DANKIETOG. Dít is die naam van Emsie Schoeman se huis op Wildernis naby George in die Wes-Kaap. 

Maar dit is ook die verligting wat jy ervaar wanneer jy tee drink by Suid-Afrika se etiketghoeroe en opnuut besef sy is glad nie so puntenerig en voorskriftelik as wat ’n mens dalk sou dink nie. 

“Kom in, kom in!” roep sy verwelkomend van die balkon af. 

Toe ons die groot houtvoordeur oopstoot en met die lang trap begin opstap, staan die klein, fyn geboude vrou bo met ’n groot glimlag. 

Sy het ’n netjiese swart pakkie aan en ’n silwerhangertjie om haar nek. Haar blou oë lag. 

Toe ons die groot houtvoordeur oopstoot en met die lang trap begin opstap, staan die klein, fyn geboude vrou bo met ’n groot glimlag.

Op 84 verklap Emsie se blonde hare geen sweem grys nie, en sy beaam jou vermoede – die ouderdom doen ons etiketkoningin nét goed. 

“Wildernis is my paradys,” sê sy terwyl ons uitstap op haar balkon en sy ’n bos geel rose in ’n vaas op die tafel neersit. 

“Dit is hiér waar ek op my gelukkigste is.” 

“Hiér” is weg van die warboel van Johannesburg waar Emsie die afgelope vier jaar saam met haar prokureurman, Nelson Bornman (84), in ’n moderne aftreeoord in Olivedale woon. 

Sy kom so gereeld moontlik terug na haar huis hier oorkant ’n lagune, net ’n klipgooi van die see. 

emsie schoeman,aktrise,wildernis
By haar huis op Wildernis, Dankietog, waar haar ouers eens gewoon en afgetree het. Emsie se ma, Maria, het die huis so gedoop. Foto: Corrie Hansen

Dié keer het sy kom reünie hou saam met haar Wildernis-vriende wat sy leer ken het in die 13 jaar wat sy hier gewoon het.

“Al daardie jare was ons ’n wonderlike groep van 12 vriende wat elke Sondag Bybelstudie gehou het, gelag, geëet en heerlik gekuier het. 

Soms sou ons in die week by iemand se huis bymekaarkom en fliek kyk,” vertel sy.

“Almal is tussen 60 en 85. Ek is die oudste van die groep.” En sy lag.

“Nou word almal oud en hulle begin wegtrek na versorgingsoorde. Daarom het ons besluit om ’n reünie te hou.” 

Op 84 verklap Emsie se blonde hare geen sweem grys nie, en sy beaam jou vermoede – die ouderdom doen ons etiketkoningin nét goed.

Dit is dag vyf van haar 12 dae in die Wildernis en sy is op haar gelukkigste. 

“Johannesburg is ’n ander wêreld,” sê sy. Haar lyftaal gee ’n onhoorbare sug. 

“Daar is te veel van alles. Te veel mense. Te veel geboue. En die mense is net te besig.”

Mense het al gereeld gevra wanneer skryf die befaamde Emsie Schoeman ’n boek oor haar lewe. 

Hulle wil lees hoe sy eers ’n model was, toe ’n aktrise in die 1960’s in flieks soos Hans en die Rooinek en As Ons Twee Eers Getroud Is, en later as radio-omroeper en joernalis groot sukses behaal het. 

En ook oor hoe sy ontluik het in een van Pretoria se onthaalkoninginne en volksbesit geword het met haar praatjies, boeke en rubrieke oor etiket. 

emsie schoeman,aktrise,wildernis
“Ek was twee jaar oud op hierdie foto. Dit is op De Aar geneem, waar my pa ’n skoolinspekteur was.” Foto: Corrie Hansen

Nou, nadat nege boeke oor onder meer etiket reeds die lig gesien het, sit Emsie eindelik voor haar rekenaar en skryf aan ’n biografie wat byna klaar is. 

“Prof. Elize Botha, onthou jy haar?” vra sy en sy gee ’n vinnige oorsig van die loopbaan van die voormalige kanselier van die Universiteit Stellenbosch. 

“Sy het altyd gesê skryf is die moeilikste en eensaamste proses. En ek stem heeltemal saam.”

Die skryf oor haar goeie herinnerings, maar ook oor die kere toe sy tot die uiterste beproef is, hou haar in Johannesburg besig. 

Oor die groot hartseer wat sy ’n paar jaar gelede moes deurmaak, wil sy glad nie praat nie. Sy wil trouens hê dit moet glad nie genoem word nie.

Nou, nadat nege boeke oor onder meer etiket reeds die lig gesien het, sit Emsie eindelik voor haar rekenaar en skryf aan ’n biografie wat byna klaar is

Skielik onthou sy van die quiche in die oond.

“Wag, julle moet seker doodhonger wees,” sê sy en loop kombuis toe. Sy bring ’n skinkbord met eetgoed, ’n wit-en-blou Delft-teepot en ’n teestel met tekeninge van Hollandse vroutjies kompleet met klompe te voorskyn. Dit is haar see-tee­stelletjie, sê sy. 

