In die fraaiste video op sosiale media vertel Francois se dogtertjie, Alex (3), met ’n verpletterde gesiggie dat sy hartseer is omdat Tasché mooier sing as sy.

Haar ma, Lauren, vra vir haar: “Hoekom is jy nou so hartseer?” En Alex antwoord dan: “Want sy sing mooier as ek.”

In die agtergrond kan jy hoor hoe Tasché sing.

Lauren verseker haar dan dat sy ook baie mooi sing, maar klein Alex laat sak net haar kop moedeloos.

Francois sê Alex het gelukkig darem gou oor die droewigheid gekom.

“Ek dink ek besef nou hoekom ek so gehuil het wanneer Tasché op The Voice gesing het, want ek het besef ek gaan nooit so mooi soos sy kan sing nie,” vertel hy speels.

tasché burger,francois van coke,the voice sa
Tasché Burger en haar afrigter, Francois van Coke, toe sy as wenner aangewys is. Foto: Instagram/@tascheburger

Tasché het verlede jaar die werklikheidsreeks gewen met Francois as haar afrigter.

Francois sê Alex was van kleins af lief daarvoor om te sing en het Twinkle Twinkle Little Star al gesing vandat sy net so bietjie meer as ’n jaar oud was.

“Ek en Lauren luister baie musiek in die huis en ons probeer haar aan allerhande musiek blootstel. Sy doen ook hierdie aanlyn musiekklasse en dan kry sy ’n kans om die dromme lekker hard te donner."

“Op die oomblik is Frozen se musiek massive in ons huis, soos vir alle dogtertjies haar ouderdom."

Francois en Lauren het onlangs foto's gedeel van 'n gesinsuitstappie in die sneeu waar Alex baie trots met haar Frozen-poppe spog.

Haar gunstelingliedjie is "Here Comes the Sun" van The Beatles, sê Francois.

Die rocker en sy vrou, Lauren, het in Mei aangekondig dat hulle binnekort 'n nuwe kleinding in die gesin verwelkom.