Dis amptelik. Baba no. 3 is weer ’n seuntjie.

Die glanspaar het Dinsdag in die sosiale media foto’s gedeel van hulle wat elk met ’n ballon staan met ‘seun of dogter?' op.

"Gaan ek steeds die enigste koningin in die huis wees? Kyk na die volgende foto,” skryf Michelle op Instagram. 

Emo en Michelle het reeds twee seuntjies, Kadar Zayn (3) en Ziah Malik, wat in Maart sy eerste verjaardag gevier het.

Op die foto’s kan 'n mens die opgewondenheid op almal se gesig sien terwyl ma en pa se ballonne stukkend gesteek word en blou confetti op hulle neerreën.

Michelle se volgelinge op Instagram het die paartjie gelukgewens. "Hou die Adams-naam hoog met al die seuns," het een laat hoor. "Baie geluk en voorspoed met die swangerskap," sê nog een.

View this post on Instagram

B L E S S E D //:

A post shared by emo adams (@emo_adams) on

"Ons het Vrydag uitgevind dit gaan ’n seuntjie wees. Al wou die seuns graag ’n sussie hê, is ek en Emo baie gelukkig,” vertel Michelle aan Huisgenoot.

"Ek het ná my eerste sonar geweet dit gaan ’n seuntjie wees. Ek was nog altyd ’n seuntjie-ma,” voeg sy by.

Emo en Michelle is al 10 jaar ’n paartjie en het in Januarie hul derde huweliksherdenking gevier.

En hoe voel sy oor die feit dat sy steeds die enigste "koningin" in die huis gaan wees? "Dis hoe ek daarvan hou," sê Michelle en lag vrolik.

Die kleinding sal na verwagting in Junie volgende jaar gebore word, het hulle vroeër in ’n onderhoud aan Huisgenoot vertel.