Ek het Diana die eerste keer in 1981 ontmoet, kort voor haar en prins Charles se troue. Dit was op prins Andrew se 21ste verjaardagpartytjie by die Windsorkasteel – ek en Ray Cooper (die Engelse tromspeler) moes vir die vermaak sorg.

Dans met die koningin

Dit was ’n onwerklike aand. Die kasteel is buite met psigedeliese beligting verlig, en voor ons optrede het ’n mobiele disko vir die vermaak in die balsaal gesorg.

Omdat die koningin daar was en niemand haar wou aanstoot gee nie, is die klank so laag gedraai as wat moontlik was sonder om dit heeltemal af te skakel. Jy kon jou voete letterlik bo die musiek oor die dansvloer hoor beweeg.

Elton, prinses Margaret en haar man, Antony Armstr
Elton, prinses Margaret en haar man, Antony Armstrong-­Jones, in die 1970’s. Foto: Gallo Images/Getty Images

Prinses Anne het my gevra om op die maat van Elvis Presley se “Hound Dog” met haar te dans. Wel, ek sê dans, maar ek het op die ou end net ongemaklik van een voet na die ander geskuifel om so min moontlik geraas te maak sodat ek nie die musiek uitdoof nie. As jy jou ore gespits en hard gekonsentreer het, sou jy net-net kon uitmaak die DJ het van Elvis na “Rock around the Clock” oorgeskakel.

Toe daag die koningin op, handsak en al. Sy het gevra of sy by ons kan aansluit. Ek het so onhoorbaar moontlik met prinses Anne en die koningin – wat steeds haar handsak vasgehou het – probeer dans terwyl skynbaar die stilste ­disko ter wêreld Bill Haley speel.

Tydens my interaksies met die koningsgesin het ek hulle altyd as sjarmante en snaakse mense ervaar. Ek weet die koningin se openbare beeld is nie juis een van wilde lighartigheid nie, maar ek dink dit het meer met die aard van haar werk te doen.

Ek het dit opgemerk toe ek die CBE (Kommandeur van die Orde van die Britse Ryk) in 1996 en toe die ridder­skap (twee jaar later) ontvang het. Sy moes twee en ’n half uur lank die goed uitdeel, en met 200 mense, die een ná die ander, oor koeitjies en kalfies gesels.

Enigeen in daardie posisie sou moeilik met ’n rits briljante spitsvondighede vorendag kon kom. Sy vra jou net of jy deesdae besig is, jy sê “Yes, ma’am”, sy antwoord “Hoe lieflik” en beweeg aan.

Skreeusnaaks en ’n klap

Maar in haar privaat hoedanigheid kan sy skreeusnaaks wees. Ek het op ’n ander partytjie gesien hoe sy burggraaf Linley (haar suster prinses Margaret se seun) vra om te gaan kyk hoe dit met sy suster gaan wat siek geword en na haar kamer gegaan het.

Toe hy haar herhaaldelik probeer ignoreer, het die koningin hom liggies deur die gesig geklap en gesê: “Moenie” – KLAP – “met” – KLAP – “my” – KLAP – “stry” – KLAP – “nie” – KLAP – “ek” – KLAP – “is” – KLAP – “DIE KONINGIN!” Dit het blykbaar die deurslag gegee. Toe hy uitstap, het sy gesien ek staar, vir my geknipoog en weggestap.

Maar hoe snaaks of normaal die koningsgesin ook al voorgekom het – of hulle gekla het oor die verfwerk aan my Aston Martin, my gevra het of ek kokaïen snuif voor ek op die verhoog klim of vir my geknipoog het nadat hulle hul susterskind deur die gesig geklap het – ’n oomblik sou onvermydelik aanbreek wanneer ek ietwat ontuis sou voel en dink: “Dit is eenvoudig bisar. Ek kom uit ’n munisipale huurhuis in Pinnerweg – wat maak ek hier?”

Diana

Met Diana was dit anders. Ondanks haar status en agtergrond was sy ge­seën met ’n vermoë om met enigeen te kon praat, haarself doodgewoon te laat voorkom en mense heeltemal op hul gemak te stel in haar geselskap.

Haar kinders het dit geërf, veral prins Harry; hy stel nes sy ma glad nie in formaliteit of prag en praal belang nie. Daardie beroemde foto van haar wat ’n vigspasiënt se hand by die Middlesex-hospitaal in Londen vashou – dít was Diana.

Ek dink nie sy het noodwendig ’n stelling daarmee probeer maak nie, al hét sy klaarblyklik: Daardie oomblik het die ­publiek se houding oor vigs vir altyd verander. Sy het bloot iemand ontmoet wat ly, pyn verduur en sterwend is: Hoekom sou jy nie uitreik en hulle aanraak nie? Dit is die natuurlike menslike impuls, om ­iemand te probeer troos.

