Jy moet twee keer kyk voor jy hom as Fynskrif se hiperkorrekte prokureur, Dolf Ungerer, herken. Pleks van ’n pynlik netjies geplakte haarstyl hang Charlton George se blinkswart kuif los oor sy voorkop waar hy in ’n koffiekroeg in Kaapstad sit en koffie drink.

Sy karakter is altyd seepglad geskeer, maar vandag slaan ’n grys gespikkelde stoppelbaard op sy bolip en ken uit. Van Dolf se streng mondjie en baadjie-en-das is daar nie sprake nie.

Maar dan sien jy daardie blou poele van sy oë – en dis gelyk onmiskenbaar Dolf én Charlton, die kykNET-veteraan wat voor sy spel in die gewilde regs­drama ook te sien was in Sarah se geheim, Waterfront en Arendsvlei.

Om met elke nuwe rol wat hy aanpak ’n gedaantewisseling te ondergaan is al vir hom tweede natuur. In sy loopbaan van 37 jaar het Charlton (56) al alles van ’n transgender karakter en ’n polisieman tot ’n dwelmhandelaar vertolk; van “varkies, katte en wolwe tot Franse filosowe”.

Tog was dit nie so maklik om in die blink gepoetste skoene van sy karakter in Fynskrif te klim nie.

“Dolf is seker die moeilikste rol om te vertolk omdat hy so ekstreem is op die spektrum van karakters,” gesels Charlton met sy hande wat saam beduie. Hy moes fyn toneelspeel juis omdat sy karakter se gesig so min van sy innerlike onder­stro­mings verklap.

“Hy het nie veel gesigsuitdrukkings nie – hy wys amper nie emosie nie.”

Die karakter, ’n uiters bekwame en briljante prokureur, is oënskynlik op die outisme-­spektrum.

Om met die perfeksionistiese Dolf te kon identifiseer, het Charlton die gedrag van kantoorwerkers bestudeer, veral dié wat hulle te veel in hul werk inleef. Hy het gelet op hul interaksie met hul werkomgewing, die aktetasse wat hulle dra en hul liggaamstaal.

Toe hy aan die eerste seisoen van die reeks begin werk het, was sy hare nog wynrooi gekleur vir die rol van Ricardo Stuurman, sy transgender karakter in die eenmanvertoning Rokkie.

Dit is verlede jaar op die Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer. Dié karakter het ’n groot aanpassing geverg – nes die groot aanpassing van optree op die verhoog na toneelspeel voor die televisiekameras.

Die transgender Ricardo Stuurman in Rokkie. Foto verskaf
Pastoor in Rooiland (HEEL REGS), hier saam met Wil
Pastoor in Rooiland (HEEL REGS), hier saam met Wilhelm van der Walt. Foto verskaf

“Met televisie kan jy kleiner en intiemer emosies uitbeeld, maar op die verhoog moet jy groot speel – eintlik met jou hele lyf,” verduidelik hy. In sepies, sê hy, “speel jy eintlik ’n variasie van jouself”.

As akteur in karakter het hy hom al binne ’n paar dae aan die regte én verkeerde kant van die gereg bevind. “Eendag is ek onder arres in die selle (in watter reeks kan hy nog nie sê nie), en dan arresteer ek iemand as speurder Karelse in Arendsvlei. Dis ’n bietjie crazy!”

As kind was hy skaam, maar met ’n lewendige verbeelding.

“Ek het baie op my eie in die bosse gespeel en ’n fantasiewêreld ontwikkel. Jy word die held van jou eie verhaal.”

Skielik onthou hy iets wat die akteur Dawid Minnaar, sy medespeler in Sara se geheim, eenmaal vir hom gesê het: “As jy as kind baie op jou eie speel, word jou kreatiewe wêreld gestimuleer . . . Ek kon daarby aanklank vind.”

Grootwordjare

Hy het in Morningstar, Durbanville, grootgeword.

“Toe was dit nog bekend as Newtown, die ‘nuwe dorp’ ná die gedwonge verskuiwing van mense in 1963.”

Sy pa, Edgar, het as eiendomswaardeerder vir ’n bank gewerk en is verlede jaar in die ouderdom van 83 oorlede. Sy ma, Lorraine (84), was destyds ’n biblioteek­assistent.

Vir hom en sy jonger suster, Penelope (51), was hulle sterk ouerfigure wat goeie waardes aan hul kinders oorgedra het.

