In sy 17 jaar as ’n Formule 1-renjaer het Jenson Button ’n ding of twee geleer oor hoe om met ’n motor te jaag en dit om van die gevaarlikste bane ter wêreld te bestuur.

Die Britse kampioen, wat in 2017 uit F1 uitgetree het maar steeds in die Japannese Super GT-reeks jaag, deel van die renwêreld se geheime in dié uittreksel uit sy nuwe boek, How to Be an F1 Driver: My Guide To Life in the Fast Lane.

Renjaers praat nie oor ongelukke nie. Ons praat van “kwessies tydens die ren”.

Byvoorbeeld as jy ’n lekplek agter kry, moet jy stop om die agteras te sluit of die gevaar loop dat jy skade opdoen omdat die een wiel dan baie vinniger as die ander een draai. Sulke dinge. Maar ons praat nooit oor botsings nie.

Toe ek nog meegeding het, het ons wel geoefen om in ’n noodgeval vinnig uit ’n motor te kan spring. Dit het gespruit uit ’n uitspraak van die Internasionale Automobielfederasie (IAF) waarvolgens jy net aan ’n ren mag deelneem as jy binne vyf sekondes uit die motor kan kom en met albei voete op die grond land. Dit het in ’n kompetisie ontaard.

Die IAF-beampte het voor die ren na jou toe gekom nadat hy reeds by vyf spanne was, en dan vra jy: “Wat’s die tyd om te klop?” Hy sou sê: “Wel, (Sebastian) Vettel het dit in drie punt sewe gedoen.”

Dan dink jy: “Oukei, kom ons probeer dit verbeter.” En jy doen dit in drie punt vyf.

Jou knieë is seer en jy het jou rug in die proses seergemaak, maar die wete dat jy gewen het, maak dit die moeite werd. As jou motor aan die brand sou slaan, moet jy binne vyf sekondes uitspring.

Maar as jy ’n ongeluk maak, en dis teen hoë spoed moet jy op die teken wag dat dit veilig is om uit te klim. Elke bestuurder se span kan met behulp van sensors aan die motor aflei watter soort gravitasiekrag die jaer in die ongeluk ervaar het.

En as jy 35G – die perk vir moontlike verwringing van die nek – bereik het, moet jy eers wag. Dan sal paramedici jou waarskynlik eers moet ondersoek en IAF-beamptes na jou omsien. 

Hulle sal jou uit die motor uithaal terwyl jy steeds in jou sitplek vasgegordel is om te keer dat jou nek beweeg. Hulle kan dit binne net vier minute doen.

Hulle haal jou in jou sitplek uit nadat hulle eers met jou gepraat het om seker te maak jy antwoord hulle op die korrekte manier.

’n Ongeluk is natuurlik ’n teleurstelling, maar ek was nog nooit vies vir die span oor iets wat gebreek het nie, selfs nie tydens oefenlopies wanneer die vering onklaar geraak en ek die versperrings baie hard getref het nie.

Dis ’n aaklige gevoel. Die lug word uit jou longe gesuig; jy het niks meer in jou nie. Dis daardie gevoel dat jou wind uitgeslaan is.

Nie net dit nie; as jy ’n motorbandversperring teen ’n hoë spoed tref, is jy nooit seker of jy aan die ander kant gaan uitkom nie.

Dit maak nie saak hoe hard jy dit tref nie, jy verwag altyd die ergste. Die werklik vreesaanjaende ding is wanneer die motor vinnig tot stilstand ruk wanneer dit byvoorbeeld iets tref, want dan bereik jy ’n hoë G-krag en jou brein beweeg in jou skedel, en jy doen brein- of nekskade op of sterf.

Wanneer jy ’n renmotor sien rol, lyk dit regtig sleg, maar van al die “slegte” ongelukke is dit een van die veiligstes, want jy het beskerming vir as jy sou rol; jy dra jou helm, en die rol-aksie haal die angel uit die stop.

Die eerste ren wat Brittny (Ward, sy verloofde) bygewoon het, was die openingsren van 2016 in Melbourne, Australië, toe Fernando Alonso ’n nare ongeluk gehad het. Hy het deur die lug getrek en die motor teen ’n muur vasgerol. Maar hy het uitgeklim.