Diana troos in 1991 ’n vigs­pasiënt by ’n hospies
Diana troos in 1991 ’n vigs­pasiënt by ’n hospies in Toronto, Kanada. Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe sy daardie aand in 1981 by die balsaal aankom, het ons dadelik gekliek. Ons het op die ou end gemaak asof ons die Charleston dans terwyl ons die flou disko uitgejou het. Sy was wonderlike geselskap, die beste gas, ongelooflik ondiskreet, ’n regte skindertong: Jy kon haar enigiets vra en sy sou jou vertel.

Saam met Diana by ’n konsert ten bate van vigsslag
Saam met Diana by ’n konsert ten bate van vigsslagoffers. Foto: Realtime Images

Ál wat eienaardig was van haar, was die manier waarop sy oor prins Charles gepraat het. Dit was altyd “my man”, nooit Charles nie, en beslis nooit ’n liefdevolle bynaam nie.

Dit het baie afsydig, koud en formeel voorgekom en dit was vreemd, want Diana was geensins formeel nie. Dit het haar altyd verstom hoe styf en korrek van die ander lede van die koningsgesin kon wees.

Maar as Diana my uitgeboul het, was dit niks vergeleke met die uitwerking wat sy op heteroseksuele mans kon hê nie. Hulle het skynbaar heeltemal kop verloor in haar teenwoordigheid: Hulle was volkome betower.

Terwyl ek aan The Lion King gewerk het, het Jeffrey Katzenberg, die hoof van Disney, Engeland toe gekom en ons het ’n ete vir hom en sy vrou, Ma­rilyn, by Woodside (Elton se huis in Windsor) gehou. Ek het hulle gevra of daar enigeen in Engeland is wat hulle graag wil ontmoet, en hulle het dadelik gesê: “Prinses Diana.”

Toe nooi ons haar, George Michael, Richard Curtis (die Britse draaiboek­skrywer en regisseur) en sy vrou, Emma Freud, Richard Gere en Sylvester Stallone, wat almal toe in die land was.

Vete tussen Richard Gere en Sylvester Stallone

Die eienaardigste toneel het begin ­afspeel. Richard Gere en Diana het skynbaar dadelik by mekaar aanklank gevind. Sy was in daardie stadium vervreem van prins Charles, en Richard en Cindy Crawford was pas uitmekaar. Hy en die prinses het later saam op die vloer voor die kaggel gesit, verdiep in ’n gesprek.

Terwyl ons ander gesels het, kon ek nie help om ’n effens vreemde atmosfeer in die vertrek op te merk nie. Te oordeel na die soort kyke wat hy hulle bly gee het, het Diana en Richard se nuutgevonde vriendskap Sylvester glad nie aangestaan nie.

Ek dink hy het dalk by die partytjie opgedaag met die uitdruklike doel om by Diana aan te lê, net om te ontdek sy plan vir die aand is onverwags gefnuik.

Die kos is eindelik voorgesit. Ons het in die eetkamer gaan aansit. Of ten minste, die meeste van ons het. Daar was geen teken van Richard of Sylvester nie. Ons het gewag. Steeds geen teken nie.

Ek het David (Furnish, sy toekomstige man) op die ou end gevra om hulle te gaan soek. Hy het teruggekom met hulle albei, maar met ’n asvaal uitdrukking op sy gesig. “Elton,” het hy gemompel. “Ons het . . . ’n situasie.”

Dit blyk toe David het op Sylvester en Richard in die gang afgekom waar hulle regstaan om hul geskil oor Diana met ’n vuisgeveg te besleg. Hy kon hulle kalmeer deur te maak of hy onbewus is van wat aangaan: “Hei, ouens! Etens­tyd!” maar Sylvester was duidelik steeds omgekrap.

­Elton en David. Foto: Gallo Images/Getty Images
­Elton en David. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ná ete het Diana en Richard weer hul plek voor die kaggel ingeneem en Sylvester het eindelik uitgestorm huis toe.

“Ek sou nooit gekom het,” het hy gesis toe ek en David saam met hom deur toe stap, “as ek geweet het die f***** towerprins gaan hier wees nie.” Toe voeg hy by: “As ek haar wou gehad het, sou ek haar gekry het!”

Ons het dit reggekry om te wag tot sy motor uit sig verdwyn voor ons begin lag het. Terug in die woon­kamer het Diana en Richard mekaar steeds in vervoering aangekyk. Sy het heeltemal onverstoord gelyk. Dalk het sy nie besef wat aan die gang was nie. Of miskien het sulke dinge die hele tyd gebeur en was sy daaraan gewoond.

Uitval met Diana

Ná haar dood het mense van die sogenaamde Diana-effek begin praat. Daarmee het hulle bedoel die manier waarop sy die publiek se houding oor die koningsgesin, of dinge soos vigs, bulimie en geestesgesondheid, laat verander het.

Maar elke keer as ek die woord hoor, dink ek aan daardie aand. Daar was beslis ’n ander soort Diana-effek: een wat Hollywood­supersterre byna oor haar aandag by ’n dinee laat vuisslaan het, soos twee smoorverliefde tiener-idiote.

