Melissa Massyn as Nesie in Getroud met Rugby. Foto
Melissa Massyn as Nesie in Getroud met Rugby. Foto: Willem Botha

Ons gesels met die 22-jarige Melissa, wat haar tyd tussen Johannesburg en Kaapstad verdeel, oor haar eerste sepierol.

Hoe voel dit om deel van die GMR-span te wees?

Dis ’n groot eer. Om elke aand landwyd op TV te wees saam met akteurs wat ongelooflik talentvol is en ’n uitstekende span te hê wat jou agter die skerms mooimaak, is iets om op trots te wees. Die akteurs is nogal intimiderend omdat hulle al veterane in die bedryf is. Dis lekker om elke dag met mense saam te werk wat jou iets kan leer. Ek geniet alles op die stel en my karakter ook baie.

Vertel ons meer oor Nesie.

Sy is baie cool. Sy vat nie nonsens nie en is ook nie op haar mond geval nie. Tog is haar hart sag en haar drome groot. Ek en Nesie verskil baie. Ek is ’n mens wat ander en ’n situasie goed kan lees, maar Nesie hou van direk praat en kan glad nie tussen die lyne lees nie. Wat ons gemeen het, is ons naïwiteit.

Jy speel ’n cheerleader. Hoe het jy vir die rol voorberei?

Ek was nie ’n cheerleader op skool nie, maar ek het nog altyd gedans. Ek het musiekteater, hip-hop en moderne dans gedoen. Ek was gemaklik met die rol van Nesie omdat sy ’n groot passie vir dans het.

Hoe was jou skooljare?

Ek het in 2016 aan die Hoërskool Durbanville in Kaapstad gematrikuleer. Ek het skool geniet. Ek het dit as ’n groot sosiale geleentheid gesien waarheen ek elke dag genooi is. Ek en my vriende het soveel pret gehad. Ek het dit geniet om toneel te speel en na skooldanse te gaan, sport te beoefen en om soms op die akademie te fokus. Ek doen tans my B.A.-graad in kreatiewe skryf.

Hoe verskil jy nou van die meisie wat in 2011 in die vermaakbedryf beland het?

Ek het ’n volwassene geword en in my beroeps- en persoonlike lewe gegroei. Namate ek ouer word, besef ek die lewe is regtig ’n verhoog en ’n mens moet dans en sing terwyl jy nog die kans het. Heelwat het ook dieselfde gebly, soos my babbelbekkiepersoonlikheid en my standvastigheid.

Hoe was lockdown vir jou?

Ek was in Bali, Indonesië, toe die lockdown in Suid-Afrika begin het, so ek was bevoorreg om na ’n eiland te kon ontsnap. Niemand het die coronavirus sien kom nie en ons was gelukkig toe met vakansie. Dit was moeilik om tydens ’n wêreldkrisis in ’n vreemde land te wees, maar ons is darem nou daardeur.

MELISSA VERKLAP 10 DINGE OOR HAARSELF

Jou grootste pet peeve?

As iemand gesels of hul foon antwoord terwyl ons fliek. Moenie dit doen nie!

Watter troeteldier sal jy graag wil hê?

’n Skinny pig. Hulle lyk soos babaseekoeie. Ek kan nie genoeg van die oulike goed kry nie.

Wat sou jy koop as jy baie geld gehad het?

’n Huis langs Charlize Theron en ’n private jet.

Jou grootste vrees?

Om iemand te wees wat ek nie is nie.

Watter celeb wil jy as jou BFF hê?

Trevor Noah. Ek dink hy’s vrek slim en baie snaaks.

Waar wil jy nog graag gaan vakansie hou?

Enige plek in Europa.

Wat is die een ding wat die meeste mense nie van jou weet nie?

Ek geniet dit om rugby saam met my drie ouer broers te speel.

As jy een ding vir die res van jou lewe kon eet, wat sou dit wees?

100%-pasta of brood.

Watter taal wil jy nog bemeester?

Duits. Ek het dit op hoërskool gevat en nooit klaargemaak nie.

As jy die president van Suid-Afrika was, wat is die eerste ding wat jy sal probeer verander?

Die vyandigheid. Suid-Afrika is een van die mooiste plekke in die wêreld en dis verryk met soveel verskillende kulture. Tog lewe niemand in vrede hier nie. Ek sal die alledaagse welstand van alle Suid-Afrikaners wil verbeter en vir Suid-Afrikaners wys daar is hoop. Dat ons saam kan staan om ons land te verbeter. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.