Die tradisionele Griekse troue sal hulle nog hê, m
Die tradisionele Griekse troue sal hulle nog hê, maar vir nou was ’n intieme seremonie voldoende toe Emmanuel Castis met Sharlene Economou getroud is. Foto: Verskaf.

’n Aanskoulike seremonie voor die altaar kon daar nie wees nie weens die pandemie. Ook nie die ritmiese danse so eg aan troues in die Griekse kultuur of die baldadige breek van borde om die huwelik te vier nie.

Nogtans was die akteur en musikant Emmanuel Castis in die wolke toe hy en sy bruid, Sharlene, onlangs in ’n intieme japtraptroue deur ’n amptelike huweliksbeampte getroud is.

Ná die informele plegtigheid was daar ’n ete saam met hul naaste familie en vriende by Sharlene (37) se niggie se huis. “Trou is ’n viering van ons liefde, en ons het nie ’n massiewe affêre nodig om dit te vier nie,” vertel Emmanuel (45).

Maar dit was net die begin van hul vreugde, want vier dae ná die troue is hul grootste geskenk gebore – hul eersteling saam, Gia.

View this post on Instagram

A post shared by Emmanuel Castis (@emmanuel_castis)

“Die geboorte van ons pragtige dogtertjie het my net nog meer verlief op Sharlene gemaak. Om te weet dat ons hierdie klein mensie in die wêreld ingebring het, is ongelooflik,” straal die man wat pas bruidegom én pa geword het.

Ja, die pandemie en inperking van die afgelope jaar was uitdagend: Soos ander vryskutakteurs kon Emmanuel, voorheen in Erfsondes op SABC2 en Trackers op M-Net te sien, nie werk nie. Sy musiekgroep, Dalliance, kon ook nie optree nie.

Hy kon darem help met die stigting van ’n aanlyn markplek, African Trade Platform. “Dit was great om iets buite my bedryf aan te pak; dit het my besig gehou sodat ek nie kon tob oor my eie bedryf wat inmekaartuimel nie.”

Dinge het selfs taaier geraak toe die hoogswanger Sharlene op 18 Desember covid-simptome begin toon. “Sy was baie moeg, het gehoes en ’n hoë koors gehad,” onthou Emmanuel. 

Toe sy positief toets, het sy dadelik elders in hul Johannesburgse huis geïsoleer. Hy het vir haar gekook en gedurig alles ontsmet.

“Ek moes dinge bymekaarhou terwyl Sharlene teen die virus veg. Ek het ’n killer Kersete gemaak, en ek is nie te sleg met skottelgoed was nie,” vertel hy oor Kersdag wat hulle twee saam dog geïsoleer gevier het.

Gelukkig was Sharlene se dogter uit ’n vorige verhouding, Anthea (10), in hierdie tyd by haar pa.

Maar hier vroeg in die nuwe jaar is die moeilike tyd vir eers vergete, want nou spog Emmanuel met ’n nuwe bruid én ’n nuwe baba. Almal is gesond, en die werkvooruitsig lyk ook beter.

En maak g’n fout nie, grinnik Emmanuel: ’n Bruilof in die ware gees van My Big Fat Greek Wedding sál hulle hê “sodra covid dit toelaat”.

Hy en Sharlene, ’n inkomstespesialis by ’n bestuurskonsultasiefirma, is al vyf jaar saam hier in Johannesburg.

In Augustus verlede jaar het hy eindelik die jawoord gevra en begin beplan om af te haak.

Die ringe.
Die ringe. Foto: Verskaf.

In Desember het die skok van haar covid-diagnose gekom.

“Ons was natuurlik bekommerd oor Sharlene en die baba se gesondheid,” vertel Emmanuel. “Maar ons het van ons ginekoloog en ander geloofwaardige bronne verneem daar is geen opgetekende gevalle waar die virus van ’n ma na haar kind oorgedra is nie.”

Sharlene het gelukkig ook nie baie siek geword nie.

“Ek en Sharlene was ses dae lank in direkte kontak terwyl sy simptome begin toon het, maar ek het nooit covid gekry nie. Toe ons uitvind Sharlene is positief, het ons dadelik in aparte kamers begin slaap, en sy het meestal in haar kamer gebly. As sy moes uitkom, het ek die plekke behoorlik ontsmet.”

Hulle wou uit die staanspoor ’n tradisionele Griekse bruilof hou, maar midde-in die pandemie kan dit nie nou gebeur nie.

Tog het dit sin gemaak vir hulle om wettig getroud te wees wanneer Gia haar opwagting maak sodat sy, soos Emmanuel, Griekse burgerskap kan hê.