Hy was deur die wind, maar oukei, want hy het niks hard getref nie. Want al het hy teen die muur tot stilstand gekom, was dit nie asof hy dit “getref” het nie.

Jy kyk na die ongeluk en dit lyk sleg. Bloot die toestand van sy motor daarna. Dis afgeskryf. Jy sal dalk dink dit lyk nog erger as toe ek in 2003 ’n muur in Monaco getref het. Maar van die twee het myne die potensiaal gehad om veel erger te wees omdat ek so skielik tot stilstand geruk is.

En ek wed al my geld dat hy op YouTube na die ongeluk gaan kyk het, want dis ’n feit van die lewe dat jy nie anders kan as om op so ’n ongeluk trots te wees nie. Jy kyk daarna en dink: Ek het lewend daaruit gekom.

Die vrees

Jenson Button
In sy nuwe boek vertel Jenson renjaers praat nooit oor on­gelukke nie, maar eerder oor “kwessies in die ren”. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ja. Dit gebeur. Dit gebeur regtig.

Ek onthou my tweedelaaste ren in 2016. Dit was in Brasilië, die voorlaaste een van die seisoen – die een voor Aboe Dhabi, waar ek uitgetree het.

Dit was nat toestande – wat my perfek behoort te gepas het – en een van daardie renne waarin ek dalk ’n bietjie beter kon vaar as wat verwag is. Ek het beslis gehoop om my destydse spanmaat, Alonso, te klop. By die eerste draai het dit my getref.

Ek was op ’n glybaan, letterlik en figuurlik. Die baan was gevaarlik weens die reën en ek het gegly. Dit was die ren waarin Max Verstappen werklik sy slag in nat toestande gewys het.

Wel, terwyl hy doer voor daarmee besig was, het die uwe, die gewese natrenspesialis, heen en weer gegly en geensins in beheer van sy motor gevoel nie.

Ek het wanhopig probeer, maar kon dit net nie regkry nie. Vir die eerste keer ooit was ek bang. Ek het destyds niemand vertel nie.

Ek het sedertdien skaars ’n siel daarvan vertel. Maar ek het daardie dag my waagmoed verloor. Dit was omdat ek geweet het ek gaan uittree; daarom was ’n besering ál waaraan ek kon dink.

Die baan was sopnat – ’n moeilike baan wat my deur die jare baie goed behandel het, maar steeds ’n gevaarlike een. Dit is nie iets waaraan jy normaalweg dink nie.

Jy dink gewoonlik glad nie in daardie rigting nie. Jy laat niks toe om jou aandag af te lei terwyl jy jaag nie. Dis nie ’n geval van dat jy bewustelik jou gedagtes verban nie.

Dit kom bloot nie by jou op nie. Jy is ’n bestuurmasjien en dis al. Maar daar dink ek toe: Ek het twee renne oor. Ek wil nie seerkry nie. Nie terwyl ek al soveel bereik en so ver gevorder het nie.

Ek het myself bang gemaak; dit was die probleem. My kop was nie op die regte plek nie. As jy my vra wat my skrikwekkendste oomblik in ’n renmotor was, sal ek sê dit was daardie een.

Feit: Helms red lewens

Jenson Button
In 2003 was die renjaer Jen­son Button in ’n kwaai ongeluk in die Monaco-Grand Prix. Foto: Gallo Images/AFP

’n Helm het beslis al my lewe gered. Nie noodwendig in ’n botsing nie – maar wie kan sê in watter mate dit my in 2003 met my ongeluk in Monaco gered het – eerder die kere dat iets my getref het.

Stukkies metaal het al my helm getref, en eenkeer vroeg in my loopbaan was ek besig met ’n toets vir Williams in Suid-Afrika en het op ’n reguit stuk pad gejaag toe ’n voël my tref.

Dit het nie ’n duik in die helm gemaak nie, maar wel die gesigskerm geskraap en my nek seergemaak. Ek was agterna ’n bietjie seer en stukkies voël het teen my skerm afgedrup, wat nogal ontstellend was.

