“Ek was die Saterdag besig met rehearsals vir The Voice toe [die Kwêla-aanbieder] Vanes-Mari du Toit vir my die advertensie aanstuur wat lui: Francois van Coke has been destroyed!” het Francois, wat een van die beoordelaars op dié M-Net-sangkompetisiereeks is, Donderdag aan Huisgenoot vertel.

Volgens die advertensies waarin hy verskyn, bied hy aan om, nes Naas Botha in dié vals advertensies destyds, mense met kitsroem te help deur onder meer in kubergeldeenhede te belê.

In ’n ander een lei dit na ’n advertensie van ’n sogenaamde reisagentskap.

Scam, scam, scam. Don’t Click!” het hy aanhangers op 17 Junie op sy Facebook gemaan.

“Ek weet baie bekendes soos Karen Zoid, Trevor Noah en Naas het dit al oorgekom . . . Daardie keer toe hulle Karen gebruik het vir die vals gewigsverlies-advertensie,” vertel hy oor hoekom dit nie as ’n skok gekom het nie.

Huisgenoot het in 2017 berig oor Karen en Annelize van der Ryst, oftewel 7de Laan se Matrone, wat briesend oor die bedrieglike uitbuiting was.

Francois het bevestig hy het al op SABC 3 se ontbytprogram Expresso verskyn soos die advertensie beweer, maar vir seker nie omdat hy “vernietig” is nie.

Een van die bedrieglike advertensies
Een van die bedrieglike advertensies

“Ek is heeltemal, oukei. Dankie,” vertel hy tussen ’n besoek aan die bank en ’n vergadering.

“Dit [die vals advertensies] gebeur met baie mense, maar die bummer is dat so baie mense steeds dink dis eg. Baie mense het vir my boodskappe gestuur en daaroor gevra,” vertel Francois. Hy lag en sê dan: “Ja, die mensdom, darem . . .”

“Jy kan dit by Facebook aanmeld, maar eintlik het ek nou maar opgegee. Daar is baie van die advertensies daarbuite,” vertel hy en klink half moedeloos.

Huisgenoot het die vals advertensies onder Facebook se aandag gebring en wag vir terugvoer. In Naas Botha se geval het Facebook die advertensies ondersoek en dit gesluit.