Die swanger mamma, wat haar eersteling met haar man, José “Pepe” Bastón verwag, het oulike foto’s op Instagram gedeel van haar ooievaarstee met ’n pajama-tema wat Saterdag gehou is. 

Onder die beroemde gaste by die sterbelaaide geleentheid wat by Lombardi House in Hollywood gehou is, was Melanie Griffith, Sofia Bush, Elizabeth Banks, Roselyn Sanchez en ander bekendes, berig Us Weekly.

Eva (43), wat sowat agt maande swanger is en ’n seuntjie verwag, was geklee in ’n pragtige wit kantrok en het babaspeletjies met haar gaste gespeel. 

“Sy het die heeltyd gelag en aan haar boepie gevat,” het ’n bron aan die tydskrif People vertel. “Hulle het verskeie babaspeletjies gespeel en Eva was in die beste bui.” 

“Teen die einde van die partytjie het Pepe opgedaag en Eva het baie emosioneel geraak. Hy het al die gaste bedank dat hulle gekom het en gesê hulle kan nie wag om hul baba te ontmoet nie. Dit was ’n baie spesiale ooievaarstee.” 

Volgens E! Online is Eva se gaste met salon- en spabehandelings, wat harevleg en manikuurbehandelings ingesluit het, bederf.  

“Hulle het ook masseerstoele gehad en enigeen wat hulle wou opdollie, kon hul hare en grimering laat doen,” sê ’n bron. 

Die Desperate Housewives-aktrise het die partytjie verlaat met ’n koek in die vorm van ’n babadoek, badspeelgoed, boeke, karsitplekke, skattige klere en ’n stootwaentjie. 

Eva en José is in Mei 2016 in ’n asemrowende seremonie teen sonsondergang in Mexiko getroud, berig Mirror News.

Die Amerikaanse aktrise het pragtig gelyk in ’n lang wit rok wat haar hegte vriendin, Victoria Beckham, ontwerp het. 

Eva het teen die einde van verlede jaar haar swangerskap aangekondig.

Bronne: eonline.com, usmagazine.com, people.com, mirror.co.uk