Ons is sedert die begin van die inperking in Maart tot ons huise beperk. Maar toe regulasies met vlak 3 verslap en plaaslike lugreise weer toegelaat word vir sakedoeleindes, het die radio-aanbieder nie twee keer gedink voor sy op ’n vliegtuig gespring het om ’n BrightRock-stroomgeleentheid by die Nuweland-rugbystadion in Kaapstad aan te bied nie.

Die sport-aanbieder, wat versot is op plaaslik en oorsee reis, het haar vlugervaring met haar vriende en familie in die sosiale media gedeel. “Drie mense het my ondersoek,” sê Elma in haar vlog.

“Die eerste een wou kyk of ek my permitte het vir die parkeerarea en my permit van my werkgewer wat sê ek het toestemming om te reis (dis nagegaan deur nog iemand).

“Die derde persoon het my temperatuur getoets en ek is toe na die instaphek.”

Elma het met haar terugkeer met Huisgenoot gesels vanuit haar huis in Johannesburg wat sy met haar man, Richard Maspero, deel en vertel hoe dit was om vir die eerste keer in ’n lang tyd te vlieg.

Sy sê die instapproses was soos om inkopies tydens die inperking te doen.

“Ek was nogal angstig vir die eerste 20 minute, dis vreemd hoe vinnig ons gewoond geraak het aan ons afstand van mense hou,” sê sy.

“Om in ’n klein ruimte soos ’n vliegtuig met talle ander te wees, het vreemd gevoel.

“Ek dink die grootste merkbare verandering was hoe stil die lughawe is. Voor jy by jou instaphek kom, is daar so min mense dat dit baie gedemp voel.”

Elma (34) sê sy moes twee ure voor haar vlug by OR Tambo wees om deur die voorsorgmaatreëls te gaan, en dit het beslis verskil van haar reise voorheen.

“Ek het bevoorreg gevoel om weer te reis, want dis iets wat ek voorheen gereeld gedoen het en ek het nie besef hoeveel ek dit gemis het nie.

“Dis beslis nou ’n veeleisender en meer stresvolle proses as voorheen.”

Elma het in Februarie, voor die inperking, na Kaapstad gereis vir haar suster se ooievaarstee en die verfilming van die Lockdown Laughs-videoreeks saam met Jean de Villiers en Schalk Brits.  

Om aan die nuwe normaal gewoond te raak, is nie maklik nie, maar daar is een aspek waarop Elma versot is – en waarvoor sy noodsaaklike werkers loof.

“Die ding wat ek die meeste geniet van vlieg tydens covid, is dat die lugwaardin ry vir ry vir jou sê jy kan opstaan, jou sakke vat en loop, so daar is nie honderde mense wat die gang volmaak in ’n poging om eerste van die vliegtuig te klim nie.”