Die toneelgogga het hom as laerskoolknapie gebyt toe hy aan ’n operette, The Mystic Mirror, aan die Alfa Primêre Skool deelgeneem het. Hy sê Morningstar se gehore het sangers en voordragkunstenaars graag uitgejou, maar hy kon die gehoor laat skaterlag.

Charlton was geen uitblinker in sy skoolwerk nie en was geskok toe die skoolhoof kort ná sy optrede in die operette op ’n saalbyeenkoms sy naam uitroep.

Met ’n knop in sy keel en klam handpalms het die “townshiplaaitie” vorentoe gestap. Toe sê die skoolhoof: “Dié mannetjie, hy doen nie sy huiswerk nie, maar hy’t ’n gawe, ’n talent – en ek hoop net hy sal daarmee aanhou.”

Nadat hy in 1981 aan die Senior Sekondêre Skool Bellville gematrikuleer het, het Charlton ’n jaar lank dramaopleiding by Rita Maas se toneel­skool in Kaapstad ontvang.

Hy het ook by die destydse Glasteater in die Moederstad saam met vandag se groot name in die dramawêreld – mense soos die regisseur Marthinus Basson – gewerk.

Toe het hy ’n passie ontwikkel vir ­gemeenskapsteater in die townships.

“Polities was dinge in so ’n mate gepolariseer dat die townships aan die brand was. Die vertonings het gefokus op maatskaplike kwessies soos die behuisingskrisis in die Wes-Kaap,” onthou hy.

Die jong akteur het in die 1990’s in Johannesburg in die toneelstuk The Police opgetree en toe in die boheemse voorstad Yeoville nesgeskop.

’n Rits rolle voor die televisiekameras het gevolg: Hy was Basil Jafta in die SABC3-sepie Isidingo en was daarna te sien in die kykNET-misdaadreekse Die Byl en Die Boland moorde.

Hy het veral onder kykers se vel geklim as die gesinsman Virgil Cloete in Sara se geheim en die speurder Eugene Karelse in Arendsvlei.

Virgil Cloete in Sara se geheim.
Virgil Cloete in Sara se geheim.

“Mense vat die karakters so persoonlik op. Hulle sal my selfs op straat voorkeer en sê: ‘Nee, dis nie reg van jou nie! Het jy nie die verstand om te sien Beatrice is ’n onskuldige vrou nie?’ ” vertel hy oor sy rol in Arendsvlei, waarin die aktrise Jolene Martin die rol van Beatrice vertolk.

Terwyl party kykers hom voor stok kry oor sy karakters se doen en late, is ander vol waardering.

“Een man het vir my gesê Virgil en sy seun, Aiden, het hom baie oor sy verhouding met sy seun laat dink. Hy was dankbaar dat ons dit uitbeeld, want hy was self vervreem van sy seun.”

Charlton is die pa van ’n 15-jarige dogter, Ruby. Hy en haar ma, sy lewensmaat, Janine Holland (51), is al 20 jaar lank saam en die gesin woon in die Kaapse voorstad Kuilsrivier.

Janine is ’n kleuter­skoolonderwyseres; Charlton sê dit was deels haar liefde vir kinders wat sy hartsnare destyds geroer het.

Sy ma, Lorraine, woon by hulle aan huis, en Charlton is geheg aan haar nes Dolf in Fynskrif geheg is aan Mammie, sy ma wat in die eerste seisoen van die reeks oorlede is.

Sy vrye tyd bring hy die graagste saam met sy gesin deur.

“ ’n Paar jaar gelede was daar baie berg- en seebesoeke, maar met my besige skedule was daar die afgelope ruk nie meer tyd vir al dié dinge nie,” sê hy. “Ek sal beslis daarvoor moet opmaak.”

Hy sal maar die rustiger weke oor die feestyd daarvoor moet inspan, want volgende jaar boer hy weer pal op die kassie: in die derde seisoen van Fynskrif, wat in April begin, en ook van Februarie af in die aanlyn komedie Op en af op Netwerk24.

In dié blitsreeks vertolk Charlton en die aktrise Quanita Adams die rolle van ’n getroude paartjie. Elke episode is net vyf minute lank, en nuwe episodes sal elke weekdag tot in April op Netwerk24 ver­skyn, waar dit deur intekenare gekyk kan word.

Daar’s ook ’n fliek in die vooruitsig, maar daaroor wil hy nog niks verklap nie. Want sy mond sal Charlton net so min verbypraat as wat Fynskrif se eksieperfeksie Dolf ’n voet verkeerd sal sit.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.