Volgens Daily Mail was Jack (35) die afgelope naweek op die eiland vir ’n sterbelaaide liefdadigheidsbal terwyl sy vrou tuis in Windsor was saam met hul eersteling, August.

Jack is ’n handelsnaam-ambassadeur vir Casamigos Tequila, wat die Unicef Summer Gala geborg het. Voor die groot makietie die aand het hy die Vrydagmiddag op ’n seiljag deurgebring en die grotte rondom Capri se kus verken.

Volgens E! News is die vroue wat saam met Jack op die boot uitgehang het die Italiaanse model Erica Pelosini, die model en mode-ambassadeur Maria Buccellati en Rachel Zalis, die voormalige redakteur van die tydskrif Glamour. Rachel is nou die globale direkteur van Casamigos, die tequila-handelsnaam wat die akteur George Clooney en die supermodel Cindy Crawford se man, Rande Gerber, help stig het.

Van links: Rachel Zalis, Erica Pelosini Leeman en
Van links: Rachel Zalis, Erica Pelosini Leeman en Maria Buccellati. Foto's: Gallo Images/Getty Images

Maar dis nie Jack se werk wat hoofopskrifte haal nie; eerder foto's van hom en die vroue in skrapse swemklere wat op die boot en in die water baljaar.

Terwyl Erica ’n handdoek om haar gedraai het, het sy dit gereeld verwyder en bostukloos in volle aansig van Jack en die boot se kaptein staan en pryk. Maria (28) het ook glo haar arms om hom gewikkel terwyl hulle vir ’n Instagram-foto poseer het wat sy met haar 14 000 volgelinge gedeel het. 

Die tonge klap nou oor die foto's wat die wêreld ingestuur is en opslae maak.

Jack se vrou, prinses Eugenie (31), het glo nie by hom aangesluit nie omdat dit veronderstel was om ’n werkverpligting te wees, onthul ’n bron. 

En wat dink Eugenie se ouers, prinses Andrew en Sarah Ferguson, van die hele spulletjie? Volgens sy skoonma, Fergie (61), is dinge nie soos dit lyk nie. Die hertogin van York het haar skoonseun verdedig te midde van die fotoskandaal. 

Terwyl sy in die Britse TV-kanaal BBC One se program The One Show verskyn het om haar nuwe boek, Her Heart for a Compass, te bemark, het sy beklemtoon dat hy net sy werk as ambassadeur vir Casamigos gedoen het. "Jack, wat op die voorblad was, is ’n man van integriteit," het Fergie vertel. "Hy is een van my gunstelingmense. Ek noem hom eintlik James Bond."

"Hy is ’n superheld in my boek, en hy is ’n wonderlike pa, ’n fantastiese man en hy is nooit op die voorgrond nie. Hy hou daarvan om in die agtergrond te wees. So hierdie storie is opgemaak en heeltemal vals," meen Fergie, wat ook al ’n hele paar skandale in haar leeftyd trotseer het.

Prinses Eugenie, Jack Brooksbank en Sarah Ferguson
Jack saam met sy vrou, prinses Eugenie, en sy skoonma, Sarah Ferguson, by die 50ste herdenking van die Beatles se SGT Pepper album in Londen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Fergie het ook haar jongste dogter, Eugenie, geprys vir haar uitstekende ouerskapvaardighede. "Ek is so trots op my dogter. Sy is ’n wonderlike ma," vertel Andrew se eksvrou.

Jack en Eugenie is al sedert 2011 ’n paartjie. Hulle vier in Oktober hul derde huweliksherdenking.

Eugenie se ousus, prinses Beatrice (32), en haar man, die eiendomsontwikkelaar Edoardo Mapelli Mozzi (38), het in Julie 2020 afgehaak. Beatrice se eersteling is ook op pad. "Sy het ook ’n stiefseun, Wolfie, en sy is baie goed met hom. Hy is vyf," vertel Fergie.

Bronne: Daily Mail, Daily Mail, Fox News, E Online 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.