Dis ’n wolklose dag. Hier waar ons op die houtdek sit, lê die Goudstad eindeloos voor ons voete uitgestrek. Die groen blaredak van boomryke voorstede, Rosebank en Sandton se betonkranse . . . en op die helderste dae kan jy glo selfs die piepklein broodroostervorm van die Voortrekkermonument op die horison gewaar.

Die meeste van ons ken haar danksy haar kabaretvertonings, soms saam met Nataniël en Casper de Vries.

Maar dis hierdie uitsig van haar tuiste en gastehuis hoog in Brixton, Johannesburg, wat haar die afgelope 14 jaar die meeste vreugde gegee het, sê die veteraansangeres en -aktrise Elzabé Zietsman.

Elke oggend groet sy die daeraad van hierdie einste houtdek af. En saans, wanneer sy die groot vleuelklavier in die eetkamer met sy glasmure bespeel, flonker die stadsliggies soos diamante op ’n see van swart fluweel.

“Ek het hierdie uitsig nie een enkele keer in 14 jaar as vanselfsprekend aanvaar nie,” sê Elzabé (59). Maar binnekort sal die son vir altyd oor haar droomlewe sak. Die inperking het haar van haar gastehuis, Zietsies, beroof; haar stukkie hemel.

Elzabé Zietsman
By ’n personeellid, Agnes Ndweni. Foto: Onkgopotse Koloti

“Ek het hierdie ding van alle kante bekyk,” sê sy afgehaal. “Maar vergeefs. Want ná vier maande sonder besprekings is daar vir my geen ander opsie nie.”

Ook die restaurant, ’n gewilde kuierplek vir Johannesburgers, was weens die inperking maande lank leeg.

Elzabé se vergoeding vir haar rol as die karakter Magda in kykNET se Getroud met rugby was nie genoeg om die bedryfskoste van ’n gastehuis sonder gaste te dek nie.

Zietsies, met sy kunswerke teen die mure en terrasse wat sy laat bou het, bevat ’n “leeftyd se herinnerings” wat nou in bokse gepak moet word.

Elzabé Zietsman
Die Zietsies-gastehuis was meer as ’n dekade lank ’n gewilde oord in Brixton, Johannesburg. Foto: Onkgopotse Koloti

Hier het sy die meeste van haar 16 pleegkinders sien grootword. En dis ’n paradys vir haar honde: Fransina, Babsie, Blues en Jack. “Óf ek doen dit nou óf ek speel bankrot,” sê sy in haar heserige stem.

“Ek wou die huis red. O, hemel tog, daar is niks wat ek meer sou wou doen nie. En ek het probeer. But it’s just not f****** possible.” Die rekenings bly net ophoop en dreig om haar te verswelg.

“Is ek in sak en as? Geheel en al. Elke oomblik hier was magic. Maar nou is dit verby. Teëstribbel help net mooi niks.”

Graffiti is eie aan Brixton en so is die naam Zietsies dan ook met spuitverf aan die buitemuur aangebring.

Die Elzabé wat ons by die hek van Beverleylaan no. 1 begroet, lyk asof sy haar sjiek blokkiesbroek enige oomblik vir swart visnetkouse kan verruil vir ’n hoogskopdans op die kabaretverhoog. “Hoesit,” laat sy hoor en loer vir ons oor haar brilraam.

Ons stap 28 trappies af na die voordeur, deur die ingangsportaal met sy Middeleeuse dekorstyl, en gaan in die eetkamer naby die vleuelklavier sit.

Elzabé skink koffie en vra: “Ag, moet asseblief nie ’n sob story hieroor skryf nie. Sê liewer ek staan weer op; dat ek weer planne sal maak.”

‘Wanneer ek my lewe in bokse pak, vat ek my drome almal saam’

Destyds het die huis haar hart gesteel die oomblik toe sy dit sien. “Ek kon dit nie bekostig nie, maar het onmiddellik geweet hier gaan ek gelukkig wees. Ek het gesoek na ’n plek waar ek die son kon sien opkom én ondergaan. En hierdie plek was dit – meer as dit.”

Sy het die huis in ’n vierslaapkamer-gastehuis omskep om die verband te kon betaal en het ook kabaretaande aangebied. En 14 jaar lank het dit goed gegaan. Op die meeste weekdae was die kamers bespreek, en Sondae se “kos en konsert”-aande was ewe gewild.

