Die langverwagte episode van die Amerikaanse TV-program Celebrity Family Feud met die Kardashian- teen die West-familie is eindelik uitgesaai en aanhangers stem saam dit was die wag werd.
Kanye West (41) het met sy vrou, Kim Kardashian (37), en verskeie van sy familielede saamgespan om Kim se familie aan te vat in die program waarin deelnemers die uitslag van peilings in die gehoor moet raai.
Die pa van drie het van oor tot oor geglimlag. Die program is in Februarie 2018 opgeneem, maande voor sy openbare ineenstorting wat in April die nuus oorheers het.
“Kanye was die beste Family Feud-glanspaneellid wat ons nog in die program gehad het,” het die aanbieder, Steve Harvey, onlangs aan Ellen DeGeneres vertel.
“Hy is dol oor die program. Sy mense het gesê vandat hulle vir Kanye werk, was dit die meeste wat hulle hom nog sien glimlag het.”
Sy aanhangers het dit geniet om Kanye, wat gewoonlik uiters nors lyk, so gelukkig te sien; daarom was dit ’n bietjie hartseer toe die Kardashians op die ou end die Wests klop.
Toemaar, daar’s altyd ’n volgende keer, Kanye.
Bronne: Toofab.com, Yahoo.com, VanityFair.com, DailyMail.co.uk
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET