Die 51-jarige Friends-akteur en die 29-jarige talentbestuurder het in 2018 begin uitgaan en sewe maande gelede hul verlowing aangekondig.

“Gelukkig is ek op die oomblik saam met die wonderlikste vrou op aarde,” het Matthew toe gesê. Maar nou is dit alles verby.

Foto: Getty Images/ Gallo Images
Matthew Perry van Friends-faam is weer enkellopend. Foto: Getty Images/ Gallo Images

“Soms werk dinge net nie uit nie en dis een van daardie dinge,” het Matthew aan People gesê.

“Ek wens Molly net die beste toe.”

Nuus oor die verbrokkeling van hul verhouding volg net ’n paar weke nadat hy uitgevang is dat hy op Raya, ’n maatsoek-app vir bekendes, met ’n 19-jarige meisie flankeer het.

Kate Haralson (nou 20) het in April ’n kort videogreep gedeel van ’n gesprek toe hy verlede jaar by haar aangelê het.

In die video van 16 sekondes glimlag Matthew en vra sy potensiële maat: “Is ek so oud soos jou pa?”

Matthew se vriende is bekommerd dat die einde van sy verhouding met Molly vir hom rampspoedige gevolge kan hê. Hy het ’n lang en ingewikkelde geskiedenis van dwelmmisbruik, en Molly het hom gehelp om op die regte pad te bly.

Foto: Instagram/@mattyperry4
Foto: Instagram/@mattyperry4

“Molly is ’n prettige, lieflike meisie,” sê ’n bron. “Sy is nie ’n groot partytjiedier nie en het ’n goeie invloed op hom gehad.”

Matthew het kykers onlangs aan die gis gehad toe dit geklink het asof hy sleeptong praat in die Friends-reünieprogram.

Die vervaardigers het gou gesê dis weens tandheelkundige werk wat hy ondergaan het en daar steek niks vreemds daarin nie.

Matthew het deur die jare openlik oor sy probleme in die verlede gepraat en vir People gesê dinge het "handuit geruk en was baie ongesond" nadat hy ná 'n waterponie-ongeluk in 1997 aan die pynstiller Vicodin verslaaf geraak het. 

"Ek was in Friends van 24 tot 34. Ek was in die witwarm vlam van roem. Ons sesstuks was oral die hele tyd. Van ’n buitestander se perspektief het dit gelyk asof ek alles het. Dit was eintlik ’n baie eensame tyd in my lewe omdat ek met alkoholisme gesukkel het."

"Dit het reeds voor Friends gebeur, maar dis ’n toenemende siekte. Ek was nie ’n groot partytjiedier nie. Ek was nie ’n bul-in-’n-glaskas-soort drinker nie."

In Mei 2011 was Matthew vir ’n derde keer in rehabilitasie en ’n woordvoerder het gesê dis om te voorkom dat hy terugval in ou gewoontes, en dat die afgelope paar jare goed gaan met hom. 

Matthew het onlangs by die première van die langverwagte Friends-reünie herenig met sy voormalige mede-sterre.

Jennifer Aniston, Courteney Cox, Lisa Kudrow, Matt LeBlanc en David Schwimmer het almal in die spesiale episode verskyn, wat nou op die stroomdiens Showmax beskikbaar is. Dit was op die oorspronklike klankverhoog in Burbank, Kalifornië, verfilm.

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, MIRROR.CO.UK, PAGESIX.COM, HOLLYWOODREPORTER.COM, TMZ.COM, PEOPLE.COM, EONLINE.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.