“Ek kon my twee passies kombineer: my liefde vir my musiek en my passie vir kos. Sondae het ons vroeg die kos begin maak. Wanneer die gaste kom, sit ek my voorskoot aan en bedien hulle. Ná die hoofgereg haal ek my voorskoot af en gee vir die mense ’n show. Hulle klap, ek buig, dan sit ek weer my voorskoot aan en sê: ‘Orraait, die poeding is op pad.’ ”

Elzabé Zietsman
Elzabé het deur die jare haar eie stempel op dié huis afgedruk. Foto: Onkgopotse Koloti

Sy neem ’n sluk koffie en tel vir Jack, ’n skaaphond, op haar skoot voor sy byvoeg: “En nou is dit verby.”

Buitelandse toeriste het weens die pandemie en die internasionale reisverbod hul gastehuisbesprekings begin kanselleer nog voor Suid-Afrika se eie inperking op 26 Maart begin het.

“Ek kon sien hoe die situasie buite beheer tol en my huis uit my hande glip. In Februarie het ek nog ’n besprekingskoers van 70% gehad. In Maart was dit 20%, en sedertdien nul.”

Later was daar drupsgewys geldhulp vir die gastebedryf, maar nie naastenby genoeg vir uitgawes soos versekering, veiligheid en vyf werkers se salarisse nie. Onlangs is gastehuise weer toegelaat om hul deure vir ’n beperkte getal besoekers te open, maar sy vrees die virus.

“Sou dinge anders gelyk het as ek elke aand die gastehuis vol gemaak het? Dalk. Maar wat moes ek doen? Ek is byna 60 en die kwesbaarste vir die virus. Ek het kinders en mense wat van my afhanklik is,” sê sy.

“Ek moes myself vra: Is die huis my lewe werd? En die lewe van mense saam met wie ek al 20 jaar ’n pad stap? Jy weet tog nie wie in jou huis inkom nie; jy weet nie waar hulle was en of hulle jou kan siek maak nie. Die antwoord was doodeenvoudig nee. Ek moes die virus ernstig opneem, en ek doen dit steeds.”

En onlangs het sy toe besef sy sal nie langer die gastehuis kan bedryf sonder om alles te verloor nie. “Glo my, ons het als probeer. Daar was payment holidays op die verband en versoeke aan hulpfondse; alles waaraan jy kan dink. Maar ek moes my personeel bymekaarkry, mense wat soos familie vir my is, en vir hulle sê dis verby.”

Haar hartseer personeel weet sy het alles moontlik gedoen, sê Elzabé. “Ek is ’n praktiese mens. Ek dink logies oor dinge en besef wat my volgende stap moet wees. Maar dit maak nie my hart heel nie; dit vat nie die seer weg nie.”

Elzabé se broer, Koos Zietsman, is ’n vennoot in die onderneming. Dis veral sy steun wat haar nou dra en laat glo dat “alles weer oukei sal wees”.

Sy wys ons ’n boodskap van Koos op haar selfoon: “Ek is verskriklik jammer, Ziets. Dit was jou droom, maar nou is dit verby. Jy sal hierdeur kom met nuwe planne, en ek is al die pad saam met jou.”

Elzabé Zietsman
‘Wanneer ek my lewe in bokse pak, vat ek my drome almal saam’ Foto: Onkgopotse Koloti

Emosioneel sê sy: “Daar is mos nou geen manier vir my om nie te glo dat dinge weer oukei sal wees nie.” In die leefvertrek neffens die kombuis hang ’n kunswerk met die woorde: “If you give up your dream, you die.

En nee, sy sal nooit haar drome prysgee nie, sê Elzabé. “Want wanneer ek my lewe in bokse pak, vat ek my drome almal saam.”

Elzabé het haar huis begin adverteer en hoop om dit in die komende weke te kan verkoop om sodoende haar finansiële verknorsing op te los.

Sy sal in een van Koos se huise net “in die straat af” bly terwyl sy haar volgende hoofstuk beplan. “My hart is die seerste oor die uitsig en die shows wat ons hier gehou het,” sê sy.

“Maar tans is my grootste bekommernis dít: Hoe die f** gaan ek my klavier in die klein ruimte kry waarheen ek nou trek?”

Ons lag en stap na die trappies wat na die oprit lei. Met die groetslag sê Elzabé: “ ’n Mens moet lag; hoe anders? Huil help tog niks; vrae en tob ook nie. Maar as jy lag, jong, dan weet jy alles sal rêrig weer oukei wees.”