Diana was jare lank ’n baie dierbare vriendin van my, en toe, heeltemal onverwags, het ons ’n uitval gehad. Die oorsaak was ’n boek wat die modeontwerper Gianni Versace saamgestel het, Rock and Royalty.

Dit was ’n versameling portrette deur uitstekende fotograwe: Richard Avedon, Cecil Beaton, Herb Ritts, Irving Penn, Robert Mapple­thorpe. Die opbrengs sou na die vigs­stigting gaan, en sy het ingestem om die voorwoord te skryf.

Toe trek sy kleinkoppie. Ek dink die paleis het nie van die idee gehou dat ’n lid van die koningsgesin enigiets te doen het met ’n boek met foto’s van kaal mans met handdoeke om hulle gedrapeer nie.

Daarom het Diana op die nippertjie haar voorwoord onttrek. Sy het gesê sy het geen benul van die boek se inhoud gehad nie, wat eenvoudig nie waar was nie: Gianni het die hele ding vir haar gewys en sy het gesê sy’s mal daaroor.

Ek het vir haar teruggeskryf en vir haar gesê hoeveel geld sy die vigs­stigting gekos het en haar daaraan herinner dat sy die boek gesien het. Die brief wat ek terugontvang het, was baie formeel en ernstig: “Geagte mnr. John . . . ”

Ek was kwaad vir haar, maar ook bekommerd. Dit het gelyk of sy kontak verloor met hegte vriende wat eerlik met haar sou wees.

Pleks daarvan het sy haarself met mense omring wat vir haar vertel het wat sy graag wou hoor, of wat sou luister en knik wanneer sy met party van die paranoïese ­teorieë oor die koningsgesin vorendag sou kom wat sy sedert haar egskeiding ontwikkel het.

Gianni Versace se moord

Ek het nie weer met haar gepraat tot die dag dat Gianni vermoor is nie. Sy was die eerste mens wat my gebel het nadat John Reid (Elton se voormalige kêrel en sakebestuurder) gebel en vir my gesê het hy is dood. Ek weet nie eens hoe sy die nommer in die hande gekry het nie; ons het toe nog nie lank die huis in Nice (Frankryk) gehad nie.

Sy was daar naby langs die kus, in St. Tropez, op Dodi Fayed se seiljag. Sy het gevra hoe dit gaan; of ek met Donatella (Gianni se suster) gepraat het. En toe sê sy: “Ek is so jammer. Dit was ’n verspotte uitval. Kom ons wees vriende.”

Diana en haar kêrel, Dodi Fayed, in St. Tropez, Fr
Diana en haar kêrel, Dodi Fayed, in St. Tropez, Frankryk, ongeveer ’n maand voor die ongeluk wat hulle albei se lewe geëis het. Foto: Realtime Images

Sy het saam met ons na die begrafnis gegaan en ongelooflik gelyk: sonbruin van haar vakansie, en met ’n pêrelhalssnoer. Sy was dieselfde hartlike, sorg­same gevoelsmens wat sy altyd was.

Die paparazzi in die kerk het stapelgek geword toe sy instap: Dit was asof die grootste ster ter wêreld opgedaag het, en ek veronderstel sy was. Hulle het dwarsdeur die diens bly kiek.

Tog wil ek noem dat die bekende foto wat hulle geneem het van haar wat my skynbaar troos – waar sy na my oorleun en praat terwyl ek met rooi oë, glasig van die verdriet, daar sit – was een oomblik tydens die diens toe sy niks van die aard gedoen het nie.

Diana, Elton en sy man, David Furnish, in 1997 by
Diana, Elton en sy man, David Furnish, in 1997 by die mode-­ikoon Gianni Versace se begrafnis. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hulle het haar afgeneem die oomblik toe sy oor my leun en uitreik vir ’n pepermentjie wat David vir haar aangebied het. Die warm trooswoorde wat op daardie presiese oomblik oor haar lippe gekom het, was eintlik: “Sjoe, ek sal hou van ’n Polo (pepermentjie).”

Ek het agterna vir haar geskryf en haar bedank, en sy het teruggeskryf en aan­gebied om ’n beskermvrou van die vigs­stigting te wees en gevra of ek by haar landmyn-liefdadigheidsorganisasie betrokke sou raak.

Ons sou die volgende keer dat ons albei in Londen is vir middagete bymekaarkom en dit bespreek. Maar daar was geen volgende keer nie.

Diana is net meer as ’n maand later, op 31 Augustus 1997, in ’n motor­ongeluk in Parys dood. Elton het op haar begrafnis in die Westminster­abdy in Londen sy beroemde treffer “Candle in the Wind” gesing om aan haar hulde te bring.



Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

’n Geredigeerde uittreksel uit Me deur Elton John (Macmillan, R289 by takealot.com). Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.