Daarby kom lapservette, want papierservette is taboe in ’n fatsoenlike wêreld met etiket. 

Op die koffietafel lê die Groot Verseboek en ’n boek oor die Italiaanse stad Florence. 

Op die TV-skerm sê twee tennisspelers mekaar die stryd aan in die Kanadese Ope. Dis ’n sport wat sy en haar man vreeslik geniet. 

Toe sy in 2015 ná hul troue na Nelson in Johannesburg getrek het, het sy ’n heel ander stad aangetref as die Goudstad van haar jeugherinnerings. 

“Ek was 10 jaar oud toe ek die eerste keer in Johannesburg was. My ma was siek en ek het ’n jaar lank daar by my suster en haar man gebly,” vertel Emsie, ’n laatlam ná drie ouer susters en een broer. 

“Ek het elke week vioolles in Hillbrow gehad en moes twee trems neem om by my klas uit te kom. Dit was baie veilig en ek het Johannesburg platgestap met my viooltjie.”

emsie schoeman,aktrise,skrywer
Foto: Corrie Hansen

Dié soort herinnerings laat haar gesig ophelder, en sy vertel met oorgawe van die dae toe haar oupa die ou vierkantige familiehuis met die spitsdak hier op Wildernis gebou en die hele familie gereeld vir ses weke in die somervakansie kom kuier het. 

Wildernis was toe ’n gehuggie met net ’n hand vol huise en ’n enkele winkel.

“Ons het drie maal per dag gaan swem en kon elke dag skulpe optel. Toe was dit regtig ’n paradys.”

Dan dink sy ’n rukkie na en sê: “Dit is steeds ’n paradys.” 

Dit het haar drie van die vier jaar geneem om aan te pas in Johannesburg, waar sy mettertyd ’n paar wonderlike vriende gemaak het. 

“Nelson gaan elke oggend vroeg werk toe en kom laataand terug,” vertel sy oor haar man wat steeds as prokureur praktiseer. 

“Ek probeer soms laat slaap en dan die huis aan die kant hou saam met ons huishulp. Daar is altyd vars blomme in die huis, en ek sal later kos begin maak vir Nelson.”

“Ek lees graag. Ons kamer is vol boeke,” sê sy, en haar hande beduie. 

“Party dae ry ek met die lang, ou Mercedes na die apteek of die winkels. Ek moet self ry, anders gaan ek mos ’n gevangene wees in my eie huis, of hoe?”

Dit het haar drie van die vier jaar geneem om aan te pas in Johannesburg, waar sy mettertyd ’n paar wonderlike vriende gemaak het.

Maar Johannesburg het sy eie reëls.

“Jy dra nie goue juweliersware nie. As jy moet ry, spring jy in en sluit die deure. Jy wys nie vuis vir die taxi’s nie; jy gee toe vir hulle en glimlag – en jy vermy die donker.” 

’n Vriend, ’n oudpredikant, het vir haar gesê ’n mens moet die mooi in elke dag probeer raaksien. 

Nou sien Emsie elke dag die groen bome in die Goudstad raak en die mooiste wolke in die lug wat gereeld donderweer en die reuk van reën bring. 

Haar oudste suster, Lisa Roos, is twee jaar gelede op 98 oorlede. 

Met ’n laaste besoek aan haar in die Paarl het Emsie nog gesê: “Lisatjie, jy moet nog twee jaar hou sodat ons jou 100ste verjaardag kan vier. Maar as jy nie kan nie en jy voor my daar uitkom, moet jy vir my ’n plek in die hemel hou, want ek is bang hulle laat my nie daar toe nie.”

Dan lag Emsie weer uit haar maag. Ja, sy word oud, sê sy, maar haar gesondheid is goed. 

Omdat die meeste mense in hul aftreeoord doodgaan ná ’n val, is sy tog bang daarvoor.

“Ek kan lankal nie meer kyk na alles om my nie; ek moet gedurig kyk waar ek loop.”

Toe ons groet, staan sy voor haar huis, hier in haar stukkie paradys, en in die motor se truspieëltjie waai en waai sy tot sy ’n klein figuurtjie word en mettertyd verdwyn. 

Emsie se immergroen wenke

Die wêreld het baie verander; soms lyk dit of etiket by die deur uit is. 

Maar Emsie Schoeman glo onwrikbaar aan ’n paar etiketreëls wat altyd sal bly staan: 

  • Voorkoms is baie belangrik. Jy moet altyd deur ’n ring getrek kan word. Wanneer jy klere koop, kyk wat by jou lyf pas.
  • Moenie jou mond vol kos stop sodat jou wange soos doedelsakke lyk wanneer jy eet nie. En sit jou mes en vurk tussen happies neer. 
  • Dink altyd aan die mens langs jou wanneer jy eet. Moenie eerste na iets op die tafel gryp nie; bied dit altyd eers vir die ander een aan. 
Kom neem deel aan die gesprek
Kom neem deel aan die gesprek. Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en WhatsApp, en teken in op ons nuusbriewe.