daarvan om ’n plek te omskep om heeltemal na iets anders te lyk.”

Sy is ook lief vir kos maak.

“Kos was nog altyd ’n groot liefde in ons huis. Ons het plaaskos geëet vandat ek klein was. My oupa en ouma (aan moederskant) het op ’n plaas by Wolmaransstad gewoon. My ma kom van ’n plaas en my pa het op De Aar grootgeword.

“My ma is ’n fantastiese kok en my pa die beste braaier. Ons kan ure lank gesels oor kos. Terwyl ons ontbyt eet, praat ons al oor wat ons vir middag- en aandete gaan maak.”

Dis juis oor haar liefde vir kos dat sy dit so geniet om die aanbieder van die VIA-kosprogram Plaaskombuis te wees. Sy pak binnekort weer die langpad vir die verfilming van die vierde seisoen in die reeks, waarin tradisionele lekkertes op die platteland berei word.

Elma op haar troue by haar broers­kinders, Aydan (links) en Kayla. Foto: Anne Grace Photography

Wanneer sy dink aan haar wortels op die platteland, draai haar gedagtes na haar ouma aan moederskant, Bettie le Roux. Ouma Bettie, wat in 2013 in die ouderdom van 88 oorlede is, was nes Elma lief vir die kunste en het op 80 nog vir bejaardes toneelstukke geskryf en motiveringspraatjies gelewer.

“Ons het mekaar op ’n vlak verstaan wat baie spesiaal was.” Elma se groen oë blink – dié keer van ’n nattigheid. Vir haar is dit juis die liefde.

"As jy so lief is dat jou emosies baie naby aan die oppervlak sit. Dis daai gevoel van . . . jy weet nie regtig wat dit is nie. Dis amper onverklaarbaar dat jy so kan voel oor iets of iemand, maar jy voel net dis liefde.”

“Dis meer ’n gevoel soos hierdie. As jy so lief is dat jou emosies baie naby aan die oppervlak sit. Dis daai gevoel van . . . jy weet nie regtig wat dit is nie. Dis amper onverklaarbaar dat jy so kan voel oor iets of iemand, maar jy voel net dis liefde.”

Die glimlag is terug toe sy praat oor die grootste lesse wat die liefde haar geleer het. “Koester liefde. Hou jou oë oop om dit raak te sien. Ek dink ’n mens kyk liefde soms mis omdat mense dit op verskillende maniere wys.

“Wees bewus daarvan. Gee liefde met alles wat jy kan, want dit verryk jou lewe en maak alles net beter. Moenie inhou nie: Hê lief asof jy nog nooit liefgehad het nie – jy mag maar. En dan is dit regtig belangrik om liefde vir jouself te hê. Dis belangrik om jouself te aanvaar.

“Dis al manier hoe jy liefde in oorvloed sal kan uitdeel.” 

FOTO’S: LUBABALO LESOLLE; ALLE UITRUSTINGS: SUZAAN HEYNS; BLOMSTILERING: JONETTE ENGELBRECHT VAN BOTANICUS, WWW.BOTANICUS.CO.ZA EN INFO@BOTANICUS.CO.ZA; HARE, GRIMERING EN STILERING: CHANTEL NEL, INFO@CHANTELNEL.CO.ZA.