Maar vir Renate Blauel, die eksvrou van die musieklegende Elton John, was dit eerder soos hel op aarde.

Die 67-jarige Renate beweer sy het op die derde dag van hul wittebrood op dié kusdorp ’n oordosis Valium-pille gedrink nadat die "Rocket Man"-sanger vir haar gesê het hul huwelik werk nie en hy wil haar verlaat.

Die Duitse klankingenieur, wat van 1984 tot 1988 met Elton getroud was, is na die hospitaal gehaas, en sy beweer Elton het haar nie eens besoek nie. Daarby, sê sy, het hy reguit met haar en haar bagasie na die lughawe gery nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. 

Die skokbewerings is die jongste wat aan die lig gekom het uit dokumente wat by die hooggeregshof in Londen ingedien is. Sy dagvaar die rocker vir sowat R63 miljoen (£3 miljoen) se skadevergoeding.

Renate en Elton
Renate Blauel, eksvrou van die musieklegende sir Elton John. Foto: Gallo Images/Getty Images

Renate, wat Elton ontmoet het terwyl hy aan sy album Too Low for Zero van 1983 gewerk het, beweer hy het die bepalings van hul egskeidingsooreenkoms verbreek toe hy oor haar geskryf het in sy outobiografie, Me, wat verlede jaar bekendgestel is. Sy sê die boek het jarelange geestesgesondheidsprobleme aangewakker al is die kommentaar oor haar daarin net positief.

“Sy het nie die boek voor publikasie gesien nie,” sê ’n bron.

“Sy het daarvan te hore gekom en gesê: ‘Maak asseblief seker ek is nie daarin nie.’ Sy wou nie as ’n gek uitgebeeld word nie. 

“Sover ek bewus is, het sy waarskuwings oor die boek gestuur. Dalk is dit nooit vir Elton gewys nie, maar die boek is uitgegee en sy is daarin, en hier is ons nou.”

Elton se regspan erken die ooreenkoms bestaan, maar ontken die 73-jarige sanger het die bepalings verbreek of enige sielkundige leed veroorsaak. 

“Elton het altyd Renate se privaatheid respekteer en sal aanhou om dit te doen,” het sy regsadviseur, Jenny Afia, aan Mail Online gesê. 

Renate en Elton
Renate en Elton in gelukkiger dae. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Dit is goed gedokumenteer dat hul huwelik volkome eerbiedig was en die verhouding wat Elton en Renate gehad het nadat hulle geskei is, was vir die volgende 30 jaar steeds vriendskaplik, eerbiedig en eerbaar. 

“Dit sal in die saak vasgestel word dat daar in daardie tyd vele liefdevolle korrespondensie van Renate direk aan Elton was.

“Ons vind dit ook verbysterend dat dié eis om privaatheid wentel terwyl Renate in elke stadium van die verrigtinge gekies het om die aansprake in die openbare domein te dien (terwyl sy kon gekies het om dit vertroulik te hou) oor veronderstelde ervarings wat tydens hul huwelik gebeur het wat heeltemal teen die hele grondslag van die saak indruis.” 

Elton het in 2014 met David Furnish getrou en die egpaar is die ouers van die negejarige Zachary en sewejarige Elijah.

Elton met David Furnis en die egpaar se spruite, Z
Elton met David Furnis en die egpaar se spruite, Zachary (8) en Elijah (6). Foto: Gallo Images/Getty Images

Bronne: BBC, Daily Mail, The Sun