“Ek kan nie wag om daardie gesiggie te sien wat ek al ’n miljoen keer op die sonarfoto’s bekyk het nie. En om daardie lyfie vas te hou wat so bollemakiesie in my maag slaan,” borrel Charlize.

“Ek wonder wat die uitdrukking op haar gesiggie sal wees as sy my hoor sing ná die maande se serenades vir haar in my maag.”

Charlize, wat nou 34 weke swanger is, het die nuutste foto’s van haar swangerskap heel eerste met Huisgenoot gedeel.

Stralend in wit. Sy en manlief Warren Linden verwag ’n dogtertjie. Foto: Renske de Klerk - RDK Photography.

Renske de Klerk van RDK Photography het die grasieuse foto’s, waarin Charlize ’n vloeiende pienk en wit rok dra, by die Hertford Country-hotel noordwes van Johannesburg geneem.

Al blink Charlize se oë en gloei haar vel, vertel sy dat “my ou lyfie nou so ’n bietjie swaar trek.”

“Ek ervaar pyn in my lae rug, nek en bene en raak vinnig moeg, maar andersins gaan dit goed met my swangerskap. Ek is gek oor my babamagie! Ek is gebore met spina bifida (’n aangebore afwyking waar die rugstring misvorm is).”

Charlize is gereed vir die bevalling in April. Foto: Renske de Klerk - RDK Photography.

Sy vertel in ernstige gevalle kan ’n mens nie loop nie.

“Vandag loop ek, oefen ek normaal, sing ek en is ek swanger; dis ’n wonderwerk!”

Sy vertel die eerste trimester van haar swangerskap was die moeilikste.

Charlize vertel die eerste trimester van haar swanger­skap was nie aldag maklik nie, maar ondanks uitdagings is elke dag vir haar deel van “ ’n mooi reis”. Foto: Renske de Klerk - RDK Photography.

“Maar met die steun van my wonderlike man en familie het ek daardeur gekom.”

Al is haar swangerskap nie aldag maklik nie, sê sy, is dié mooi ervaring “alles die moeite werd”.

Charlize vertel sy en Warren is baie opgewonde oor die koms van hul eersteling. Foto: Renske de Klerk - RDK Photography.

Sy vertel Warren wou van die begin af ’n dogtertjie hê; “so hy is in die sewende hemel”.

Die kleinding sal Aleiah-Rose heet. “Ek en Warren is nog baie senuweeagtig, maar ook vreeslik opgewonde!”