Die skrywer en aanbieder Erns Grundling saam met s
Die skrywer en aanbieder Erns Grundling saam met sy nuwe vrou, Catharien Robbertze, in hul huis in Brooklyn, Kaapstad, saam met hul honde, Suki en Mika. Foto: Ziyaad Douglas / Gallo Images

Daardie eerste genesingsreis in 2015 hét hom gehelp om sy destydse liefdesteleurstelling te bowe te kom, vertel die reisskrywer en aanbieder Erns Grundling vandag oor die staptog wat hy in Spanje gedoen het, die Camino-pelgrimsroete.

Maar skaars ses maande daarna het hy met behulp van die einste foon wat hy tuis gelos het weer liefde gevind – hierdie keer op Tinder.

’n “Happy accident”, noem Erns (41) vandag sy verhouding met Catharien Robbertze (36) wat uit ’n kortstondige Tinder-eskapade gevloei het. “Sy was my eerste Tinder-afspraak, ek het net so gou soos ek daar opgeklim het weer afgeklim.”

’n Lang en goeie verhouding, ’n gedeelde huis in Kaapstad en twee honde het gevolg.

“Woody Allen het eenkeer gepraat oor die statistiese onwaarskynlikheid vir twee mense om te pas en dit te laat werk, gegewe al ons streke en alles wat kan gebeur. As dit werk is dit ’n happy accident. Dít is hoe my verhouding met Catharien is. Dit wérk net,” sê Erns. 

En op 5 Maart vanjaar, vyf jaar ná daardie eerste afspraak, het die twee stilletjies afgehaak in ’n troue so gestroop soos die pelgrimsreis wat Erns op ’n manier na Catharien gelei het. 

Hulle is nie voor ’n horde gaste getroud by ’n trouvenue of wynplaas nie, maar in die vreedsame meditasiesaal van The Dharma Centre op Robertson. Die Zen-ghoeroe Heila Downy, medestigter van die sentrum, het die seremonie voltrek. 

Die enigste gaste was hul vriende en getuies, Amanda de Klerk en Roger Chennells.

“Wat vir ons so wonderlik was, is dat niemand van ons verwag het om dit te doen nie, en niemand het druk op ons geplaas nie. Ons wou trou, maar op ons terme.”

Erns en Catharien saam met Heila Downey van die Th
Erns en Catharien saam met Heila Downey van die The Dharma Centre op Robertson wat hulle in die huwelik bevestig het. Foto: Verskaf

En die troudag was toe presies reg. “Heila het die seremonie op ’n baie besonderse manier gelei,” sê Erns. “Sy het gepraat oor die hoekstene van gelukkige huwelike: liefde, vertroue en vergifnis. Sy het ook aangehaal uit Kahlil Gibran se boek, The Prophet waarin hy skryf oor die huwelik: Eat bread together, but not from the same loaf. Laat daar ruimte wees in julle saamwees. 

“Dis maklik om aan te haal, maar om dit te leef, is waar die staptog begin.” 

’n Week ná die troue is hulle Uitenhage toe om Erns se ouers, Winnie en André, te gaan vertel; en toe na Catharien se ma, Dirkie Reinecke, op Jeffreysbaai. 

“Dit was onmiddellike vreugde,” sê Catharien. 

“My ma het so ’n gilletjie gegee, en toe was sy sprakeloos vir seker 10 sekondes,” sê Erns. Al was die trounuus onverwags, het sy nie uitgesluit gevoel nie. “Sy het toe gelag en gesê nou hoef sy gelukkig nie ’n rok te koop nie. Daar was geen verwyte nie. Dit was vir my so kosbaar.” 

Erns en Catharien se honde, Suki en Mika, lê nou vreedsaam langs die bank in hul huis in Brooklyn, Kaapstad.

“Die honde is ’n geweldige groot ding in ons lewe,” sê Erns. Catharien, ’n kommunikasiekonsultant in die veld van aardverhitting, versorg hulle wanneer hy reis. Sy en die honde was al “gaste” op sy reisreeks.

Sedert daardie 2015-genesingsreis het Erns, voorheen ’n joernalis by die tydskrif Weg!, ’n bekende reisaanbieder geword. Dink maar aan die kykNET-programme Elders: Die Camino; Elders: Japan; en Pelgrimstog van Hoop. Hy het twee boeke wat by sy reise aansluit, Elders en Sushi en shosholoza geskryf, en was ook al saam met Schalk Bezuidenhout op die satiriese nuusprogram Die nare waarheid te sien.

Catharien glimlag ondeund toe een van die honde nader kruip vir aandag. “Toe ek Erns ontmoet het was hy meer van ’n katmens; ek het gewonder of ek seker is oor hom! Maar toe ons vir Suki kry, was dit so 24 uur voor Erns na ’n hondemens geswaai is.”

