Sampie is op Donderdag 7 November dood ná hy vermoedelik ’n tweede hartaanval gekry het.

“Dit is terrible nuus,” het Francois aan Huisgenoot gesê. “Ek is nog besig om dit te verwerk. Maar ek moet sê, iets wat my bybly, is sy deernis. Hy was só ’n opregte, soliede man.”

Sampie en Irma se liefdesverhaal was die inspirasie vir die fliek Vir die voëls, wat in die 1970’s afspeel. Die fliek gaan oor die vurige Irma Humpel wat ’n hele rits voorwaardes aan die arme Sampie de Klerk gestel het voor sy ingestem het om met hom te trou. Die geduldige Sampie het egter nooit moed opgegee om die rooikop Irma se hart te wen nie. 

Hul storie het kykers diep geraak en Sampie se vermoë om die korrelkop Irma (vertolk deur Simoné Nortmann) se hart te verower het kykers met tye laat skaterlag. 

Irma het aan Huisgenoot bevestig Sampie het op 20 Oktober in die nag ’n hartaanval in die gesin se huis op Newcastle gehad. 

Binne 20 minute het ’n hartspesialis bevestig hy het ’n bloedklont in sy hart gehad, en hy moes na ’n hospitaal in Pietermaritzburg oorgeplaas word.

Ongelukkig was Sampie nie in daardie stadium stabiel genoeg vir die oorplasing nie. Hy is wel die daaropvolgende week te midde van groot risiko oorgeplaas.

Daar was egter komplikasies met verskeie van sy organe. 

Ondanks die dokters en kundiges tot hul beskikking in die kardiologie-eenheid, het Sampie se hart omstreeks 10:00 Donderdag gaan staan en kon hy nie weer bygebring word nie.

“Sampie was ’n groot gees. As hy by ’n vertrek ingestap het, het ’n mens geweet hy is daar, sonder dat hy ’n woord gesê het,” sê Francois.

“En wanneer hy met jou gepraat het, was hy 100% teenwoordig. Hy was in die oomblik, sy kop was nie by ander sake nie.”

Volgens Francois het hulle sowat ’n jaar gelede met mekaar gepraat. 

“Maar elke keer wat ek hom gesien het, het ek ’n beter helfte van myself gesien. Ek het baie by hom geleer.”

Francois sê hy sal altyd onthou hoe “ordentlik” Sampie was en hoe goed hy sy vrou hanteer het. 

“Hy was ’n wonderlike mens en ek is so dankbaar vir Irma wat hom so bygestaan het. My hart en gedagtes is by hul familie.”