En natuurlik het ek aaklig gevoel oor die arme voël. Sy dood was die definisie van op die verkeerde tyd op die verkeerde plek wees. Maar ek het geleef, en dis die belangrikste.

Die helms wat ons gebruik, word van koolstofvesel gemaak; dus is dit nie net lig nie – dit weeg sowat 2 kg – dis ook veilig.

As jy ’n helm optel, sal jy verbaas wees oor hoe lig dit is, maar ook hoe sterk. Toe ek aan F1 deelgeneem het, het ek 18 helms per jaar gebruik – een helm per ren. En elkeen is agterna in ’n sak gesit en weggebêre.

Ek was nooit bygelowig oor my helm nie. Ek wil eerder ses helms hê wat elk ’n ren gewen het as een wat ses gewen het, maar dit is dalk omdat ek hulle graag versamel – iets wat ek dink algemeen onder renjaers is.

Ek sorg dat ek al my wenhelms hou sodat ek al 15 my oorwinnings het. Ander het ek vir liefdadigheid geskenk, en ek het al ’n hele paar aan vriende en familie gegee.

Jaers ruil ook heelwat helms onder mekaar uit. Maar jy moet kieskeurig wees. Ek wil net met sekere jaers helms uitruil, en hulle sal mense wees saam met wie ek die een of ander geskiedenis het, met wie ek weg van die baan pelle was of wat lekker saam met my gejaag het.

Ek word dikwels gevra of ek met my helm begrawe sal word. Die antwoord is nee, want ek sal waarskynlik veras word. Maar dis beslis waar dat jy by die begrafnis van ’n renjaer gewoonlik hul helm op ’n staander sal sien. Jy kan dalk wonder of dit swak smaak is, veral as die jaer dood is terwyl hy resies gejaag het.

Die helm het hulle dan immers nie gered nie. Maar ek dink nie dit maak regtig saak nie. Dit gaan meer oor die simboliek. Die feit dat hulle dood is terwyl hulle iets gedoen het waarvoor hulle lief was, en dat om ’n renjaer te wees ’n groot deel van hul identiteit uitgemaak het.

Die helm wat ek saam met my na die hiernamaals sou wou neem, is my 2009- Monaco-wenhelm. Dis al helm wat ek in ’n perspexkis bêre en een van twee helms wat vir my uiters kosbaar is. Dis omdat dit so ’n uitsonderlike ren was.

Ek het daarmee as voorloper in die kampioenskapsreeks begin, maar tydens die oefensessie het ek nie so goed gevaar as wat ek gehoop het nie, en in kwalifisering was ek stadiger as Rubens Barrichello en Sebastian Vettel.

Tot ek laat in die sessie ’n toprondte ingekry het – die rondte wat ek steeds waarskynlik sal sê my gunsteling ooit is, afhangend van wanneer jy my vra en hoe ek in daardie stadium voel – wat vir my ’n voorste wegspringplek verseker het.

Daarna het ek die ren gewen, maar op die verkeerde plek parkeer.

Ek moes dus na die podium toe hardloop. En toe hou ek ná die ren partytjie saam met prins Albert van Monaco.

Hoe dit voel om te wen

Jenson Button
Hy vier al sy oorwinnings met sy arms in die lug en vinger omhoog. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy klim baie vinnig uit die motor wanneer jy gewen het.

Jou stuurwiel kom af, die veiligheidsgordels knip oop, die kopstut trek uit, jy spring uit en jy is bo-op die motor en jy skree: “Hel, ja!” As jaer moet jy ’n kenmerkende viering hê. Myne is arms omhoog en ’n no. 1- vinger.

Ek was binne vyf sekondes uit die motor met my arms op en my vinger in die lug.

Die kuns van sjampanje spuit

Jenson Button
Die renjaer vertel dis ’n kuns om die sjampanje te laat spuit – dis glo als in die duime. Foto: Gallo Images/Getty Images

Renbeamptes by Formule 1 trek vir jou die kurk uit.