“Ek was uitgeboul,” erken Erns. “Nou is die katmens ’n hondemens en getroud met ’n Cat-harien!”

Daardie eerste Tinder-afspraak was in ’n restaurant in Kloofstraat in Kaapstad. Erns bieg verleë dat hy Catharien laat wag het. “Ek het darem opgemaak met ’n gedig.”

Afspraak nommer twee was by die Labia-teater in die middestad om die fliek The Revenant te kyk. 

“Die fliek het baie lank geraak, en ons het saam begin giggel oor Leonardo DiCaprio wat so lank met die beer baklei. Daardie aand het sy my vertel sy het die dag nie so hard gewerk nie, want sy het krieket op die televisie gekyk, maar wat sy eintlik wil doen is om in 2019 Japan toe gaan vir die Wêreldbekerrugby. Toe weet ek, she’s a keeper.”

Hy grinnik. “Ons het wraggies saam Japan toe gegaan.” 

Nadat Erns die land besoek het om die TV-reeks te maak, het die twee van hulle die jaar daarna saam die Wêreldbeker-rugbytoernooi gaan bywoon.

Pasgetroud! Oomblikke na die seremonie.
Pasgetroud! Oomblikke na Erns en Catharien se huwelikseremonie. Foto: Verskaf

Wanneer Erns nie aan die stap of skryf is nie en Catharien haar werk eenkant toe skuif, geniet hulle dit om tuis saam kos te maak en rustig rond te ploeter in die huis. “Ons sit op daardie bank en kyk saam TV,” sê Catharien. “Ons het Desember net hier gebly, en al wat ons gedoen het, was om in die oggende met die honde te gaan stap, TV te kyk, en lekker te eet.” 

Hul troubesluit was ook gemaklik en spontaan. 

“Ons het met die honde in Nuweland se woud gaan stap, en ek dink ons het vir mekaar gevra: ‘Sal ons dit doen?’ En ons het besluit, ja. Anders as ’n vurk in die pad was dit eerder ’n volgende deurgang, en gelukkig was ons al twee op dieselfde tyd gereed,” sê Erns. 

Aanvanklik wou hulle by binnelandse sake trou, maar toe kom die inperking en troues word opgeskort. Toe besluit hulle op die Dharma-sentrum waar Erns al meditasiesessies bygewoon het.

Hulle het begin deur saam ’n kers aan te steek, wat hulle aan die einde weer uitgeblaas het. Die idee is om die kers jaarliks op hul huweliksdag aan te steek, en te besin oor die jaar wat verby is.

Hulle het ook hardop dinge met mekaar gedeel. “Heila noem dit verbal gifts,” sê Erns. “Ek dink die belangrikste ding wat ek vir haar gesê het is dat ek belowe om teenwoordig te wees wanneer ek saam met haar is, om aandag te gee en te luister. Mens kan so maklik in dieselfde vertrek wees maar mekaar mis.” 

Catharien: “Ek het nie soseer vir hom dinge belowe nie, ek het eerder oor hom gepraat, teruggekyk, en besef hy is so ’n sagte, egte, goeie mens. Ek het ’n gedig van Frida Kahlo gelees: You deserve a lover who takes away the lies and brings you hope, coffee, and poetry. Want dis wat ek gekry het.”

Erns: “Ek huil nie maklik nie. Maar kyk, sy het dit amper reggekry.” 

Wanneer Erns op sy staptogte gaan, bly Catharien dolgelukkig tuis. “Hy is ’n ekstrovert, ek is ’n introvert, so ek herlaai my batterye ten volle en gaan aan met my werk.”

Erns begin juis binnekort verfilm aan Elders: Namibië, en hulle hoop Catharien sal ’n roete soos die Visriviercanyon saam met hom stap. 

Erns en Catharien stap graag en het al verskeie wa
Erns en Catharien stap graag en het al verskeie wandelroets saam gedoen. Foto: Verskaf

Om te stap en boonop ’n loopbaan daarvan te maak is vir hom ’n groot voorreg, sê Erns. Stap en oefen is ook iets wat hulle graag saam doen, en hulle hoop om in Oktober saam die Kaapstadmarathon te hardloop.

“Ons is ingeskryf, en die bykomende motivering is dat prof. Lizette Rabe ons gevra om dit te doen ten bate van die Ithemba-stigting, wat hoop kweek en bewustheid oor depressie bevorder. 

“My terapeut is ’n baie betekenisvolle deel van my lewe; daarmee saam is oefening vir my suiwer terapie. Die staptogte sluit daarby aan.”

En dit is dan, wanneer jy jou oopstel en kyk waarheen die pad jou lei, dat die happy accidents van die lewe ook volg.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.