Maar pleks daarvan dat Christia Visser op Saterdag 18 April in haar trourok haar bruidegom tegemoetgestap en voor hul vriende en familie aan hom trou beloof het, was sy en haar verloofde, Thomas Webb, daardie dag stil en rustig by die huis.

“Ek moet erken dit was vir my ’n moeilike dag,” sê die aktrise en sangeres oor die troue wat noodgedwonge uitgestel moes word nadat die COVID-19-pandemie al hul planne kom deurmekaar- krap het.

“Ek het heeltyd na die horlosie gekyk en gedink, ek sou nou reggemaak het; ek sou nou by die paadjie afgestap het.”

Die donkerkopvrou met die diepblou oë glimlag waar sy knus in ’n liggeel sweetpaktop sit terwyl ’n storm buite haar en Thomas (29) se huis in Durbanville, Kaapstad, woed.

“Ons het die dag saam deurgebring, ons het saam kos gemaak, en ons was sommer net lief vir mekaar,” vertel Fynskrif se “Toebroodjiemeisie” aan die ander kant van die selfoonskerm.

In dié kykNET-dramareeks waarin Christia (28) nou weer in die laaste seisoen te sien is, vertolk sy die rol van Adele. Haar karakter het ’n klein spysenieringsonderneming en verkoop weeksdae in die etensuur toebroodjies uit ’n mandjie uit wat sy met haar saamdra.

Dit is dié dat ’n ander karakter, Lilanie (gespeel deur Lea Vivier), haar die bynaam Toebroodjiemeisie gegee het.

“Ek kry verskriklik baie mense wat vir my ‘Toebroodjiemeisie’ sê wanneer hulle my sien. En dit is ironies, want ek is glutenintolerant en kan nie toebroodjies eet nie,” sê sy en lag.

In die vorige seisoen van Fynskrif, wat verlede jaar uitgesaai is, het Christia se karakter verloof geraak.

“En dit was weird; dit was kind of life imitating art, want Wian (gespeel deur Edwin van der Walt) het vir Adele gevra om te trou en toe raak ek verloof, soos letterlik die volgende week,” vertel sy oor die “baie spesiale tyd” in haar lewe.

Dit was in April verlede jaar toe haar karakter se verlowingstonele geskiet is en sy en Thomas ook in die werklike lewe verloof geraak het – ewe romanties op die hawemuur op die skilderagtige Wes-Kaapse vissersdorpie Gansbaai.

Christia en haar verloofde, Thomas Webb. Die twee,
Christia en haar verloofde, Thomas Webb. Die twee, wat mekaar reeds op laer­skool ontmoet het, het verlede jaar op die hawemuur op die kusdorpie Gansbaai verloof geraak. Hulle sou in April getrou het. Foto: Instagram/@Christia_Visser

Die ring was skaars aan haar vinger toe hulle aan hul droomdag begin beplan het. Dit sou ’n plattelandse troue op ’n vrugteplaas by Robertson in die Wes-Kaap wees.

“Hoe meer ons aan die troue beplan het, hoe meer het ek uitgesien na daardie groot dag met al my familie en vriende daar,” onthou Christia dromerig.

“Dit was baie erg toe ek besef ons gaan die troue moet uitstel, en dit is eintlik steeds so,” erken sy.

“Ag, dit het gevoel alles was vir niks. Ons kon maar netsowel in die hof gaan trou het. Maar ek weet ook ons is nie die enigstes wat dit oorgekom het nie. Daar is baie mense wat deur dieselfde ding gaan.”

Al weet sy nog nie presies hoe of wanneer hulle wel ná die inperking sal kan afhaak nie, hou sy moed en fokus sy op die donker wolk se silwer rand.

“Ek is eintlik in ’n baie gelukkige posisie, want ek gaan meer as een keer met dieselfde man trou. Sodra ons kan, gaan ons ’n klein troue hê en dan volgende jaar die groot troue.”

Al weet sy nog nie presies hoe of wanneer hulle we
Al weet sy nog nie presies hoe of wanneer hulle wel ná die inperking sal kan afhaak nie, hou sy moed en fokus sy op die donker wolk se silwer rand. Foto: Mia's Photography SA

Intussen kan die veelsydige aktrise uitsien na nog ’n hoogtepunt in haar lewe – haar debuutalbum, Gemaklik verlore, word aan die begin van Augustus uitgereik.

“Ek het nog net een liedjie om op te neem en ’n bietjie afronding aan van die ander liedjies en dan is ons heeltemal klaar,” vertel Christia, wat reeds drie liedjies as enkelsnitte uitgereik het.

Die meeste van die 10 liedjies op die album het sy saam met die vervaardigers daarvan geskryf.

Die produksie is weens die inperking vir ’n kort tydjie tot stilstand geruk, maar dinge is nou weer goed op dreef, sê sy opgewonde.

As kind op Swellendam, ’n prentjiemooi Wes-Kaapse dorp omring deur groen heuwels, was Christia reeds mal oor sing en musiek maak.

“Dit was altyd my droom om te sing. Ek het ’n groot poster van Britney Spears bo my bed gehad toe ek deur daardie fase gegaan het,” onthou sy laggend.

“Ek het elke dag my kamerdeur toegetrek en my musiek kliphard aangesit. Ek het kitaar gespeel en my ouers het vir my destyds ’n hi-fi gekoop,” roep sy die herinnerings op.

Haarborsel in die hand het sy dan voor die spieël gaan staan en haar hart uit gesing.

“Chris de Burgh se ‘Spanish Train’. Ek kan onthou ek het ’n hele performance met kore en alles in my kop uitgewerk.Dan rol ek daar op my vloer rond in my kamer. Maar dit is wat ek wou doen.”

Op nege het sy met sanglesse begin.

“My ouers het toe vir my ’n klankstelsel gekoop met ’n mikrofoon en alles. En ek het minstens vyf keer per week in die huis perform. Ons het daai klankstelsel hard gesit en ons het back tracks laat maak en ek het gesing vir ’n vale.”

Op 10 het sy selfs op Gansbaai by die Fees van die Ganse opgetree. “So daai liefde was nog altyd daar.”

Sy kom uit ’n hegte gesin. Haar ma, Cecile, ’n geoktrooieerde rekenmeester en finansiële bestuurder, en haar pa, Abrie, ’n afgetrede predikant, woon ook nou in Durbanville.

Haar ouer suster, Lucile van Deventer, ’n fotograaf en grafiese ontwerper, woon op ’n plaas naby Robertson.

“Ons praat almal elke dag en probeer mekaar soveel sien as wat ons kan,” vertel Christia. In haar jeugjare het haar ouers haar aan ’n groot verskeidenheid musiek blootgestel, van rock tot klassiek.

‘Ek het heeltyd na die horlosie gekyk en gedink, ek sou nou reggemaak het; ek sou nou by die paadjie afgestap het’

Ook haar liefde vir toneelspel het al in haar skooljare posgevat.

As leerder aan die Hoërskool Stellenbosch het Christia drama as vak gehad.

“Ek het gevoel die twee (sang en toneelspel) gaan saam and I just fell in love with it,” sê Christia, wat al hoofrolle in flieks soos Ballade vir ’n enkeling, Hollywood in my huis, Tess en Alison vertolk het.

Sy het haar toekomstige man as skoolmeisie ontmoet toe hulle saam op Swellendam op laerskool was.

Hul ouers was jare lank huisvriende, maar nadat Thomas se ouers Gauteng toe getrek het, het sy lank geen kontak met hom gehad nie.

’n Paar jaar gelede het hul paaie weer gekruis toe hy Kaapstad toe getrek het waar hy as ratkastegnikus werk.

Sedert die begin van verlede jaar is hulle ’n paartjie en smoorverlief.

“Ek het nooit regtig daaroor gedroom om te trou nie, maar toe Thomas in my lewe kom, was dit ’n no-brainer. Toe wou ek trou,” sê sy.

“Ek het nooit verstaan wat mense bedoel as hulle sê hulle weet net as iemand Die Een is nie. Maar ek het daardie gevoel gekry met Thomas – daai gevoel dat dit goed en reg is.”

‘Daar is ’n verskriklike vrees in my dat ek so hard gewerk het om te kom waar ek is, en dan, dalk met alles wat gebeur, kan dit wees dat die bedryf nie meer dieselfde gaan wees nie’

Al het die coronavirus met hul trouplanne kom inmeng, het die inperking hulle die geleentheid gegee om baie tyd saam deur te bring. Hulle het saam rekenaarspeletjies gespeel en kos gemaak.

“Ons het legkaarte gebou en flieks gekyk en ek het baie aan my album geskryf. Ek het ook baie lang baddens geneem en daarop gefokus om myself te versorg, soos om my naels mooi te maak,” vertel Christia.

Die naaste wat sy tydens die inperking daaraan gekom het om ’n piesangbrood te bak was piesangmuffins.

“Ek het nie die geduld om te bak nie. Ek wil heeltyd die oond oopmaak en dan val al my koeke plat,” sê sy.

Tog was daar tydens die inperking ook al kere dat die angstigheid haar beetgepak het oor die lewe ná die COVID-19-pandemie en al die onsekerhede wat dit vir die vermaakbedryf meebring.

Intussen kan die veelsydige aktrise uitsien na nog
Intussen kan die veelsydige aktrise uitsien na nog ’n hoogtepunt in haar lewe – haar debuutalbum, Gemaklik verlore, word aan die begin van Augustus uitgereik. Foto: Mia's Photography SA

“Daar is ’n verskriklike vrees in my dat ek so hard gewerk het om te kom waar ek is, en dan, dalk met alles wat gebeur, kan dit wees dat die bedryf nie meer dieselfde gaan wees nie,” erken sy.

“Maar ek sal dit eers weet as ons daar kom. ’n Mens is geneig om tydens die lockdown dinge te oordink, maar jy moet jouself ook herinner jy kan net doen wat jy kan doen. Daar sal altyd stiller tye wees en besiger tye, maar dit beteken nie dit is verby nie.”

Al kon sy en Thomas toe nie hul troubeloftes aflê soos hulle gehoop en gedroom het nie, het Christia tog vrede in haar hart. “Nou weet ek ons is hierdeur; ons is bymekaar, deur die lockdown. Ons fight en ons lag en ons is lief vir mekaar en dit is al wat saak maak. “En dit is wat ons gaan hê vir die res van ons lewe.” S