Dan moet jy jou duim oor die opening druk, en dis so groot – oorgroot, vier bottels in een – dat dit wonderlik is om te spuit.

Jy moet net sorg dat: a) jy die opening met jou duim toehou terwyl jy die bottel skud en b) ’n klein bietjie sproei vrylaat terwyl jy dit teen ’n hoek hou.

Vanselfsprekend, sou jy dink, maar op die ingewing van die oomblik is dit maklik om verkeerd te doen. Ek het al gesien hoe party jaers dit skud sonder hul duim oor die opening en “Whaaa!” skree terwyl dit in ’n skuimerige waterval uit die bottel stort, salig onbewus daarvan dat hulle pas die skouspel bederf het.

So nee, jy moet jou duimplasing onthou, jy moet aanhou skud terwyl jy spuit, en jy moet sorg dat jy soveel moontlik mense naby jou deurweek.

Die sjampanje wat ons by Midde-Oosterse renne kry, is eintlik rooswater. Dit borrel nie behoorlik nie en smaak aaklig. Maar jy moet steeds saamspeel; jy moet dit drink, al smaak dit aaklig.

Kyk vir Kimi Räikkönen, wat van ’n drankie hou, wanneer hy by ’n Midde-Oosterse ren op die podium is. Jy kan aan sy gesig sien dis asof hy “jig” sê.

Ek geniet ’n sluk op die podium, al is dit net rooswater. Ek dink dis ’n belangrike deel van die hele vertoning. En as dit sjampanje is, dan is jy so ontwater ná die ren dat twee slukke genoeg is om jou hoenderkop te maak.

LIGGAAMSFUNKSIES . . .

Ek het nog nooit in die motor geürineer nie, want dis walglik. Maar ek weet van ander jaers wat dit al gedoen het.

Ek is seker dit was onvermydelik, maar ek wonder hoe dit kan gebeur, want as jy jou hidrasie reg bestuur, behoort jy presies die regte hoeveelheid te gedrink het. Daarby is jy veronderstel om net daaraan te teug.

En, soos jy weet, as jy aan ’n drankie teug, urineer jy nie soveel nie; dis wanneer jy jou drankie afsluk dat dit regdeur loop. Maar ek sal erken dat ek soms ’n wind laat, want dit bly talm in die kajuit. Dan roep ek my werktuigkundige nader en hy druk sy kop in die kajuit om te hoor wat ek wil sê.

In Formule 1 noem ons dit gesofistikeerde humor.

NOG BEROEPSGEVARE

Karsiekte

Toe ek met F1 begin het, het ek baie naar geword – dikwels wanneer ek by toetse opgedaag het. Eindelik het die fisioterapeut vir my gesê: “Jy kan net ryswater drink.”

“Wat?” het ek gevra.

Dis waar. Wanneer hulle rys kook, haal hulle die rys uit en gee vir jou die water om te drink. Wat jy dan kry, is ’n beker baie sterk styselwater. En dit werk.

Dit help om jou gehidreer te hou en jy hou op om so naar te voel.

Pyne en skete

F1-jaers het gewoonlik baie sterk nekspiere en kry ook meer dikwels nekpyn, bloot omdat daar soveel druk op jou nek is. Ná ’n rit sal jy uit die motor klim en dit net voel trek. Dit raak net styf. Jy moet bedag wees daarop.

Wat nog?

Ek het al krampe in my been gekry van die rempedaal trap.

Plooie

Druk jou hande teen jou gesig en trek die vel ondertoe. Dis hoe jou vel lyk wanneer jy ’n helm dra. Voeg daarby die probleem van droë vel waarmee baie jaers sukkel – omdat ons so baie rondreis – en dis die ene plooie hierbinne. 

Jenson Button
’n Geredigeerde uittreksel uit How To Be An F1 Driver – My Guide To Life In the Fast Lane deur Jenson Button, uitgegee deur Blink.

’n Geredigeerde uittreksel uit How To Be An F1 Driver – My Guide To Life In the Fast Lane deur  Jenson Button, uitgegee deur Blink. Die aanbevole prys is R325. Die prys was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkenningsgewing.