Maar dis veilig om te sê Eva Longoria (43) lei nou haar beste lewe nog: Sy het ’n maat wat dol is oor haar, ’n skattige baba en ’n florerende loopbaan. Net twee maande nadat sy aan klein Santiago die lewe geskenk het, was die 43-jarige ster terug by die werk.

Sy het dit gevier deur ’n foto op Instagram te deel van haar in ’n produksiekantoor, met haar seun wat in ’n babastoel op haar lessenaar sit. “Eerste dag terug by die werk en kyk wie is my assistentregisseur!” het sy geskerts.

“Het ’n lessenaar en alles!”  Baie van Eva se geluk deesdae is te danke aan José “Pepe” Bastón (50), die Mexikaanse sakeman wat haar derde man is. Voor sy hom ontmoet het, het sy alle hoop op blywende geluk laat vaar.

Eva en haar nuweling, Santiago. Foto: Instagram

Maar Pepe, president van Televisa, die grootste mediamaatskappy in Latyns-Amerika, het alles verander. “Hy maak dit alles die moeite werd,” sê sy. Sy het beslis haar deel van seerkry beleef. Haar eerste huwelik, met die General Hospital-akteur Tyler Christopher, het in 2004 ná net twee jaar geëindig, terwyl haar tweede – met die basketbalster Tony Parker – op ’n ramp uitgeloop het nadat sy gehoor het hy het ’n affair.

Eva en Pepe, wat mekaar in 2013 ontmoet het, het twee jaar uitgegaan voor hulle in Desember 2015 verloof geraak het.

Hulle is die volgende jaar in Mexiko getroud. Pepe het drie kinders uit sy huwelik met die Mexikaanse aktrise Natalia Esperón (43) en is ’n “wonderlike pa” vir Natalia (22) en die tweeling, Mariana en Jose (14), sê Eva.

Eva en haar kleinding op stel. Foto: Instagram

“Hy het nou tyd om ’n pasgeborene te geniet. Dis regtig mooi om hul band te sien. Dis baie spesiaal.” Maar ma Eva hou ook ’n ogie oor haar florerende loopbaan.

Sy is deesdae meer agter as voor die kamera terwyl sy aan rolprente en televisieprogramme werk vir haar vervaardigingsmaatskappy, Unbelievable Productions. 

Waar is die ander Housewives nou?

So supportive ??

A post shared by DH?? (@desperatehousewivessforever) on

TERI HATCHER (53)

Die aktrise, Teri Hatcher Foto: Gallo Images/Getty Images

Die mooi brunet, wat Susan Delfino gespeel het, het meestal televisiewerk bly doen.

Sy was onlangs in The Odd Couple saam met die Friends-ster Matthew Perry in die hoofrolle, en ook in Supergirl.

Sy het ’n dogter, Emerson (20), maar is ná twee huwelike vermoedelik ’n enkelloper.

MARCIA CROSS (56)

Die aktrise, Marcia Cross. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die aktrise wat die gespanne Bree gespeel het, het hoofrolle in reekse soos Quantico en Youth & Consequence vertolk.

Sy het onlangs ook saam met Brendan Fraser aan die rolprent Behind the Curtain of Night gewerk. Sy en haar man, die aandelemakelaar Tom Mahoney, het tweelingdogters, Eden en Savannah (11).

FELICITY HUFFMAN (55)

Die aktrise, Felicity Huffman. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy het in 2006 ’n Emmy gewen vir haar spel as die gekwelde Lynette Scavo en is verlede jaar vir ’n Golden Globe en ’n Emmy benoem vir haar rol as Jeanette Hesby in American Crime.

Sy is al 21 jaar met die akteur William H. Macy getroud en het twee dogters, Sofia (18) en Georgia (16).

Bronne: Eonline, People.com, ETonline, IMDB.com, UShola.com, Independent.ie