Imari het die nuus op Instagram met haar volgelinge gedeel. Hul eersteling, Amélie, is in 2017 gebore.

“Nog net een haarafspraak voor ons klein dogtertjie opdaag. Dit was so ’n verligting om my hare te laat verfris ná 100+ dae,” het sy by ’n foto geskryf waar sy haar babamagie vashou. 

Imari het ook vroeër hierdie week gekoer oor haar man van die afgelope sewe jaar op sy 36ste verjaardag. 

“Ek onthou nog die eerste keer toe ek jou gesien het. Dit het my onkant betrap toe jy na my gekyk het in ’n oomblik van diep konsentrasie. Aangetrek en besig om in die rondte te stap, terwyl jy wag om volgende te kolf. Jy sit nooit stil nie.”

“Ek het dadelik geweet ek het nog nooit iemand soos jy ontmoet en ek sal ook nooit weer so iemand ontmoet nie. Dit het net ’n oomblik gevat om verlief te raak op jou. Hoe langer ek jou ken — hoe liewer word ek vir jou.

“My hele lewe se geluk is in jou toegedraai. Jy het die vermoë om almal rondom jou te laat groei, altyd besig om te lei.

"Stilte is nie deel van jou nie, jy is gebore om aan te beweeg. ’n Natuurkrag. ’n Enigma. Die liefde van my lewe.” Imari se inskrywing is vergesel deur ’n swart-wit-foto van hul troudag in 2013. 

Die stylvolle mamma het die nuus oor haar tweede swangerskap in April vanjaar gedeel.

View this post on Instagram

This cat is ready to come out of the bag. #babynr2

A post shared by Imari Du Plessis (@imagesbyimari) on

Uit die sosiale media blyk dit dat Faf mal is daaroor om ’n “dogtertjie-pappa” te wees. 

“Die middelpunt van my heelal,” het die voormalige kaptein van die Proteas in Junie op Instagram geskryf by ’n foto van hom en sy eersteling by ’n dammetjie. 

View this post on Instagram

The centre of my universe !!! ??????

A post shared by Faf du plessis (@fafdup) on

Imari het ook onlangs gekoer oor die liefde tussen Faf en Amélie. 

“God het geweet as daar ooit ’n man was wat ’n dogtertjie nodig gehad het, was dit hierdie man. Met alles wat ek hom wou laat verstaan, het hy net een kyk na jou gekyk en toe hoef ek nie ’n woord verder te sê nie. Dit lyk of die vrou wat vir hom kan sê wat om te doen eindelik gebore is,” het sy by ’n foto van pa en dogter op die krieketveld geskryf. 

Gedurende die inperking het Faf en Imari ook hul gewig agter geldinsamelingspogings vir minderbevoorregtes gegooi. 

Albei het in die sosiale media foto’s en video's gedeel van die hulp wat hulle tot dusver kon verleen aan verskeie gemeenskappe reg oor Kaapstad. 

Aan die begin van Julie het Imari op Instagram vertel dat haar grootste hoop vir Suid-Afrika is “dat almal kan behoort aan ’n gemeenskap wat omgee”. 

Intussen sal Faf hierdie naweek weer sy krieketkolf nader trek wanneer hy en ’n rits ander krieketsterre Saterdag aan die Solidarity Cup-driespanwedstryd in Centurion deelneem. Faf speel vir die Kingfishers-span. 

Die wedstryd is die eerste van sy soort. Drie spanne van agt spelers elk sal mekaar die stryd aansê in een wedstryd van 36 boulbeurte, in twee helftes verdeel. Die wedstryd begin om 10:45 en sal regstreeks op SuperSport 2 uitgesaai word.