Die trouregister word onderteken.
Die trouregister word onderteken. Foto: Verskaf.

“Ons het vir ’n hele rukkie daaraan gedink om ’n kleiner seremonie voor ons baba se koms te hou, maar ons het eers sowat twee weke voor die tyd op ’n datum besluit,” vertel hy.

Hulle was aanvanklik ongeërg oor die burgerlike plegtigheid op 6 Februarie deur die Ryan Hogarth Professional Marriage Officers in Sandton.

“Tot die oomblik toe ons ons huweliksbeloftes aan mekaar aflê . . . Toe is dit des te meer spesiaal omdat die geleentheid so intiem was. Ek en Sharlene voel nie ons moes enigiets laat vaar wat ons werklik wou gehad het nie.”

Die troukoek.
Die troukoek. Foto: Verskaf.

Net die paartjie se twee beste vriende, Sharlene se ouers, haar tannie en haar niggie, dié se man en dogtertjie, en Anthea was daar.

“Ons het eintlik nie geweet wat om van die onthaal te verwag nie, want Sharlene se familie het dit gereël,” vertel Emmanuel.

Tot hul verbasing was alles perfek: ’n tafel met eetgoed deur ’n plaaslike spysenier, ’n koek, en vir musiek het elkeen YouTube-keuses gemaak. Emmanuel het “net om op te warm vir die groot makietie wat gaan kom” een of twee Griekse dansliedjies gekies.

Wanneer hulle wel op die tradisionele manier hul troubeloftes herhaal, “sal daar beslis ’n partytjie wees met ’n Griekse dans hier en daar,” sê hy met ’n knipoog.

Emmanuel, Sharlene en Anthea sit by hul gaste. Lin
Emmanuel, Sharlene en Anthea sit by hul gaste. Links is Lyn McKechnie, Sharlene se tannie, en Emmanuel se vriend Ky Ox. Agter staan Sharlene se ouers, Brenda en Allan Ullyett, en regs is haar niggie Tracy Dunbar met dié se man, Kim, en dogter, Hayley, heel voor. Foto: Verskaf.

Net vier dae ná die troue, op 10 Februarie, is Gia deur ’n keisersnee gebore.

“Aanvanklik sou ek weens covid-maatreëls net vir die geboorte daar kon wees, en daarna met amptelike besoektye. Dit het my gebreek,” vertel Emmanuel opnuut bewoë.

Gelukkig is die inperkingsmaatreëls toe net betyds verslap sodat hy gedurig by hulle kon wees.

“Wanneer daardie kleinding die eerste keer die wêreld binnekom, dinge begin sien en ruik, en sy begin huil . . . Dit slaan jou asem weg.”

Klein Gia Sophia Castis het ook dadelik haar ousus se hart gesteel. “Anthea is in die wolke. Sy onderbreek selfs haar rekenaarspeletjies om gou te kom kyk of Gia oukei is.”

Op die agtergrond huil ’n baba hoorbaar, so asof Gia jou wil herinner sy het darem ook ’n bietjie aandag nodig.

‘Die pandemie het ons nog nader aan mekaar gebring’

Emmanuel glimlag en vertel hy is dol oor pa-wees.

“Mense het voor die tyd vir my gesê: ‘Wag tot sy vieruur die oggend begin huil.’ Maar dis alles deel van die proses. Dis deel van die groot wonder om hierdie kindjie in die wêreld te bring. Sharlene het omtrent nog net drie doeke geruil sedert Gia gebore is.”

Dan hoor jy ’n kamma-verontwaardigde vrouestem opklink. “Wag, Sharlene sê sy het pas nog ’n doek geruil,” herhaal Emmanuel. “So dis darem nou al vier.”

Emmanuel, Sharlene en Anthea.
Emmanuel, Sharlene en Anthea. Foto: Verskaf.

Hy vertel hy is dankbaar omdat hy die afgelope ruk soveel tyd saam met sy gesin kon deurbring.

“Ek het ’n nuutgevonde waardering en respek vir my vrou. Dit het soms moeilik gegaan met Anthea wat tuis skoolgaan, haar eie werk én ’n huishouding. En boonop was sy nog swanger ook. Sy is ongelooflik.”

Hy het haar ondersteun waar hy kon. “Jy moet die las ligter maak. Happy wife,happy life, sê hulle mos.

“Die pandemie het ons eintlik nog nader aan mekaar gebring. Dit het ons laat besef ons het eintlik nie baie nodig nie. Ons het mekaar, ons familie, en dit is wonderlik.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.